Wednesday, July 17, 2013

Vyf dae, vyf verse: Dag 2


Wanneer ek verdwyn
(c) Jaco Jacobs
Soms is ek ’n mal wetenskaplike
wat monsters lewend maak;
soms moet ek soos Frodo
gaan veg teen ’n wrede draak.

Ander kere weer vlieg ek
saam met Peter na Nimmerland;
of as ek weer sien is, ek saam met Crusoe
op ’n mensvretereiland gestrand.

Jy kan my soms Van Helsdinges noem,
want ek staan my man teen vampiere,
en soms maak ek ’n draai in Toad Hall
saam met Mol en die ander diere.

Partykeer kuier ek by Heidi
en eet van Oupa se bokmelkkaas;
of drink tee saam met Alice,
’n hoedemaker, ’n muis en ’n haas.

Soms roep my ma tevergeefs,
en bekommerd moet sy dan na my soek –
want ek verdwyn gereeld
tussen die blaaie van ’n storieboek.

Tuesday, July 16, 2013

Vyf dae, vyf verse: Dag 1


Ek het onlangs die finale afrondingswerk gedoen aan twee nuwe bundels met kinderverse wat volgende jaar die lig sal sien. In die proses is daar altyd ’n paar versies wat nie die paal haal nie – soms omdat hulle nie goed genoeg is nie, en soms omdat hulle nie by die tema of raamwerk van die bundel inpas nie. Op my rekenaar is ’n hele dokument vol van hierdie rympies wat nog nooit hul staanplek iewers gekry het nie. Vir die volgende vyf dae gaan ek elke dag ’n voorheen ongepubliseerde rympie hier op my blog plaas. Lewer asseblief kommentaar en laat weet wat jy van elke rympie dink!

Hier is die eerste een ...

Net voor dit begin reën
© Jaco Jacobs
Toe die son eensklaps
agter die wolke verdwyn ...
bokspring ’n broek
en sy pype skop omhoog.
’n Uitklokromp swaai
met ’n swierige boog.
’n Wit hemp tiekiedraai
met ’n rooi rok van satyn.
Die wasgoed dans van vreugde
aan die wasgoedlyn.

Wednesday, June 19, 2013

Vroegoggend-moord op enkele geliefdes


Vanoggend het ek my weer skuldig gemaak aan moord. Die soort moord wat skrywers ongelukkig dikwels gedwing word om te pleeg – die moord op ’n paar van jou hartlammers. Killing your darlings, soos die Engelse skrywersraad lui.
As jy tot hier gelees het en steeds geen idee het waarvan ek praat nie, ontspan. Die uitdrukking is bloot ’n stukkie klassieke skrywersraad wat beteken dat jy soms die rooi pen (of die backspace-knoppie) meedoënloos moet inspan om ’n paar van jou mooiste skryfsels uit te wis – gewoonlik daardie fleurige beskrywing wat jou so ’n opgewonde, selfingenome tinteling gegee het toe jy dit ’n ruk gelede neergepen het en jou ’n wyle lank daarvan oortuig het jy is moontlik die begaafdste woordkunstenaar op hierdie ondermaanse.
Dit is seer om daardie beskrywing uit te haal, want jy’s verlief op hom. ’n Skerpoog-redigeerder wat sy rooi ink werd is, sal dit egter meestal nie miskyk nie. En dan beland jy, soos ek, op ’n dag in die situasie waar jy jou manuskrip moet begin regtrek en ’n paar van daardie geliefdes moet afmaai.
In ’n nuwe rympiemanuskrip waaraan ek tans werk, is daar ’n versie wat ek vir my dogtertjie geskryf het. Dis ’n mooi rympie daai, man. Ek kan al sien hoe sy dit eendag vir haar kleinkinders gaan lees en vertel dat hulle oorle’ oupagrootjie daardie woorde spesiaal vir haar geskryf het. Dit gaan as ’t ware ’n erfstuk word.
En toe kom die keurdersverslag. En daardie spesifieke rympie is so vol elektroniese kommentaar geplak dat jy dit skaars op die Word-dokument kan lees.
Elizabeth Kübler-Ross se stappe oor die hantering van droefheid kan ook op keuringsverslae van toepassing gemaak word.
Jy is eers in ontkenning daaroor. Vir drie dae lank maak ek asof die keurdersverslag nie bestaan nie. Ek maak dit nie weer oop nie en ignoreer die e-pos daar waar dit in my inmandjie lê en verlep.
Teen dag vier gaan lees ek weer teësinnig die ding. En stap twee, voorspel Kübler-Ross, is woede. Hoekom, o, hoekom kan die keurder nie my briljantheid na behore waardeer nie? Hy’s waarskynlik ’n gefrustreerde skrywer of akademikus met ’n rits mislukte manuskripte wat iewers in ’n laai lê en stof vergaar. Gmf.
Stap drie is onderhandeling. Oukei, ek sal hier ’n woord verander soos die keurder voorgestel het. Daar ’n komma insit. Mits ek hierdie voorstel oor rymdwang kan ignoreer en hierdie strofe kan inlos.
En dan kom stap vyf. Waar jy die hele ding weer so bekyk en skielik besef: Flippen hel, die keurder was al die tyd reg. Daardie rympie is so stroperig soos ’n koshuistoebroodjie. Die rymdwang is so duidelik soos daglig. Jou darling se tande is skeef en haar een beentjie mank.
Backspace.
Koebaai, darling.
Jy’t die hart van ’n romantikus nodig om te skryf.
En die hart van ’n moordenaar om te herskryf.
Wie het gesê om pen op papier te sit is vir sissies?
(O ja, en die herskrewe manuskrip is vanoggend terug na die uitgewer. En daardie rympie lyk stukke beter. Hou vas dat die keurder hierdie keer saamstem.)

Sunday, April 28, 2013

Klappertand vir die Rooitaal




Waarom skryf ek nie in Engels nie? wil ’n meisie ’n tyd gelede tydens ’n vraag-en-antwoordsessie by ’n skool weet.
Want ek het in die Karoo grootgeword, verduidelik ek. En my pa sê daar gebruik jy Engels net vir selfverdediging. 
Dis egter nie die volle waarheid nie. Die taalreëls wat ons destyds in Ma’am Augustyn (tannie Issie as jy haar op straat raakloop) se Engelsklas geleer het, het nie nodig gehad om ’n tree terug te staan vir enige iemand nie, het ek later op universiteit ontdek, toe ek saam met ’n hele klomp moedertaalsprekers in die Engels I-klas beland het. Aan die einde van my eerste jaar is ek as beste Engelsstudent in die klas aangewys, maar ek het die vak gelos omdat een van die ou professore se gedurige geflirt met die meisies (en sy laatkommery!) my eindeloos geïrriteer het.
’n Tyd gelede het ek egter besluit om my verroeste kennis van die Rooitaal af te stof en ’n klompie grillerige kinderstories in Engels te begin skryf. Heel gepas, eintlik, want my eerste behoorlike kennismaking met die taal was in die dik Stephen King-boeke wat ek op laerskool swoegtend deurgeworstel het.
 Aan die begin was dit ontsaglik moeilik, maar algaande het die ritmes en klanke van die taal weer in plek begin val, en kon die stories hul loop neem.
Die resultaat is die bundel “Chattering Teeth and other scary stories” wat nou op Amazon beskikbaar is: http://www.amazon.com/Chattering-Teeth-other-stories-ebook/dp/B00CK7F380/ref=sr_1_1?ie=UTF8&qid=1367212258&sr=8-1&keywords=%22chattering+teeth%22+jacobs Hoe geslaagd my eksperiment gaan wees, sal die tyd moet leer. Ek wou dit om twee redes doen: Eerstens om te kyk of die Rooitaal, in my hande, vir meer as selfverdediging gebruik kan word. En tweedens om meer oor die e-boekmark te leer, waarvan ek veels te min weet en waaroor ek heimlik nog nie naastenby entoesiasties genoeg is nie.
Sedert die boek gisteraand aanlyn beskikbaar geword het, is daar darem al een kopie verkoop. So, iewers in die wêreld het iemand ’n paar dollar opgedok en is ’n kind tans besig om op sy/haar Kindle my grilstories te lees, in my beste Karoo-Engels. 

Wednesday, April 24, 2013

Vyf wenke om jou kind 'n leser te maak


Suid-Afrikaanse kinders sukkel om te lees. Dit blyk duidelik uit ontstellende koerantopskrifte en statistiek die afgelope paar jaar.
Die vermoë om te lees is een van die heel belangrikste sleutels tot jou kind se prestasie op skool. Ongelukkig is die realiteit dat baie skole deesdae beperkinge op tyd, personeel en hulpbronne het – en die mediasentrum en leesperiodes is dikwels van die eerste dinge wat in die slag bly. Ouers kan wondere verrig om die jongklomp lief te maak vir lees, selfs lank voordat hulle die skoolbanke aandurf.
Probeer hierdie vyf wenke om jou kind ’n boekevraat te maak.

1. Laat jou kind self boeke kies
Nie alle volwassenes verkies dieselfde soort boeke nie – en net so verskil kinders se leessmaak. Let op na watter soort boeke jou kleuter geniet, en moenie kla as jy dieselfde storie oor en oor moet lees of ’n aktiwiteitsboek honderde maal moet deurblaai nie. Jou kind is immers besig om sy/haar leessmaak te ontwikkel. Gee kinders van kleins af die geleentheid om self te kies watter boeke hulle as verjaardag- of Kersgeskenke wil ontvang deur hulle byvoorbeeld saam te neem boekwinkel toe, ’n boekwinkel-geskenkbewys te koop of hulle te vra om hul voorkeure in ’n bestelgids soos hierdie aan te dui.

2. Moenie ’n boeksnob wees nie
Ouers kla soms as kinders in ’n sekere genre “vashaak”. As jou kind op die oomblik grilstories, speurverhale of reeksboeke verslind, wees dankbaar dat hy/sy lees en moet onder geen omstandighede neerhalend daarna verwys nie. Baie kinders “ontgroei” ’n sekere genre en begin iets anders lees. Ander bly hul lewe lank byvoorbeeld aanhangers van rillers. In albei gevalle wen jy, want lees is die beste manier om jou kind se leesbegrip, konsentrasie en taalvermoë te ontwikkel.

3. Word betrokke
Wys jy stel belang in die boeke wat jou kind lees. Lees self die soort boeke waarvan jou kind of tiener hou – dit kan ’n lekker gespreksonderwerp word en jy sal dalk verras wees om te sien hoeveel pret jy in die proses het! Probeer uitvind van watter skrywers of illustreerders se werk jou kind hou, en kry nog van hierdie gunstelinge se boeke in die hande.

4. Stel ’n voorbeeld
’n Kind wat grootword in ’n huis met ’n boekrak en waar Ma of Pa dikwels lees (selfs al is dit koerante of tydskrifte), word van kleins af vertroud met die idee dat boeke ’n aangename, ontspannende aktiwiteit kan wees.

5. Leer én speel
Ouers en onderwysers wys kinders dikwels daarop dat boeke jou slim maak, jou kan help met jou skoolwerk en propvol kennis is. In die proses kan jy egter onbedoeld ’n negatiewe konnotasie kweek. Kinders hou van speel en pret hê, daarom is dit belangrik om hulle van ’n jong ouderdom te wys dat boeke pret kan wees – anders gaan die Xbox, PlayStation en rekenaarspeletjies wen. Boeke moenie net deel wees van die sleur van skool, huiswerk en take nie – dit behoort ook lekker vermaak vir ledige ure te wees. Dit is waarom soveel Afrikaanse kinderboeke deesdae fokus op humor, pret en avontuur. Kyk maar net na die titels en temas van ’n paar van die boeke wat op winkelrakke en op uitgewers se webtuistes beskikbaar is!

Thursday, January 17, 2013

10 skreeusnaakse (dog effe "af") boeke wat jy op Amazon kan kry


So dan en wan maak ek ’n draai op Amazon, en die boekaanbevelings onderaan die bladsy kan jou soms na vreemde leesstof lei. Hier is ’n paar skreeusnaakse boeke waarop ek onlangs afgekom het. Wees gewaarsku, dis daardie soort kinderboeke wat jy waarskynlik NIE vir jou kleinding wil aanskaf nie (dink Go the f**k to sleep), maar 'n paar van hulle sal ek baie graag by my eie boekversameling wil voeg ...


* All my friends are dead: http://www.amazon.com/All-My-Friends-Are-Dead/dp/0811874559/ref=pd_sim_b_4 (Daar is ook ’n opvolgboek, All my friends are still dead.)

* I hate everything: http://www.amazon.com/I-Hate-Everything-Matthew-DiBenedetti/dp/1440506388/ref=pd_sim_b_6 (As jy van hierdie een gehou – of dit gehaat het – kan jy nog ’n boek deur dieselfde skrywer aanskaf, getiteld I hate everyone.)





* Maybe your leg will grow back: Looking on the bright side with baby animals: http://www.amazon.com/Maybe-Your-Will-Grow-Back/dp/0062065076/ref=pd_bxgy_b_text_z (Deur die skrywers van Grandma’s dead en Why is Daddy in a dress?)



Thursday, September 20, 2012

’n Belangrike titel




Ek dink nie daar is baie lesers wat twyfel oor die belangrikheid van ’n boek se titel nie. Party titels smeek jou byna om die boek oop te maak en te begin lees. (Oukei, of dan om dit deesdae op jou Kindle of iPad af te laai.)
Selfs voordat ek dit gelees het, was ek al versot op The Curious Incident of the Dog in the Night-time en Miss Peregrine’s School for Peculiar Children. Een van my gunstelingtitels (en -boeke) is Jonathan Safran Foer se Extremely Loud and Incredibly Close – dis een van daardie boeke wat geen ander titel kon hê nie. Gister loer ek op Amazon rond en kom weer op twee paar fantastiese aandagtrektitels af: This Little Piggy Went to the Liquor Store (A.K. Turner) en A is for Ketchup (’n alfabetboek vir kinders deur Xavier Finkley). Min mense kan by Louise Rennison (of haar bemarkingspan) kers vashou wanneer dit kom by die uitdink van titels. Haar Confessions of Georgia Nicholson-reeks bevat juwele soos It’s Okay, I’m Wearing Really Big Knickers, Knocked Out by My Nunga-Nungas en ... And That’s When It Fell Off in My Hand.
Nes mooi voorblaaie ’n mens deesdae kan verlei om ’n boek te koop wat jy later teleurstellend vind, is daar deesdae sekerlik die gevaar dat ’n funky titel jou kan oortuig om ’n flouerige boek aan te skaf. Vroeër jare het skrywers (en hul uitgewers) skynbaar minder moeite gedoen om die soort titels uit te dink wat kop en skouers bo die res uitstaan. Waarskynlik omdat daar nie elke jaar miljoene boeke verskyn het waarbo jy kop en skouers moes probeer uitstaan om ’n paar eksemplare verkoop te kry nie. Ek wonder wat sou A Christmas Carol, The Adventures of Tom Sawyer en Anne of Green Gables geheet het as hulle vandag se dae moes verskyn.
Om die regte titel vir ’n boek te kry is nie altyd kinderspeletjies nie. Liefde laat jou Rice Krispies anders proe was destyds al gereed om drukker toe te gaan, toe het ons steeds nie ’n titel daarvoor nie. (Wel, nie ’n titel waarmee my uitgewer tevrede was nie.) Oplaas het sy deur die proewe geblaai en afgekom op die sin wat die titel geword het. Sedertdien het prettige titels in ’n mate Tania Brink se kenteken geword. (’n Reeks ouer Afrikaanse liefdesverhale vir tieners is selfs onlangs herdruk met titels wat besonder baie aan Tania s’n herinner ... Maar wat, die Engelse spreekwoord lui mos: Imitation is the most sincere form of flattery! En daar bestaan buitendien nie kopiereg op ’n titel nie.)
Met Suurlemoen! was dit dieselfde storie. Ek wou die boek Suurlemoen! noem. My uitgewer het vasgeskop. Die titel sê niks oor die feit dat dit oor twee ouens gaan wat hul eie band begin nie, was haar beswaar. Dit het niks met musiek te doen nie. Dis vervelig. (Die skok! Hoe kan ’n titel met ’n uitroepteken aan die einde vervelig wees? wou ek verontwaardig weet.) Eindelik het ’n tienerleser voorgestel dat ons die boek ’n subtitel gee – ’n Storie oor liefde, rock en ’n tuinkabouter. Probleem opgelos!
’n Ruk gelede het ek op hierdie blog vertel hoe ek begin werk het aan ’n storie uit die “storiebegraafplaas” op my rekenaar. Wel, die manuskrip is voltooi en my uitgewer is mal daaroor. Die enigste probleem is ... die titel. Die titel wat in my oë so vars en funky en oorspronklik en skreeusnaaks was, moet verander.
Sug. Soms is dit makliker om ’n paar hoofstukke oor te skryf as om ’n nuwe naam vir jou boekbaba uit te dink. Om die waarheid te sê, ek en Elize het aansienlik minder kopgekrap toe ons ons ongebore baba se naam moes uitdink as wat ek gewoonlik swoeg en sweet om die regte titel vir ’n boek te kry. Gelukkig is daar nog ’n rukkie tyd voor die “doop’. Ek sal julle laat weet sodra ek met iets vorendag kon kom.