Sunday, December 5, 2010

Papierwerk

Ek is mal oor hierdie tyd van die jaar. Dit voel asof alles en almal gereed maak om ’n bietjie asem te skep, en werksgewys is dinge ook ’n bietjie rustiger. Daarom is dit gewoonlik ook die tyd van die jaar wanneer ek probeer om my lessenaar ’n bietjie uit te sorteer en al die papiere in my lewe onder beheer te kry.

            Ek wil baie graag een van daardie mense wees wat elke oggend agter ’n netjiese lessenaar inskuif. In my geestesoog kan ek al sien hoe ek soggens douvoordag fluks en kreatief wegspring met die dag se skryfwerk, met slegs ’n beker stomende koffie op die glimmende oppervlak waarop my pragtige iMac staan.

Helaas.

Ondanks my heel beste pogings, en my vrou s’n, bly my lessenaar en my kantoor op die rand van chaos wankel. Pas vanoggend het ek weer begin regpak, en toe besluit om die stryd gewonne te gee en eerder hierdie blog-inskrywing te skryf. Op my lessenaar lê op die oomblik onder meer:

* ’n HAT;

* die laaste dankiesê-kaartjies van ons troue wat ons nog nie uitgedeel het nie;

* ’n CNA-Kersfeesbrosjure (Is jy nie ook mal oor al die inkopie-boekies wat hierdie tyd van die jaar in die tydskrifte en koerante is nie?);

* honderde CD’s (wat ek die naweek almal deurgesoek het op soek na foto’s van ons Desember 2008-vakansie);

* oorfone (sodat Elize en die bure se ore gespaar bly terwyl ek die nuwe My Chemical Romance-album luister);

* ’n stapel komplimentêre kopieë van ’n siekefonds-ledetydskrif waarvoor ek skryf;

* en papiere. Hope en hope papiere. Notaboeke. Vierkantige notapapiertjies (rooies, groenes, pienkes en wittes). A4-folio’s. Afvalpapier.

Dis die papiere wat die groot sondebok in my lewe is. Ek dink ek kan met redelike sekerheid sê ’n papierlose samelewing gaan nooit vir my ’n realiteit wees nie. As ek skryf, gebruik ek net my rekenaar. Maar as ek nota’s maak, is dit op papier. Op flentertjies papier. Op veelkleurige notapapier. Op outydse skryfblokke. Agterop fakture en verlofvorms en ander belangrike dokumente wat ek later weer gaan nodig kry. Ek het skynbaar selfs ’n spesiale, hoogs onleesbare, handskrif waarin ek hierdie kriptiese leidrade neerpen.

As ek op hierdie oomblik, sonder om enigsins te krap of te grawe, op my lessenaar rondkyk, sien ek notas soos:

* die lysie van boeke wat ek die vakansie wil lees;

* ’n nota oor sinonieme vir die woord “skavot”;

* ’n nota oor troufoto’s wat nog vergroot moet word;

* ’n rowwe skets om vir ’n illustreerder te beduie wat ek met die tipografie op die voorblad van my nuwe prenteboek in gedagte het;

* ’n nota met die woorde “whale weigh away” (wat nugter weet wat beteken);

* ’n nota oor moontlike titels vir ’n boek wat ek onlangs vertaal het;

* ’n prentjie van ’n monster (wat ek geteken het terwyl ek aan die volgende Kas vol Monsters-boek gewerk het);

* ’n nota wat sê “Bel Ouma”;

* ’n nota oor die volgende Zackie Mostert-boek wat lui: “Beplan dalk weer spookstorie-aand. Sê van plan wat ’n sukses was. Nita sê hulle skuld haar.”

* ’n groen papiertjie met die woorde “vere”, “vlieg”, “lug”, “nes”, “boom”, “hoog/droog”, “tak” en “blare/vere i.p.v. hare” daarop.

Lyk alle skrywers se lessenaars so? Waarskynlik nie. Ek en Elize het nou die aand weer by ’n skrywersvriend gaan kuier, en sy lessenaar is so skoon en netjies dat jy kos daarop kan maak.

Ek is eintlik ’n heel netjiese en georganiseerde mens, maar as dit by hierdie notatjies en prentjies en oorhaastig geskribbelde gedagtes kom, het ek absoluut geen beheer nie. Vanjaar het ek in ’n stadium so verdwaal tussen my aantekeninge vir ’n boek, dat ek vir my ’n glimmende, peperduur witbord gaan koop het waarop jy aantekeninge kan maak. Baie professioneel, met magnete, ’n bordveër en swart, rooi en groen koki’s.

Binne ’n dag was die hele bord vol papiertjies geplak. Dit is sedertdien so taai van die wondergom en kleeflintgom dat jy buitendien nie daarop kan skryf nie.

Want ek het papiertjies nodig.

Dis miskien wat hulle met kreatiewe chaos bedoel.

En nou moet jy my verskoon – ek gaan probeer uitfigure wat ek met die woorde “whale weigh away” bedoel het. 

Thursday, December 2, 2010

Die literêre avonture van Pippie



Pippie, die wêreld se slimste Jack Russell, is vernoem na een van my gunsteling-kinderboekheldinne. Dis daarom geen wonder nie dat Pippie al van jongs af aspirasies gehad het om haar beskeie merk op die literêre toneel te maak. Op bll. 7 en 18 van my boek Troeteldiere: ’n Gids vir beginners gebruik Pippie haar suiwer, onverdunde sjarme en natuurlik kleinhondjie-cutegeit om skaamteloos met die kamera te flirteer.

(Terwyl ek nou hier sit en skryf, het Pippie gou by my kantoor kom inloer om te kyk of ek nog nie klaar is met hierdie blog-inskrywing sodat ons in die parkie kan gaan stap of bal speel nie. Selfs honde met literêre aspirasies moet soms ’n bietjie oefening kry.)

Meer onlangs pryk haar foto ook in my titelverhaal in die kortverhaalbundel Sweef.

Intussen wag Pippie nog geduldig om haarself as karakter in ’n storie verewig te kry, soos Percy Fitzpatrick se dapper Jock of Elizabeth Wasserman se slim Speurhond Willem.

Maar ons onderhandel tans nog oor hoe om die outeursgeld te verdeel.