Showing posts with label eisteddfod. Show all posts
Showing posts with label eisteddfod. Show all posts

Monday, January 30, 2017

IS DIE KOS AL AMPER KLAAR?


WAT NOEM JY …?


ONTTREKKINGSIMPTOME

Van als wat ek al ooit in my lewe geskryf het, geniet ek kinderrympies waarskynlik die meeste. Dis kort en kragtig, en dit verg tonne energie en kreatiwiteit.
Ek dink nie ek het al ooit so hard aan ’n projek gewerk soos aan Moenie hierdie boek eet nie! ’n Rympie vir elke dag van die jaar nie. Dit het bloedsweet gekos om 366 rympies te skryf (ja, daar is een vir 'n skrikkeljaar ook), maar dit was ook hope pret. En noudat die boek op die rakke is (VOEG VROLIKE ADVERTENSIEKLINGEL HIER IN!), ly ek so ’n bietjie aan onttrekkingsimptome.
Sedert die manuskrip weg is na my uitgewer toe, het ek nog nie weer veel nuwe rympies geskryf nie. Maar ek het besluit om die volgende paar dae sommer vir die pret so drie ongepubliseerde rympies hier op my blog te plaas.

So, deel gerus die rympies met jou vriende of kinders, share dit op Facebook, gebruik dit vir eisteddfods (als met die nodige erkenning aan die rympiemaker/kopiereghouer, asseblief!) – en laat weet gerus wat jy daarvan dink!

Tuesday, November 1, 2016

MOENIE HIERDIE BOEK EET NIE!


Ek is al van kleins af mal oor rympies. Tot vandag toe onthou ek nog die rympies waarmee my oupas en oumas ons kleintyd vermaak het.
My onnutsige oupa aan my pa se kant, wie se name ek dra, het graag vir ons rympies vol onhebbelike woorde geleer, wat ons dan in lekker moeilikheid laat beland het as ons dit later ewe niksvermoedend vir Ma en Pa voorgedra het.
My ouma aan my ma se kant is tot vandag toe ’n skatkis van ou kleuterrympies, en sy het dit kleintyd altyd graag met ons gedeel.
         Dit is dalk een van die redes waarom ek ’n paar jaar gelede begin kinderrympies skryf het. Ek is versot op die ritme en rym en lawwigheid wat uit ’n lekker kindervers borrel.
Oor die jare het ek ’n paar bundels die lig laat sien: Wurms met tamatiesous, Oempakadoempa, ’n Brulpadda in my tas, My boetie dink hy’s Batman, Holderstebolder, Kougom in my hare en Op die punt van my tong.
         Dit is deesdae vir my ’n reuse-lekkerte om vir my eie kinders rympies voor te lees - en te hoor hoe dit hulle inspireer om op hul beurt self te begin rympies opmaak! ’n Paar jaar gelede het ek gewonder: Sou dit moontlik wees om ’n boek te skryf met ’n rympie vir elke dag van die jaar?
         Dit sal ’n enorme uitdaging wees, dit het ek uit die staanspoor besef. Nie net omdat dit sou beteken ek moet met 365 splinternuwe rympies (en een vir ’n skrikkeljaar) vorendag kom nie, maar ook omdat so ’n boek nogal dik sou wees – en duur om te publiseer.
Ek het ’n jaar of wat met die idee rondgeloop voordat ek dit gewaag het om die voorstel aan my uitgewer te opper. Tot my verbasing was sy dadelik opgewonde oor die idee.
         En so het die groot werk begin.
         Hoe op dees aarde skryf ’n mens 366 kinderrympies?
         Een geluk was dat ek met hierdie uitdaging weggetrek het op ’n tydstip toe ek weer ernstig begin draf het. So, ek het dit elke oggend deel van my drafroetine gemaak: Gaan draf tien of vyftien kilometer en probeer met ten minste drie of vier idees vir nuwe rympies by die huis aankom.
         Die paar maande waarin ek aan daardie rympies gewerk het, was van die lekkerste en kreatiefste skryftye wat ek ooit beleef het. (En as bonus het ek heelwat fikser geword!) Op my drafroete rondom Naval Hill hier in Bloemfontein het ek oorgenoeg tyd gehad om met lawwe idees rond te speel ...
  • Wat gebeur met woorde wat niemand meer ken nie (hoort hulle nog in die woordeboek of is daar iewers ’n aftreeoord vir woorde)?
  • Hoekom is daar so min rympies oor erdvarke?
  • Wat sal gebeur as daar ’n haai in die skool se swembad beland – of as een van jou klasmaats op ’n dag op ’n grassnyer skool toe ry?
  • Hoe vang mens ’n haas?
  • Wat beteken die woord “boemtjakketjak”?
  • Kan jy ’n rympie lees terwyl jy op jou kop staan?
  • Wat sal gebeur as jou oupa ’n troetelkrokodil aanskaf?
  • Hoekom dra bere nie klere nie?
  • Wat kruip alles in jou oom se wilde, woeste baard (en in jou naeltjie!) weg?
  • Wat sal gebeur as ’n sebra weier om die sebraoorgang te gebruik?
         Daar was limerieke, haikoes, tongknopers, ’n touspringrympie, vormgedigte. Rympies oor Kersfees, Paasfees, die seisoene, skrikkeldag, Valentynsdag (en, les bes, erdvarke!).
Ek weet nie of ek al ooit tevore so lank of hard aan ’n projek gewerk het nie. Die eindresultaat was ’n manuskrip wat ’n hele dikke lêer volgelê het.
         My uitgewer het een van my gunsteling-illustreerders, Zinelda McDonald, oorreed om die illustrasies te doen – iets wat op sig self ’n enorme taak moes wees. 
         En die eindresultaat het pas verskyn: ’n stewige, kraakvars hardebandboek van 312 bladsye met die allermooiste omslag en illustrasies waarop ek eindeloos trots is.
Die titel is Moenie hierdie boek eet nie! ’n Rympie vir elke dag van die jaar
En ek beplan om volgende jaar dag vir dag weer saam met my kinders die pret te herleef wat ek met die skryf van hierdie rympieboek gehad het.



Thursday, August 6, 2015

Waarom ek nie vir jou ’n rympie kan (of gaan) e-pos nie


Dis eisteddfod-seisoen.
Ek weet elke jaar wanneer dit kunswedstryd-tyd is, want skielik begin die e-posse instroom.
’n Paar desperate ma’s, pa’s, onderwysers of drama-onnies wil dikwels weet of ek nie asseblief voorstelle vir gepaste prosastukke of gedigte het nie. Ek weet hoe ’n tameletjie dit is om geskikte materiaal in die hande te kry – iets wat hopelik die beoordelaars gaan beïndruk, maar wat darem ook vir ’n kind pret gaan wees om voor te dra – daarom probeer ek altyd my bes om ’n paar voorstelle te maak, hoewel ek nie regtig ’n kenner is en weet presies wat van die deelnemers vereis word nie.
Skynbaar word van my rympies gereeld by eidsteddfods voorgedra, want daar is ook altyd ’n paar ma’s of pa’s wat vra of ek nie asseblief bereid is om spesiaal vir hul spruite ’n rympie te skryf wat nog nie elders verskyn het nie. Hoewel ek besef so ’n uitnodiging is ’n groot kompliment en dit regtig waardeer, wys ek hierdie soort versoeke egter ook altyd van die hand. My program is deesdae so vol dat ek ongelukkig nie tyd het om tussendeur die sperdatums sulke rympies-op-versoek te skryf nie.
Die derde soort e-pos wat ek kry, is van ouers wat wil weet of ek asseblief gou “daardie rympie oor die monstermeisie” of “die ene oor die boetie wat ’n alien is” vir hulle per e-pos sal aanstuur. Die bladsy wat die juffrou vir Boetie of Sussie afgerol het, het die afgelope vakansie voete gekry, die hond het dit opgeëet of dit het per abuis onder ’n weghol-stootskraper beland.
Nou hier begin ek lelik op my tande kners.
Verstaan my mooi, dis vir my ’n wonderlike gedagte om te dink kinders dra my skryfwerk by eisteddfods voor, doen hope moeite daarmee, en geniet dit hopelik. Maar as jy vir my ’n e-pos stuur om te vra ek moet vir jou ’n rympie uit een van my boeke aanstuur, is dit, bewustelik of onbewustelik, ’n hengse klap in my gesig, en in my uitgewer s’n.
Kom ek verduidelik waarom.
As ’n kind (of sy/haar drama-afrigter) een van my rympies kies om voor te dra, beteken dit hopelik die rympie verskaf hom/haar plesier en dat dit ’n prettige ervaring is. Dis vir my net soveel pret om dit te skryf.
Daardie paar versreëls kom egter ’n lang pad.
Om rympies te skryf verg tyd. Baie tyd. Teen die tyd dat ’n bundel rympies hopelik publiseerbaar is, beteken dit ek het dae, weke, maande daaraan bestee om met al die idees vorendag te kom, en elke woord sorgvuldig te kies; dit beteken ek het elke versreël oor en oor hardop gelees om seker te maak dit gaan maklik op die tong en op die oor val wanneer jou kind dit moet voordra. Ek het verskriklik, verskriklik baie respek vir kinders, en wanneer ek vir hulle skryf, probeer ek dit so goed doen as wat ek kan.
En dis maar net die eerste stap in die proses.
Daarna gaan die manuskrip na my uitgewer.
Om ’n dokument met rympies in ’n mooi boek soos Wurms met tamatiesous, My boetie dink hy’s Batman of Op die punt van my tong te omskep, verg baie geld en tyd van ’n uitgewery.
Kortliks: ’n Keurder moet aangestel word om die rympies te lees, te besluit of dit die moeite werd is om te publiseer, en om voorstelle oor die nodige skaafwerk te maak. ’n Illustreerder moet betaal word om die rympies te illustreer. Dit kos duisende rand en nóg baie, baie ure se werk. Wanneer die illustrasies afgehandel is, doen ’n uitlegkunstenaar die bladuitleg en omslagontwerp. Daarna takel ’n redigeerder die teks, om te sorg dat taalgoggas en tikfoute uitgeskakel word. Wanneer die bladproewe behoorlik nagegaan is, kan die boek drukker toe gaan. ’n Drukoplaag kos die uitgewery nog ’n hele paar duisend rand. Daarna moet bemarking en verspreiding gedoen word. Nog duisende rande. En dan eers kan die boek verkoop word.
Skrywers hou nie juis daarvan om oor geldsake te praat nie, maar kom ons doen gou so rofweg die somme: As jy R76 vir my rympiebundel Kougom in my hare op Takealot.com betaal, beteken dit die uitgewery het reeds tussen 30% en 40% afslag op die verkoopprys toegestaan. Op die geld wat die uitgewery ontvang, verdien die skrywer sowat 12% outeursgeld. Wiskunde was nog nooit my sterk punt nie, maar dit beteken ek ontvang so tussen R5 en R6 vir daardie boek wat jy gekoop het. Die spesifieke boek bevat 49 rympies, wat beteken ek verdien ongeveer 10c tot 12c per rympie wanneer jy my boek koop.
En dan vra mense steeds waarom daar so min Afrikaanse kinderrympieboeke gepubliseer word.
Ek gaan jou die jeremiade spaar van ek-het-ook-’n-gesin-wat-versorg-moet-word-en-rekeninge-wat-betaal-moet-word. Maar daardie R76 wat die boek jou uit die sak gaan jaag, is die enigste manier hoe ek kan aanhou om rympies te skryf. Dit is ook die enigste manier hoe my uitgewer kan aanhou om rympieboeke te publiseer. 
Nou vra ek jou mooi: As jou kind ’n rympie kies om by die eisteddfod voor te dra, oorweeg dit GROOT asseblief om eerder die boek te koop as om dit bloot te laat afrol. En begryp asseblief waarom ek regtig, regtig nie vir jou ’n kopie van die rympie per e-pos kan aanstuur nie. Dit beteken ek oortree self die kopieregwaarskuwing voorin my eie boek. As jy dringend die rympie nodig het, koop die boek in e-formaat – jy kan dit binne sekondes aflaai nadat jy daarvoor betaal het.
En wanneer jy trots glimlag oor daardie A++-simbool of goue sertifikaat, hou ’n oomblik van stilte en dink aan die versiemaker wat tussen 10c en 12c met daardie rympie verdien het. Dis nou te sê as die juffrou dit nie sommer afgerol het nie ...


Jaco Jacobs se nuutste rympieboek is 'n bundel tongknopers, "Op die punt van my tong". Hier is 'n voorsmakie.






Friday, August 19, 2011

Gedigte vir eisteddfods




Dis duidelik weer eisteddfod-tyd! Ek word die afgelope paar dae oorval deur ouers wat wil weet of ek asseblief vir hulle spesifieke gedigte per e-pos kan aanstuur sodat hul kinders dit kan voordra.

Ongelukkig kan ek dit nie doen nie. Daardie deel voorin ’n boek waarin daar staan geen gedeelte van die publikasie mag gekopieer of op enige manier gereproduseer word sonde die skriftelike verlof van die uitgewers nie, is ook op die skrywer van toepassing. As ek e-poskopieë aanstuur, sny ek nie net my eie keel af nie, maar ook dié van die uitgewer wat duisende en duisende rand daarin belê om my gedigte in die eerste plek gepubliseer te kry sodat kinders dit kan lees en dit beskikbaar is vir gebruik by plekke soos kunswedstryde. Die enigste manier hoe ek (en ander skrywers) kan voortgaan om Afrikaanse kinderverse en kinderboeke te skryf, is as mense die boeke koop.

Om dit makliker te maak, hiermee die lys van gedige wat in my drie bekendste bundels verskyn. Al drie boeke is beskikbaar by boekwinkels of direk van LAPA Uitgewers, tel. (012) 401 0700 of www.lapa.co.za. Indien jy die boek baie dringend benodig, kan jy met LAPA probeer reël dat hulle dit (teen ekstra koste) vir jou spoedpos stuur. Ek maak telkens ’n asterisk (*) by die titels van die rympies wat ek weet gewild is by eisteddfods, of wat na my mening lekker daarvoor kan werk.

 

Wurms met tamatiesous en ander lawwe rympies

My boetie is ’n alien*

Skottelgoed is gevaarlik*

Woordeboek

My rekenaar is olik

Meerkat*

Vraagteken*

Vollemaandag*

Die Goeie Vee*

Hompie Kedompie

Mary het ’n lammetjie

Slaap, kindjie, slaap

Haaie

Hoe smaak die see?*

Die aarde is rond soos ’n piesang

Tekkies

Drake hou van suigstokkies

Spoke gril vreeslik

Was agter jou ore

Trol

Is jy die mooiste monster?*

Wurms met tamatiesous*

Die Kruiper

Rilrestaurant*

Spooktrein*

Nagmerrie

Die Niks*

Moenie jou medisyne drink nie*

Breuke kan nie breek nie*

Mielies het nie maniere nie

Eier vir ontbyt

’n Ongeluk

Mossies voel vere

Frederik de Waardt

Wegloopneus*

Klikbek

Klara Klakous

Kry vir jou ’n dinosourus*

Buffel in die bad*

Selfoon*

Koop vir my ’n motorfiets*

Erdvark

Vlakvark

’n Vark in die toilet

Soen

TV-slaaf

Hoendertande*

’n Fluks slang

Tongknopers

Slange

Brommerpraatjies

Lief

 

’n Brulpadda in my tas

’n Walvis in my sop

Varkies

Narre*

Ek skaam my morsdood*

Vreemde vrae

My ma se varsgebakte brood

Kinderspeletjies*

Stootskraper

Te laat*

As die monsters partytjie hou ...*

Hoe om jou eie monster te maak*

DracuDent*

Volmaan-sjampoe*

Speelgoedtande*

Professor Polter se Skool vir Suksesvolle Spoke*

Portret van die meisie sonder naam

Jan

Pampoenspook*

Die monstertoilet*

Koerantopskrifte oor die Koms van die Blop uit die Buitenste Ruim

Die huis in Katjiepieringstraat*

Donkerlied*

As die see net nie so sout was nie ...

’n Brulpadda in my tas*

Moenie ’n padda soen nie*

SprokieGenoot

         Haar probleem ’n haarprobleem

         Kortsigtig

         Eksklusief! Is appels dalk sleg vir jou gesondheid?

         Spesiale aanbod!

         Sulke varke!

         Gesoek: Geoulokkies

Prinsesse gee my sooibrand*

Vallenteinskaarkie

Superheld*

Beste vriende

Wêreldreis*

’n Slegte idee

10 dinge om te doen as jy baie verveeld is ...*

Ongeskik

Twee rympies

 

My boetie dink hy’s Batman

Luislang, o, luislang*

My hond is mal oor boeke*

As goudvisse kon praat

’n Gevaarlike tuin

Pizza-liefde

Kliek!*

Woedebuie*

Die ergste marteling*

My boetie dink hy’s Batman*

My nuwe babasussie

Bankroof

Moenie die melk vergeet nie*

Lelike woorde

’n Riet word ’n fluit

Dôra, dôra

Party rympies

Die einde van ’n lastige vlieg

Vraag en antwoord*

Sal daar nog ysbere wees?*

Gister was ons klas by die akwarium en dis wat ek gesien het:

Gister was ons klas by die akwarium en dis wat die haai gesien het:

Die seerowerskool se klasrooster*

Windlawaai

My soort sport*

Dei boom derde van links*

Sowaar*

Nuwe skoolreëls*

Die langste halfuur op aarde*

Die kinders van vandag ...*

Die mensvreter-restaurant se spyskaart

Tarzan: Die einde*

Te koop*

ZombieMart*

Modderman*

Oppas vir daai plant*

Monster-asem*

Kulkunsie*