Showing posts with label lapa. Show all posts
Showing posts with label lapa. Show all posts

Wednesday, August 16, 2017

VYF VRAE AAN JOHANN STRAUSS


1. Dis nogal ’n uitdaging om biografiese inligting oor jou op die internet op te spoor – waarskynlik omdat Google duisende bladsye oor jou naamgenote, die bekende komponiste, het! Vertel my ’n bietjie meer oor jouself.

Jy's reg, my naamgenote het nogal aansienlik meer as ek bereik ... dankie vir die herinnering, Jaco. Dankie.
My oorsprongstorie sluit ongelukkig nie iets interessants soos Krypton of ’n spinnekopbyt in nie, maar bloot ’n klein dorpie in die Vrystaat genaamd Virginia. Dis een van daardie dorpies waar die tannies in die straat nog bymekaargekom het om te skinder oor die tannies aan die ander kant van die straat en al wat hulle saambring, is om te kla oor die straatlig wat al vir meer as ’n week uit is. Dinge lyk vandag natuurlik baie anders as die dae toe ek daar grootgeword het, maar ek sal altyd lief bly vir die klein dorpie. As dit nie vir die groot hoeveelheid “niks” was wat gereeld daar gebeur het nie, sou ek nie vandag so tuis gevoel het in ’n beroep waar die grootste avonture in ons verbeelding plaasvind nie. (En in daardie verbeeldingswêreld is ek net so suksesvol as my naamgenote ... Weer eens: Dankie, Jaco. *Klap tong*)
Toe ek klaar was met hoërskool het my pa ’n Chomp by ons voordeur gelos, en toe ek uitgaan om dit op te tel, hoor ek die voordeur toeslaan en sluit agter my, en daar vind ek myself grafiese ontwerp swot by die techikon hier in Pretoria. ’n Dorpie waar ek tot vandag toe woon, want ek is lui en ry nie graag nie.


2. Het jy altyd ’n passie vir kinderboekillustrasies gehad, of hoe het jy in die bedryf beland?

Ek het eintlik ’n passie gehad om ’n space cowboy te word, maar ongelukkig beweeg die tyd nie met my verwagtinge nie. My passie vir illustrasie lê wel by baie dissiplines. Van konsepkuns tot ou tradisionele skilderye. Hoe ek in die kinderboekillustrasiebedryf beland het (’n woord wat ek nie graag tik nie, want my vingers kramp nou), was bloot per toeval. Terwyl ek grafiese ontwerp geswot het (*sien asseblief die traumatiese Chomp-voorval van vraag 1), is ek in my derde jaar deur ’n uitgewery, Fantasi, genader, en oom Frans wat daar werk, het my baie mooi gevra om vir hom te gaan prentjies teken nadat ek klaar geswot het. Ek hou mos van prentjies en kon nie wag nie en het toe sommer in die tweede helfte van my derde jaar al vir hulle begin illustreer. Toe my swottings klaar was, het ek voltyds by Fantasi begin werk as hoofillustreerder en deeltyds vir advertensie-agentskappe. Ja, sommer vir al twee in die begin. Ek slaap dus min en worry baie.
Vandag werk ek voltyds vir myself. Dis die boosaardigste baas wat ek nog teëgekom het. Sy asem stink soos sterk koffie en peanut butter-broodjies.

3. Vertel my ’n bietjie hoe jou kreatiewe proses werk wanneer jy ’n teks van ’n uitgewer ontvang om te illustreer.

Gewoonlik probeer ek die manuskrip lees soos wat (ek dink) die skrywer dit wou gehad het. In een sitting. Aan die einde van elke hoofstuk (sou die manuskrip so opgebreek word) sal ek vinnig die toneel teken wat meeste by my gebly het en dan onmiddellik verder lees. Dit lei gewoonlik daartoe dat ek óf klein detail uitlos, óf detail bysit soos wat ek die storie vir myself visueel vertel – en dit lei tot baie uitgewers wat ou partytjiewoorde uitgrou en na my kant toe gooi, want hulle dink ek gee nie aandag nie.
Nadat ek die manuskrip klaar gelees het, gaan ek terug en probeer sin maak van al die skrabbels, en herleef weer die storie soos wat ek weer alles in detail oorteken. Dit lei meestal tot meer detail wat uitgelos of bygesit word – en dan sal iemand soos Miemie van LAPA vir my vra hoekom die drie varkies nou op meganiese dinosourusse ry en AK’s in albei hande het.

4. Mense vra dikwels vir skrywers: “Wat inspireer jou?” Ek wou dieselfde vraag nog altyd vir ’n kinderboekillustreerder vra. So …?

Goeie stories van goeie skrywers, (#JacoJacobs) en mense wat baie meer suksesvol as ek is, soos die ander Johann Strauss ... van wie ek aanhoudend hoor. (#klaptong)
Dis eintlik verskillende dinge op verskillende tye. Ek sien dalk ’n vreemde klipformasie op vakansie en dit kan my verbeelding na ’n cool draak-konsepskets stuur wat ek net móét teken (al gooi ek dit weg sodra dit klaar is) of na meer obvious goed soos ’n nuwe styl wat ek raakgegoogle het. Klein goedjies kan lei tot ’n boek vol idees, hang net af in watter headspace ek is ... en daar is baie space in my head. Wag ... dit het nie reg uitgekom nie.

5. Wys vir my een illustrasie uit jou kinderboek-oeuvre waarop jy besonder trots is of wat vir jou uitstaan, en vertel my waarom jy daardie spesifieke een gekies het.


Die stuk wat dadelik by my opkom, is ’n dubbelblad van die eerste kinderboek waarin ek totale kreatiewe vryheid gehad het. Dit is ’n dubbelbladuitleg uit een van die eerste vier boeke in die Droombos-reeks (uitgegee deur Fantasi). Ek noem die eerste vier, want toe was daar nog redelik tyd om genoeg aandag aan alles te gee. Nog ’n rede hoekom ek van die stuk hou, is omdat dit alles met tradisionele mediums gemaak is. Vandag werk ek 90% digitaal – soos Arnold Schwarzenegger in Terminator. Net met ’n Afrikaanse aksent.

Tuesday, September 6, 2016

VYF VRAE AAN JAN VERMEULEN



 1. Jy was lank stil nadat jou veelbekroonde jeugroman Geraamtes dra nie klere nie in 2000 verskyn het – en toe kom jy laas jaar asof uit die bloute en wen LAPA se jeugromankompetisie met Asem. Waarom die lang skryfstilte?

In die tyd het ek nie ophou skryf nie. Ek het gereeld probeerslae vir jeugromanwedstryde en selfs vir die Groot Romanwedstryd ingestuur. Maar telkens die “jammer ons het nie goeie nuus vir jou nie”-briefie van die uitgewers gekry. In dieselfde tyd het ’n klomp omwentelinge in my lewe bygedra tot ’n skrywersbyl wat stomp geraak het. Maar die liefde het weer alles nuut geslyp. Kom ons glo die volgende boek sal nie ook vyftien jaar vat om op die rakke te staan nie.

2. Asem takel moeilike kwessies soos mishandeling en dwelmmisbruik kaalvuis. Was dit vir jou moeilik om hieroor te skryf?

In Asem skryf ek nie oor persoonlike aan-die-eie-lyf-ervaringe nie. In daardie sin was dit nie moeilik om daaroor te skryf nie. Ek het nooit soos my ouer broers met ’n beddegoed-belt pak gekry nie. Ek het dit net dikwels aanskou. My pa was my genadig, want ek was die baba in die huis en seker te klein vir die belt. Buitendien was die oorkoepelende atmosfeer in ons huis sorgsaam en liefdevol, selfs toe my kwaai pa nog geleef het. Maar nie alle “babas” in ons families en samelewing is so gelukkig nie. En om daaroor te skryf is nie altyd maklik nie.

3. Het jy die boek spesifiek vir die jeugromanwedstryd geskryf, of het jy reeds aan die idee gewerk toe jy van die kompetisie te hore kom?

Asem was basies klaar geskryf (met ’n ander naam). Maar toe my dogter my van LAPA se wedstryd vertel, begin die groot geskaaf. Nuwe navorsing. Karakters wat meer groei. Nuwe kinkels. Nuwe intriges. Nuwe motiewe. Lanklaas het ek so hard in ’n kort tyd gewerk om ’n boek genoeg woema te gee om dit vir ’n jeugromanwedstryd te kan inskryf.

4. Wat was vir jou die moeilikste deel van die skryfproses met Asem?

Soos met Asem, is die skryfproses self vir my altyd ’n groot lekkerte, navorsing en herskryf ingesluit. Dit is die spanningsvolle wag vanaf die oomblik wanneer ek die manuskrip oor die Poskantoor se toonbank stoot tot die klaar-boek in my hand rus (indien wel) wat erg is.

5. Wat is die beste skryfraad wat jy ooit gekry het?

Gee nooit jou onvoltooide werk of ’n manuskrip wat afgekeur is sommer vir enige een om te lees nie. Enige negatiewe kritiek of selfs goedbedoelde opmerkings kan op daardie stadium verwar of vals hoop gee. Loop maar die alleenpad van skryf en herskryf (soms met die raad van keurders en kenners). Mens haal tog nie ’n ongebore baba uit die baarmoeder, wys hom vir vriende en familie en sit hom weer terug dat hy verder kan groei nie. Ná die suksesvolle geboorte kan almal die nuweling na hartelus geniet of uitmekaar beoordeel. Dit het Johann Jordaan my veertig jaar gelede geleer toe ek vroeg in die hoërskool sy korrespondensieskryfkursus, Kortpad na Knap Kortverhale, gedoen het.