Showing posts with label skryfraad. Show all posts
Showing posts with label skryfraad. Show all posts

Tuesday, September 6, 2016

VYF VRAE AAN JAN VERMEULEN



 1. Jy was lank stil nadat jou veelbekroonde jeugroman Geraamtes dra nie klere nie in 2000 verskyn het – en toe kom jy laas jaar asof uit die bloute en wen LAPA se jeugromankompetisie met Asem. Waarom die lang skryfstilte?

In die tyd het ek nie ophou skryf nie. Ek het gereeld probeerslae vir jeugromanwedstryde en selfs vir die Groot Romanwedstryd ingestuur. Maar telkens die “jammer ons het nie goeie nuus vir jou nie”-briefie van die uitgewers gekry. In dieselfde tyd het ’n klomp omwentelinge in my lewe bygedra tot ’n skrywersbyl wat stomp geraak het. Maar die liefde het weer alles nuut geslyp. Kom ons glo die volgende boek sal nie ook vyftien jaar vat om op die rakke te staan nie.

2. Asem takel moeilike kwessies soos mishandeling en dwelmmisbruik kaalvuis. Was dit vir jou moeilik om hieroor te skryf?

In Asem skryf ek nie oor persoonlike aan-die-eie-lyf-ervaringe nie. In daardie sin was dit nie moeilik om daaroor te skryf nie. Ek het nooit soos my ouer broers met ’n beddegoed-belt pak gekry nie. Ek het dit net dikwels aanskou. My pa was my genadig, want ek was die baba in die huis en seker te klein vir die belt. Buitendien was die oorkoepelende atmosfeer in ons huis sorgsaam en liefdevol, selfs toe my kwaai pa nog geleef het. Maar nie alle “babas” in ons families en samelewing is so gelukkig nie. En om daaroor te skryf is nie altyd maklik nie.

3. Het jy die boek spesifiek vir die jeugromanwedstryd geskryf, of het jy reeds aan die idee gewerk toe jy van die kompetisie te hore kom?

Asem was basies klaar geskryf (met ’n ander naam). Maar toe my dogter my van LAPA se wedstryd vertel, begin die groot geskaaf. Nuwe navorsing. Karakters wat meer groei. Nuwe kinkels. Nuwe intriges. Nuwe motiewe. Lanklaas het ek so hard in ’n kort tyd gewerk om ’n boek genoeg woema te gee om dit vir ’n jeugromanwedstryd te kan inskryf.

4. Wat was vir jou die moeilikste deel van die skryfproses met Asem?

Soos met Asem, is die skryfproses self vir my altyd ’n groot lekkerte, navorsing en herskryf ingesluit. Dit is die spanningsvolle wag vanaf die oomblik wanneer ek die manuskrip oor die Poskantoor se toonbank stoot tot die klaar-boek in my hand rus (indien wel) wat erg is.

5. Wat is die beste skryfraad wat jy ooit gekry het?

Gee nooit jou onvoltooide werk of ’n manuskrip wat afgekeur is sommer vir enige een om te lees nie. Enige negatiewe kritiek of selfs goedbedoelde opmerkings kan op daardie stadium verwar of vals hoop gee. Loop maar die alleenpad van skryf en herskryf (soms met die raad van keurders en kenners). Mens haal tog nie ’n ongebore baba uit die baarmoeder, wys hom vir vriende en familie en sit hom weer terug dat hy verder kan groei nie. Ná die suksesvolle geboorte kan almal die nuweling na hartelus geniet of uitmekaar beoordeel. Dit het Johann Jordaan my veertig jaar gelede geleer toe ek vroeg in die hoërskool sy korrespondensieskryfkursus, Kortpad na Knap Kortverhale, gedoen het.

Thursday, August 18, 2016

VYF VRAE AAN FANIE VILJOEN



1. Kaptein Verdwyn is die nuutste in ’n hele rits boeke wat reeds uit jou pen verskyn het. Maak die verskyning van ’n nuwe boek jou steeds opgewonde?
Ja, dis altyd lekker om ’n nuwe boekbaba in die hande te hou. Wat lesers nie weet nie, is dat alles wat ’n mens skryf nie altyd boeke word nie, daarom is elke boek ’n groot genade.

2. Kan jy onthou wat die vonk/inspirasie was waaruit die storie ontstaan het?
Om onsigbaar te wees het my nog altyd gefassineer. Ek het selfs iewers nog ’n koerantuitknipsel wat verduidelik hoe die weermag daarmee eksperimenteer. Ek het die idee gebruik en dit saamgevoeg met selfoon-apps wat kinders vandag ken. 

3. Noem drie dinge wat jy sou doen as jy ’n dag lank onsigbaar kon word.
Ek sal in mense se huise gaan “spook” speel, inglip by die fliek en skoolboelies se ore frommel.

4. Hoe verloop jou dag? Het jy ’n vaste skryfroetine?
Ek lees soggens die koerant aanlyn, drink koffie en begin dan skryf. Facebook bied afleiding. Namiddag sal ek dalk aan ander skryfwerk aandag gee, soos die skryf van artikels vir die Hoezit!-webblad, e-pos antwoord of admin doen. Ek probeer ook om meer gereeld te skilder. Teen laatmiddag gaan ek gym toe. Ek is teen tienuur al in die bed met ’n boek.

5. Wat is die heel beste skryfraad wat jy ooit gekry het?
Gaan sit net op jou boude en begin skryf.

Besoek gerus Fanie se webtuiste: www.fanieviljoen.co.za