Thursday, March 3, 2011

Nuwe Stephen King-boek

DAAR'S 'N NUWE STEPHEN KING-ROMAN OP PAD!
So ja.
Ek moes dit net kliphard sê.
Die (baie vreemde) titel is 11/22/63 en dit gaan glo oor 'n onderwyser wat terugreis in tyd om die Kennedy-sluipmoord te probeer verhoed. Volgens die uitgewer is dit om en by 'n whopping 1 000 bladsye lank. Ongelukkig verskyn dit eers November vanjaar, maar dit gee my iets om die res van die jaar na uit te sien. Die afgelope Desembervakansie het ek sy nuwe kortverhaalbundel, Full Dark, No Stars, gelees en dit was fantasties. Ek dink ek het meer na daardie boek uitgesien as wat ek kleintyd na Krismis uitgesien het, net soos ek 'n jaar of wat gelede die dae afgetel het totdat ek Under the Dome in die hande kon kry. (Daai ene het my 'n halwe Desembervakansie besig gehou.) 
Afgesien van een swakkerige verhaal ("Fair Extension) was Full Dark vir my King op sy beste. Twee van die stories, "1922" en "Big Driver", is die soort wat lank by 'n mens bly spook - ek dink nie ek sal ooit weer aan 'n waterput op 'n plaas kan dink sonder om aan daardie rotte te dink nie ...
Ek gee nie om dat baie mense dink King is 'n vrot skrywer nie - die punt is, min skrywers kan doen wat hy doen: onvergeetlike karakters skep en die soort prosa skryf waarvan jy (oukei: ek) net nie genoeg kan kry nie. 
Buitendien, ek dink elke ywerige leser het minstens één skrywer na wie se nuwe boek hy/sy telkens met matelose opwinding uitsien.

No comments:

Post a Comment