![]() |
| Jaco Jacobs se nuutste rympieboek is 'n bundel tongknopers, "Op die punt van my tong". Hier is 'n voorsmakie. |
Thursday, August 6, 2015
Waarom ek nie vir jou ’n rympie kan (of gaan) e-pos nie
Tuesday, August 16, 2011
’n Paar van my gunsteling-webtuistes van skrywers
Dis groot pret om so nou en dan op skrywers se webtuistes rond te snuffel en te kyk met watter boeke hulle volgende vorendag gaan kom of watter pittighede en prettighede daarop verskyn. Hier is ’n paar van my gunstelinge:
Dav Pilkey
Ek is ’n groot aanhanger van Pilkey se Dumb Bunnies-reeks, en Captain Underpants is net so prettig. Sy webtuiste het die volgende waarskuwing: WARNING: This website contains scenes and material which may be considered too silly for grown-ups, small animals, and many varieties of houseplants. If you are a grown-up, a small animal, or a houseplant, we strongly urge you to seek the permission of a kid before browsing this site!
Adres: http://www.pilkey.com/
Neil Gaiman
Ek is nie so mal oor al Gaiman se werk soos ek heimlik voel ek behoort te wees nie, maar as ek sy blog op sy webtuiste begin lees, kan ek nie ophou nie. Lekker insig in die lewe van ’n supersterskrywer!
Adres: http://journal.neilgaiman.com/
Stephen King
King se amptelike webtuiste is ’n verstommende bewys van hoe groot sy empire is. Dit wemel van aankondigings oor nuwe e-boeke, strokiesprente, TV-reekse en selfs nuus oor King se amptelike radiostasie, 100.3 WKIT. (’n Bonuspunt as jy die pun snap ...)
Adres: http://www.stephenking.com/index.html
Emily Gravett
Gravett se webtuiste is slim ontwerp – nes ’n mens van hierdie innoverende prenteboekskrywer en -illustreerder verwag!
Adres: http://www.emilygravett.com/
Anne Rice
As ’n mens die mediaberigte lees, lyk dit of Rice by die dag eksentrieker word. Sy bly egter in my oë die koningin van die vampiergenre, en Stephenie Meyer en Charlaine Harris is baie dank aan haar verskuldig. Dit is interessant om te sien hoe toeganklik Rice klaarblyklik as skrywer is – aanhangers (groepe van meer as 25) word selfs genooi om via Skype met haar te gesels, ’n voorstel wat jy op min skrywers se webtuistes teëkom. Hoe maklik dit is om regtig so ’n Skype-onderhoud met haar te reël, weet ek egter nie. En of sy regtig self haar e-posse beantwoord, is ook ’n ope vraag.
Adres: http://www.annerice.com/
Friday, February 18, 2011
Die 7 doodsondes van kinderboeke skryf
1. Stories oor lewelose voorwerpe. Vra jouself as volwassene af: Sal jy jou na die naaste boekwinkel haas as jy hoor daar het pas ’n boek verskyn oor die avonture van ’n skoen, ’n vyftigsentstuk, ’n reëndruppel of ’n potlood? Nie? Nou waarom op aarde dink so baie aspirant-kinderboekskrywers dat kinders hierdie soort leesstof verdien? NIEMAND wil ’n storie oor die wedervaringe van ’n wolk lees nie, nie eens iemand wat vyf jaar oud is nie. Jy moet eenvoudig briljant wees (en by Disney werk) om ’n storie soos Cars of Toy Story te laat werk – tensy jy ’n geniale skrywer is, bly weg van sulke stories.
2. Stories oor oorbekende karakters. Die slinkse jakkals. Die wyse ou uil. Die feetjies wat die blommetjies verf. Die stoute kaboutertjie wat voor die koning moet verskyn. Die Tandmuis wat Jannie se tand kom haal om sy Tandkasteel te bou. Klink dit bekend? Ja, honderde en duisende en tienduisende kinderboeke is al oor hierdie karakters geskryf. Kan jy iets nuut en oorspronklik met hulle doen? Waarskynlik nie. So, kry iets anders om oor te skryf. As jy my nie glo nie, hier’s vir jou huiswerk: Gaan maak ’n lys van al die boeke oor muise wat die afgelope tien jaar in Afrikaans verskyn het. Dit het my pas minder as ’n minuut geneem om aan 11 titels te dink. Laat weet gerus met hoeveel jy vorendag kom. Daar heers ’n muisplaag in die Afrikaanse kinderboekbedryf.
3. ’n Storie wat eindig met: “Skielik word ek wakker. Dit was alles net ’n droom.” Ek haat al hierdie tegniek sedert ek agt jaar oud was. Regtig, ek kan dit baie goed onthou, want dit is min of meer wat aan die einde van C.F. Beyers-Boshoff se Jasper en die ruimtemanne gebeur het. Ek was so vies dat ek daardie boek in die asdrom sou smyt as dit nie was dat ek so vrek bang was vir tannie Willemien, ons biblioteektannie nie. Wie op dees aarde wil ’n hele storie lees net om aan die einde te verneem dit was al die tyd ’n droom? En dan ontdek die karakter natuurlik ’n veertjie of ’n briefie of modder aan sy skoen of iets dergliks wat wys dat dit dalkies-dalkies regtig gebeur het. Asdrom toe!
4. Stories met ’n lessie. Het jy al die storie gehoor van die luiperdjie/olifantjie/renostertjie wat gewens het hy het nie kolle/’n slurp/’n neushoring gehad nie? Ja? Jy onthou mos, die een oor die dier wat op die ou einde besef jy moet tevrede wees met wie jy is en hoe jy lyk. Afgesien van die feit dat hierdie storielyn so afgesaag is soos die helfte van die Amasonereënwoud, maak dit ook die aanname dat kinders dommerige, ongemanierde wesentjies is wat om elke hoek en draai ’n les geleer moet word of in wie se keelgate jy ’n boodskap soos slegte medisyne of Brusselse spruitjies moet probeer afwurg. As jy kinders wil vermaak, word ’n kinderboekskrywer. As jy vir kinders wil preek, oorweeg eerder ’n graad in die teologie.
5. Stories wat afpraat na kinders. Maatjies, julle moet nooit sulke soort storietjies skryf nie, hoor? Dit maak my ou hartjie baie seer, en dit wil ons mos nie hê nie, of hoe? Pasop tog maar vir die oulike ou verkleinwoordjies, nè? En bly maar weg van nare ou aanspreekvormpies, maatjies. As jy vir kinders skryf, moet jy vergeet dat jy ’n grootmens is. Vergeet dat goedgemanierde kinders veronderstel is om vir jou Oom of Tannie te sê.
6. Swak rymverhale. ’n Kinderboek hoef nie te rym nie. Dr. Seuss was briljant met rym en het briljante boeke op rym geskryf. As jy nie briljant met rym is nie, gaan jy vrotsige boeke skryf as jy probeer rym.
7. Vervelige prosa. Party grootmense is skynbaar mal daaroor om boeke te lees waarin daar so min as moontlik gebeur. Ek kon dit nog nooit mooi verstaan nie, maar ek lei af dis waar, want ek het al sulke boeke gelees en agterna gesien hulle is op die topverkoperlyste of wen belangrike pryse. Kinders, aan die ander kant, hou gelukkig glad nie van sulke stories nie. Moet dus nie vir bladsye lank verduidelik hoe die heuwels of die rivier of die hoofkarakter se rok lyk nie. Trouens, tensy ’n karakter se klere om een of ander rede belangrik is, is dit nie eens nodig om daarna te verwys nie – jou leser sal aanneem die karakter loop nie normaalweg kaalstert buite rond nie.
Kopiereg (c) Jaco Jacobs
Thursday, July 22, 2010
Wenke vir aspirantskrywers
Aspirantskrywers wil dikwels by my weet hoe ’n mens te werk moet gaan om jou boek gepubliseer te kry. Gaan dit my geld kos? Hoe werk ’n uitgewery? Hoe moet ’n manuskrip lyk? Hopelik help hierdie inligting jou as jy ’n aspirantskrywer is wat wonder hoe om jou storie gepubliseer te kry. Dit is 'n samevatting van (heel basiese) wenke wat ek oor die jare vir artikels en skryfskole uiteengesit het.
Wat doen ’n uitgewery?
’n Uitgewery is ’n onderneming wat wins maak deur boeke te publiseer. Skrywers lê ’n manuskrip aan ’n uitgewery voor met die oog op publikasie. Manuskripte word gekeur, en indien dit vir publikasie aanvaar word, is ’n uitgewer daarvoor verantwoordelik om die manuskrip saam met die skrywer te ontwikkel, dit te laat proeflees en taalversorg, die boek te laat uitlê en ’n kunstenaar aan te stel om die omslag te ontwerp en illustrasies te maak, indien van toepassing, en die boek te laat druk. (’n Uitgewery is nie ’n drukkery nie – gewoonlik het hulle kontrakte met drukkerye, waar boeke gedruk en gebind word.) Die uitgewery is ook verantwoordelik vir die bemarking en verspreiding van die boek. By ’n hoofstroomuitgewery hoef skrywers glad nie te betaal vir die publikasie en bemarking van hul boeke nie. Outeursgeld, ’n persentasie van die prys van elke boek wat verkoop word, word gewoonlik per kontrak jaarliks of halfjaarliks aan skrywers betaal.
My raad aan skrywers is om baie, baie versigtig te wees vir enige uitgewery wat jou geld vra om jou boek te publiseer. Tensy jy natuurlik regtig belang stel in selfpublikasie en bereid is om self vir alles te betaal en die bemarking en verspreiding van jou boek self te behartig.
Wenke aan skrywers
* Lees soveel moontlik, veral in die taal en genre waarin jy graag wil skryf. Dit help jou om ’n beeld te vorm van die mark waarin jy werk – en boonop is goeie lesers gewoonlik beter skrywers.
* Moenie oorhaastig wees om te publiseer nie. Maak seker jy stuur slegs jou heel beste skryfpogings vir ’n uitgewery.
* Kweek hare op jou tande. Min skrywers se eerste skryfpogings word gepubliseer. Publikasie is ’n lang en moeilike proses, en sukses kom selde oornag. Moenie ontmoedig word deur kritiek en afkeurbriewe nie.
* Skryf die soort stories waarin jy self belang stel. As jy glad nie van liefdesverhale hou nie, moenie in hierdie genre probeer skryf omdat jy dink dis ’n geldkoei nie! Lesers (en uitgewers) word nie maklik geflous deur ’n onoortuigende poging nie.
Oor manuskripvoorleggings:
* Kry vooraf agtergrondinligting oor die uitgewery waarheen jy jou manuskrip wil stuur. Die meeste gevestigde uitgewerye het webtuistes. Jy kan gewoonlik daar vasstel watter soort boeke hulle uitgee en kontakbesonderhede vir voorleggings kry. Jy kan kosbare tyd mors deur byvoorbeeld ’n kinderboekmanuskrip te stuur aan ’n uitgewery wat nie kinderboeke publiseer nie.
* Stuur getikte manuskripte, indien enigsins moontlik. Die meeste uitgewerye sal nie handgeskrewe manuskripte oorweeg nie.
* Die meeste uitgewerye aanvaar nie e-posvoorleggings nie. Stuur jou manuskrip per gewone pos.
* Stuur slegs jou heel beste poging vir ’n uitgewer. Jou eerste of tweede herskryfpoging is gewoonlik nog onafgerond. ’n Manuskrip wat oorhaastig voorgelê word, kan jou kans op publikasie benadeel.
* Moet NOOIT ’n manuskrip gelyktydig aan meer as een uitgewery voorlê nie.
* Maak jou manuskrip so netjies as moontlik, wat tikwerk sowel as taalversorging betref. Slordige manuskripte en swak taalversorging sal nie publikasie verhoed nie (nes netjiese manuskripte en goeie taalversorging nooit publikasie sal verseker nie!), maar dit skep ’n swak indruk en bemoeilik die uitgewer se taak. Hou in gedagte dat jou manuskrip een van honderde is wat elke maand op die meeste uitgewers se lessenaars beland.
* Sluit ’n dekbrief by jou manuskrip in. Dit moet jou kontakbesonderhede, die titel van jou manuskrip, die teikenmark wat jy in gedagte het, en ’n kort publikasie-agtergrond, indien jy reeds gepubliseer het, bevat.
* Moenie jou enigste kopie van die manuskrip of oorspronklike illustrasies stuur nie. Dit kan in die pos wegraak of beskadig word. Uitgewerye aanvaar nie aanspreeklikheid vir verlore of beskadigde materiaal nie.
* Kinderboekskrywers hoef nie self illustrasies te voorsien nie. Die uitgewery sal self ’n professionele illustreerder aanwys en betaal indien jou manuskrip aanvaar word.
* Die meeste uitgewers verkies ’n manuskrip wat op wit A4-papier getik is, in dubbelspasiëring, in ’n maklik leesbare lettertipe (12 pt Times New Roman werk goed), net aan een kant van die bladsy, en met kantruimtes (margins) wat breed genoeg is om aantekeninge te maak (sowat 1,5 tot 2 cm weerskante is voldoende).
* Dit is nie nodig om jou manuskrip te bind nie. Nommer net die bladsye, ingeval dit deurmekaar raak.
* Die meeste uitgewerye sal weldra ’n briefie, e-pos of poskaart stuur om ontvangs van jou manuskrip te erken. Hierin word gewoonlik ook gemeld hoe lank die keuringsproses kan duur. As jy ná ’n redelike tyd nie erkenning van ontvangs kry nie, kan jy skakel om te verneem of jou manuskrip wel ontvang is.
* Skakel gerus en doen navraag indien jy ná die gemelde keuringstydperk nog geen reaksie gekry het nie.
* Nie alle uitgewerye is bereid om manuskripte terug te pos nie. ’n Selfgeadresseerde koevert met die korrekte seëls daarop kan in sommige gevalle die kans verhoog dat jou manuskrip teruggepos word.
* Nie alle uitgewers is bereid om die redes vir afkeuring van ’n manuskrip te verskaf nie. Moenie toegee aan die versoeking om in ’n woordewisseling met ’n uitgewer betrokke te raak of redes te eis waarom jou manuskrip afgekeur is nie. Beskou dit as ’n guns dat iemand wel jou manuskrip gelees en kosbare tyd daaraan bestee het. ’n Telefoonoproep of e-pos gaan beslis nie ’n uitgewer oortuig om jou afgekeurde manuskrip uit te gee nie!
* Indien ’n uitgewery jou manuskrip afkeur, staan dit jou vry om dit aan ’n ander uitgewery voor te lê of dit vir skryfwedstryde in te skryf.
