Showing posts with label leeswenke. Show all posts
Showing posts with label leeswenke. Show all posts

Tuesday, February 9, 2016

5 redes waarom kinders versot is op reeksboeke


Byna twee jaar gelede het ek e-pos gekry van ’n ma wat vertel het hoe haar tienjarige seun, wat altyd ’n trae leser was, begin het om die Professor Fungus-boeke te verslind. Twee weke gelede kry ek weer e-pos van dieselfde ma, wat vertel haar seun is intussen met ’n vorm van disleksie gediagnoseer, maar hy is steeds ’n groot Professor Fungus-aanhanger en het onlangs spesiale vermelding in die klas gekry omdat hy so goed lees.
            In die verlede is daar dikwels neergesien op reeksboeke. Dit is beskou as nie “literêr” genoeg nie en daar is selfs beweer dit maak van kinders lui lesers. Deesdae besef baie ouers, onderwysers en bibliotekaresses gelukkig dat ’n lekker boekereeks dikwels die perfekte manier is om ’n huiwerige leser se leeslus te prikkel.
            Maar waarom hou kinders so baie daarvan om ’n reeks boeke te lees waarin dieselfde karakters verskyn?

1. Die karakters voel soos ou vriende. Eintlik is dit geen verrassing nie. Waarom kyk jy graag na jou gunsteling-TV-reeks? Heel moontlik omdat jy daarvan hou om te sien wat die karakters, met wie jy nou al goed vertroud is, in elke episode aanvang. Wanneer ’n leser byvoorbeeld ’n nuwe Zackie Mostert-boek optel, weet hy reeds wie hy tussen die blaaie gaan teëkom – die ondeunde Zackie en sy beste pel, Vincent, die klaerige mevrou Langenhoven van langsaan met haar nare kat, en Anton die skoolboelie wat sy bes probeer om Zackie se lewe te versuur.

2. Jy kan voorspel of jy van die storie gaan hou. Om ’n boek te kies waarvan jy hou, is nie altyd so maklik nie. Is jy al ooit deur ’n mooi voorblad of ’n oulike titel verlei om ’n boek te koop of uit te neem wat later blyk glad nie in jou smaak te val nie? Jong lesers het dieselfde probleem. Reeksboeke maak die keuse vir hulle makliker. As jy ’n Stalmaats-boek of ’n Nova-boek (Fanie Viljoen) of ’n Thomas@-boek (Carina Diedericks) gelees en daarvan gehou het, hoef jy waarskynlik nie te wonder of die res van die reeks in jou smaak gaan val nie.

3. Herhaling is pret. Onthou jy Saartjie se weerbarstige krul? Of Galpil van Trompie-faam wat almal “Ou Perd” genoem het? Of Liewe Heksie se groottoon wat so in die grond geboor het as sy verleë was? Deel van die lekkerte van ’n reeks boeke is om bekende sêgoed of frases of gewoontetjies telkens raak te loop. By Einstein se snor! (Soos professor Fungus sal sê.)

4. Reeksboeke het versamelwaarde. Ek was van kleins af ’n ywerige versamelaar – ek het in verskillende stadiums enige iets van seëls tot Pokémon-skyfies versamel. My reeksboeke het ’n ereplek op my boekrak. Al die Twilights en Harry Potters en Thomas@-boeke op my rak staan mooi langs mekaar, in volgorde – soos dit enige goeie versamelaarsitem betaam. As ek ’n reeks begin aankoop, háát ek dit as die omslagontwerp mettertyd verander of as ek ’n uitgawe kry wat anders lyk as die res – want tipies versamelaar wil ek hê al my boeke moet bymekaar pas.

5. Dit laat jou naels kou. Die navraag wat ek die meeste via my webtuiste en Facebook kry, is: Wanneer verskyn die volgende Stalmaats-boeke? Daar het nou reeds sestien boeke in die reeks verskyn. Elke boek kan afsonderlik gelees word, maar die stories volg ook logies op mekaar, met storielyne waarop algaande voortgebou word. Die aankondiging van die nuwe boeke se titels en die bekendmaking van die omslae op Stalmaats se Facebook-groep word deesdae met groot entoesiasme afgewag. Ek kry selfs boodskappe waarin lesers my probeer oorreed om solank te verklap wat volgende gaan gebeur! (Hou nog net ’n bietjie uit – nommer 17 en 18 verskyn later vanjaar!)


So, daar het jy dit – vyf goeie redes om jou kind aan reeksboeke bekend te stel. En moenie kla as jy binnekort boekwinkel toe moet ry om die res van die reeks aan te skaf nie ...

Wednesday, April 24, 2013

Vyf wenke om jou kind 'n leser te maak


Suid-Afrikaanse kinders sukkel om te lees. Dit blyk duidelik uit ontstellende koerantopskrifte en statistiek die afgelope paar jaar.
Die vermoë om te lees is een van die heel belangrikste sleutels tot jou kind se prestasie op skool. Ongelukkig is die realiteit dat baie skole deesdae beperkinge op tyd, personeel en hulpbronne het – en die mediasentrum en leesperiodes is dikwels van die eerste dinge wat in die slag bly. Ouers kan wondere verrig om die jongklomp lief te maak vir lees, selfs lank voordat hulle die skoolbanke aandurf.
Probeer hierdie vyf wenke om jou kind ’n boekevraat te maak.

1. Laat jou kind self boeke kies
Nie alle volwassenes verkies dieselfde soort boeke nie – en net so verskil kinders se leessmaak. Let op na watter soort boeke jou kleuter geniet, en moenie kla as jy dieselfde storie oor en oor moet lees of ’n aktiwiteitsboek honderde maal moet deurblaai nie. Jou kind is immers besig om sy/haar leessmaak te ontwikkel. Gee kinders van kleins af die geleentheid om self te kies watter boeke hulle as verjaardag- of Kersgeskenke wil ontvang deur hulle byvoorbeeld saam te neem boekwinkel toe, ’n boekwinkel-geskenkbewys te koop of hulle te vra om hul voorkeure in ’n bestelgids soos hierdie aan te dui.

2. Moenie ’n boeksnob wees nie
Ouers kla soms as kinders in ’n sekere genre “vashaak”. As jou kind op die oomblik grilstories, speurverhale of reeksboeke verslind, wees dankbaar dat hy/sy lees en moet onder geen omstandighede neerhalend daarna verwys nie. Baie kinders “ontgroei” ’n sekere genre en begin iets anders lees. Ander bly hul lewe lank byvoorbeeld aanhangers van rillers. In albei gevalle wen jy, want lees is die beste manier om jou kind se leesbegrip, konsentrasie en taalvermoë te ontwikkel.

3. Word betrokke
Wys jy stel belang in die boeke wat jou kind lees. Lees self die soort boeke waarvan jou kind of tiener hou – dit kan ’n lekker gespreksonderwerp word en jy sal dalk verras wees om te sien hoeveel pret jy in die proses het! Probeer uitvind van watter skrywers of illustreerders se werk jou kind hou, en kry nog van hierdie gunstelinge se boeke in die hande.

4. Stel ’n voorbeeld
’n Kind wat grootword in ’n huis met ’n boekrak en waar Ma of Pa dikwels lees (selfs al is dit koerante of tydskrifte), word van kleins af vertroud met die idee dat boeke ’n aangename, ontspannende aktiwiteit kan wees.

5. Leer én speel
Ouers en onderwysers wys kinders dikwels daarop dat boeke jou slim maak, jou kan help met jou skoolwerk en propvol kennis is. In die proses kan jy egter onbedoeld ’n negatiewe konnotasie kweek. Kinders hou van speel en pret hê, daarom is dit belangrik om hulle van ’n jong ouderdom te wys dat boeke pret kan wees – anders gaan die Xbox, PlayStation en rekenaarspeletjies wen. Boeke moenie net deel wees van die sleur van skool, huiswerk en take nie – dit behoort ook lekker vermaak vir ledige ure te wees. Dit is waarom soveel Afrikaanse kinderboeke deesdae fokus op humor, pret en avontuur. Kyk maar net na die titels en temas van ’n paar van die boeke wat op winkelrakke en op uitgewers se webtuistes beskikbaar is!