Friday, September 16, 2011

Vyf spokerige rympies ...

Nie alles wat 'n mens skryf, is vir publikasie bedoel nie. Op my hardeskyf is byvoorbeeld 'n hele lêer vol kinderrympies wat nie staanplek kon kry in een van my bundels nie of wat ek sommer net vir die pret geskryf het. Hier is 'n paar spokeriges. (Een of twee het nooit die lig gesien nie omdat hulle te grillerig of makaber is ... so wees gewaarsku!)

Grafstene

Hier lê die arme Sarel du Toit.

Mensvreters het hom vir ete genooi.

 

Hier rus die liefdevolle Lientjie du Preez.

’n Luislang het haar ’n drukkie gegee.

 

Hier lê die stomme Maria Mazwai.

Verdrink terwyl almal gedink het sy waai.

 

Hier lê die jong Hendrina Daneel.

Huiswerk het haar morsdood verveel.

 

Hier lê ’n seuntjie, sy naam was Frik.

Hy’t sy vinger in die muurprop gedruk.

 

Hier rus Martina Johanna Marais.

’n Olifant het bo-op haar kom lê.

 

In tere herinnering aan Sara Bermedie

(Daar was rottegif in die hoenderbredie.)

(c) Jaco Jacobs 2011 

Nagwals

O, Bettie,

my Bettie,

kom wals weer met my.

’n Stadige,

statige

wals, ek en jy.

Vergeet

van die donker.

Vergeet

van die maan.

Vergeet

van die grafte

wat daar

eenkant

staan.

Die ritme perfek,

geen noot klink ooit vals nie.

Selfs die dood bring geen einde

aan ons twee se wals nie.

(c) Jaco Jacobs 2011 

Bangmaakgoed

Tokkelossie,

waterslang.

Dié soort goeters maak my bang.

Ek’s bang vir Toorman

en vir spook.

(En vir krokodille ook.)

Antjie Somers,

watervrou.

Kyk hoe rys my hare nou!

Al daai bangmaakgoeters

wat my pla;

al daai bangmaakgoed

moet hulle gedra ...

Anders roep ek nóú my pa!

(c) Jaco Jacobs 2011


Speeltyd

Dis speeltyd, speeltyd!

Klim uit jou bed!

Dis tyd vir die speelgoed

se middernagpret!

 

Ek is die pop

wat in die parkie vergeet is.

Ek is die teddie

wat deur die hond opgevreet is.

 

Ek is jou robotman,

wen my weer op.

My naam is Dolla.

Waar is my kop?

 

Dis speeltyd, speeltyd!

Klim uit jou bed!

Dis tyd vir die speelgoed

se middernagpret!

 

Ek was jou laphond,

onthou jy my?

Ek is die karretjie

wat soos blits kon ry.

 

Ons is die soldaatjies,

jy’t ons weggegooi.

Ons het onsself

weer teruggenooi!

 

Want dis speeltyd, speeltyd!

Klim uit jou bed!

Dis tyd vir die speelgoed

se middernagpret!

 

Al jou stukkende speelgoed

is weer heel.

Hulle is terug en hulle wil

speel, speel, speel!

(c) Jaco Jacobs 2011


Die towerflits

My boetie, Fritz,

het ’n towerflits

wat bangmaakgoed laat verdwyn.

Monsters vlug

as die flits se lig

deur die donker kamer skyn.

(c) Jaco Jacobs 2011

No comments:

Post a Comment