Tuesday, May 17, 2011

Word 'n boek op sy baadjie getakseer?





Ek sien nou die dag iemand maak die opmerking dat swak boeke soms goed verkoop omdat hulle in ’n mooi omslag “verpak” word. Dis sekerlik nie ’n heeltemal ongeldige punt nie – ek het self al ’n keer of wat ’n boek gekoop op grond van ’n mooi omslag, net om later te ontdek die inhoud is nie te waffers nie. Ek dink (hoop?) egter so ’n stelling onderskat ook in ’n mate lesers se intelligensie. Die omslagontwerp is darem net een van die elemente wat ’n leser ’n boek laat optel.

            Een van die opwindendste stappe in die boekmaakproses is vir my die dag wanneer jy die eerste keer die omslagontwerp ontvang. Ek kan ure lank na die voorblad van ’n nuwe boek staar. Met die publikasie van Virus het ek die omslagontwerp al maande voor die tyd ontvang, en ek was so beïndruk dat ek dit vir myself op fotopapier by die plaaslike Kodak Express laat druk het, net sodat ek daarna kan staar elke keer as ek van my rekenaar af opkyk.

            Die finale sê oor die omslagontwerp en illustrasies berus nie by jou as skrywer nie, maar by die uitgewery (wat immers daarvoor moet betaal). En dit is nie noodwendig ’n slegte ding nie – uitgewers weet immers veel meer van wat die mark vereis. Afgesien van een of twee uitsonderings, was ek nog altyd baie ingenome met die voorblaaie van my eie boeke. Van my gunstelinge is 13 Spookstories se blink omslag, die Zackie Mostert-boeke se lekker lewendige voorblaaie, die Kas vol Monsters-boeke met Chris Venter se treffende illustrasies, en die baadjie wat Suurlemoen! sedert sy tweede druk aanhet.

            Net soos modes verouder, kan ’n boekomslag ook sy jare begin wys. ’n Hele paar van my boeke het al mettertyd nuwe omslae gekry. In sommige gevalle is die omslag en/of illustrasies nie noodwendig verander omdat dit “oud” begin lyk het nie, maar omdat dit by ’n reeks moet inpas. Tande, byvoorbeeld, het sedert dit in 2002 verskyn het, reeds drie verskillende voorblaaie gehad. Tans word ’n hele rits van my boeke met nuwe voorblaaie en illustrasies herdruk: Borrels en My ouma is ’n rock-ster het reeds nuwe omslae en illustrasies, en nuwe uitgawes van Pasop vir die feetjies, Bertie Blikbrein en Wurms met tamatiesous is ook op pad.

Dit voel of ’n boek sommer nuwe lewe kry as hy ’n nuwe jas aantrek. Ek sien selfs die Harry Potter-boeke het nou ’n nuwe omslagontwerp – myns insiens weliswaar nie ’n verbetering op die oues nie. En die swart Twilight-boeke was onlangs in ’n beperkte uitgawe met wit voorblaaie te koop – nes daardie spesiale uitgawes van PSP’s, Xboxes en Blackberrys wat ’n mens deesdae kan aanskaf.

            ’n Goeie boekomslag is meer as net ’n mooi prentjie met die boek se titel en die skrywer se naam daarop geplak. As jy regtig in boekomslagontwerp belang stel, besoek hierdie great webtuiste: http://bookcoverarchive.com/

No comments:

Post a Comment