Tuesday, March 22, 2011

Voorgeskrewe boeke op skool: Tandekners of toeganklik?


As jy party mense vra watter gedigte en boeke die grootste indruk op hulle gemaak het, sal baie vir jou die name van boeke noem waarmee hulle op skool in die Afrikaans- of Engelsklas kennis gemaak het. Kringe in ’n bos of “Die kind” van Ingrid Jonker of Animal Farm of To kill a mockingbird of Lord of the flies. Laasgenoemde twee voorgeskrewe boeke is ook steeds op my persoonlike lys van allergunstelinge.
Maar as jy baie mense vra waarom hulle nie van lees hou nie, sal hulle ook vir jou sê dat hulle op skool ’n ewige renons in letterkunde gekry het. Die rede: sieldodend vervelige voorgeskrewe boeke en gedigte.
In my matriekjaar het ons Die uurwerk kantel van Marié Heese behandel. Laat ek dadelik byvoeg ek het baie van die boek gehou en ek kan tot vandag toe ’n paar gunstelingtonele daaruit onthou (onder meer die toneel waar ’n bryende tannie iemand die skeldnaam “moervreter” toesnou) – maar die oorgrote meerderheid van my klasmaats het sleepvoet Afrikaansklas toe gestap. Een van my pelle het die tyd omgekry deur ’n body count te hou van al die karakters in die boek wat doodgaan namate die storie hom ontvou en die vroulike hoofkarakter ’n bejaarde geword het. (Ek moet darem ook byvoeg: 'n Ander pel van my het die boek ook ontsettend baie geniet en dis steeds een van sy groot gunstelinge.)
Van die poësiegedeelte van die sillabus praat ek nie eens nie. Die meeste ouens het by voorbaat op hul arms gelê en slaap as ons elke jaar die voorgeskrewe aantal gedigte begin uitmekaartrek het; een gedig per periode, een reël op ’n slag.
Dis ’n moeilike vraag: Hoe kies jy voorgeskrewe boeke wat skoolkinders lief sal maak vir letterkunde?
Aan die een kant voel ’n mens skool is dalk die enigste keer dat sommige kinders kennis sal maak met die “grotes” in die poësieskat, of met Shakespeare en Orwell en ander klassieke skrywers.
Maar aan die ander kant wil ’n mens ook hê kinders moet die geleentheid kry om te voel hoe dit voel wanneer ’n gedig of kortverhaal of roman so sekuur tot jou leefwêreld spreek dat jy nie anders kan as om verlief te raak daarop nie, al is jy nie iemand wat daarvan hou om met jou neus in ’n boek te sit nie.
Ek is bly dis nie my werk om voorgeskrewe werke te kies nie, want dit moet ’n haas onbegonne taak wees om hierdie twee dinge te versoen – die “plig” van klassieke werke versus die “plesier” van moderne, toeganklike stories.
Drie publikasies waarby ek die afgelope paar jaar betrokke was, poog myns insiens om hierdie twee idees te versoen.
Die kortverhaalbundels Skreeu en Sweef, saamgestel deur Adinda Vermaak en Marieta Nel, bevat albei verhale wat eksklusief op tieners se leefwêreld fokus. Dit is stories wat vanuit die perspektief van tieners vertel word en wat oor hul leefwêreld handel. Stories oor verlief wees en woedend wees en bang wees en verward wees. Lekkerleesstories en uitdagender stories met ’n meer “literêre” aanslag. Stories wat hopelik sal help om voorgeskrewe periodes draagliker te maak - of dalk selfs onverwags opwindend.
En dit is ook wat ek probeer doen het met die bloemlesing Toulopers, wat pas by LAPA Uitgewers verskyn het en waarvan ek die samesteller is.
Ek het bydraers genooi om gedigte vir tieners van ongeveer 12 tot 15 jaar te skryf. Gedigte wat nie net óór tieners handel nie, maar wat vanuit hul perspektief geskryf is. Gedigte oor hoe dit voel om suikersoet-sak-sarel-verlief te raak of jou eerste gedig te skryf. Gedigte oor bands en Facebook. Gedigte oor emo kids, sokker en Susan Boyle. Gedigte wat in ’n vars, funky baadjie verskyn met Nicolene Louw se fantastiese, tienervriendelike illustrasies daarby. Gedigte wat hopelik sal help om die ouens wat op hul arms lê wanneer voorgeskrewe gedigte behandel word, minstens te laat opkyk. En wie weet, dalk sal Erns Grundlingh, Izak de Vries of Marietjie Vos se gedigte, met hul intertekstuele verwysings na “klassieke” Afrikaanse gedigte, tog hier en daar ’n jonger leser help lei na die ouer poësietekste.

* Klik hier vir ’n resensie van Skreeu:
http://www.jip.co.za/musiek/Skreeu-n-blerrie-goeie-bundel-vir-tieners

* Lewer gerus kommentaar en laat weet watter voorgeskrewe boeke jy op skool geniet of verpes het.

Thursday, March 3, 2011

Nuwe Stephen King-boek

DAAR'S 'N NUWE STEPHEN KING-ROMAN OP PAD!
So ja.
Ek moes dit net kliphard sê.
Die (baie vreemde) titel is 11/22/63 en dit gaan glo oor 'n onderwyser wat terugreis in tyd om die Kennedy-sluipmoord te probeer verhoed. Volgens die uitgewer is dit om en by 'n whopping 1 000 bladsye lank. Ongelukkig verskyn dit eers November vanjaar, maar dit gee my iets om die res van die jaar na uit te sien. Die afgelope Desembervakansie het ek sy nuwe kortverhaalbundel, Full Dark, No Stars, gelees en dit was fantasties. Ek dink ek het meer na daardie boek uitgesien as wat ek kleintyd na Krismis uitgesien het, net soos ek 'n jaar of wat gelede die dae afgetel het totdat ek Under the Dome in die hande kon kry. (Daai ene het my 'n halwe Desembervakansie besig gehou.) 
Afgesien van een swakkerige verhaal ("Fair Extension) was Full Dark vir my King op sy beste. Twee van die stories, "1922" en "Big Driver", is die soort wat lank by 'n mens bly spook - ek dink nie ek sal ooit weer aan 'n waterput op 'n plaas kan dink sonder om aan daardie rotte te dink nie ...
Ek gee nie om dat baie mense dink King is 'n vrot skrywer nie - die punt is, min skrywers kan doen wat hy doen: onvergeetlike karakters skep en die soort prosa skryf waarvan jy (oukei: ek) net nie genoeg kan kry nie. 
Buitendien, ek dink elke ywerige leser het minstens één skrywer na wie se nuwe boek hy/sy telkens met matelose opwinding uitsien.

Friday, February 18, 2011

Die 7 doodsondes van kinderboeke skryf

1. Stories oor lewelose voorwerpe. Vra jouself as volwassene af: Sal jy jou na die naaste boekwinkel haas as jy hoor daar het pas ’n boek verskyn oor die avonture van ’n skoen, ’n vyftigsentstuk, ’n reëndruppel of ’n potlood? Nie? Nou waarom op aarde dink so baie aspirant-kinderboekskrywers dat kinders hierdie soort leesstof verdien? NIEMAND wil ’n storie oor die wedervaringe van ’n wolk lees nie, nie eens iemand wat vyf jaar oud is nie. Jy moet eenvoudig briljant wees (en by Disney werk) om ’n storie soos Cars of Toy Story te laat werk – tensy jy ’n geniale skrywer is, bly weg van sulke stories.

2. Stories oor oorbekende karakters. Die slinkse jakkals. Die wyse ou uil. Die feetjies wat die blommetjies verf. Die stoute kaboutertjie wat voor die koning moet verskyn. Die Tandmuis wat Jannie se tand kom haal om sy Tandkasteel te bou. Klink dit bekend? Ja, honderde en duisende en tienduisende kinderboeke is al oor hierdie karakters geskryf. Kan jy iets nuut en oorspronklik met hulle doen? Waarskynlik nie. So, kry iets anders om oor te skryf. As jy my nie glo nie, hier’s vir jou huiswerk: Gaan maak ’n lys van al die boeke oor muise wat die afgelope tien jaar in Afrikaans verskyn het. Dit het my pas minder as ’n minuut geneem om aan 11 titels te dink. Laat weet gerus met hoeveel jy vorendag kom. Daar heers ’n muisplaag in die Afrikaanse kinderboekbedryf.

3. ’n Storie wat eindig met: “Skielik word ek wakker. Dit was alles net ’n droom.” Ek haat al hierdie tegniek sedert ek agt jaar oud was. Regtig, ek kan dit baie goed onthou, want dit is min of meer wat aan die einde van C.F. Beyers-Boshoff se Jasper en die ruimtemanne gebeur het. Ek was so vies dat ek daardie boek in die asdrom sou smyt as dit nie was dat ek so vrek bang was vir tannie Willemien, ons biblioteektannie nie. Wie op dees aarde wil ’n hele storie lees net om aan die einde te verneem dit was al die tyd ’n droom? En dan ontdek die karakter natuurlik ’n veertjie of ’n briefie of modder aan sy skoen of iets dergliks wat wys dat dit dalkies-dalkies regtig gebeur het. Asdrom toe!

4. Stories met ’n lessie. Het jy al die storie gehoor van die luiperdjie/olifantjie/renostertjie wat gewens het hy het nie kolle/’n slurp/’n neushoring gehad nie? Ja? Jy onthou mos, die een oor die dier wat op die ou einde besef jy moet tevrede wees met wie jy is en hoe jy lyk. Afgesien van die feit dat hierdie storielyn so afgesaag is soos die helfte van die Amasonereënwoud, maak dit ook die aanname dat kinders dommerige, ongemanierde wesentjies is wat om elke hoek en draai ’n les geleer moet word of in wie se keelgate jy ’n boodskap soos slegte medisyne of Brusselse spruitjies moet probeer afwurg. As jy kinders wil vermaak, word ’n kinderboekskrywer. As jy vir kinders wil preek, oorweeg eerder ’n graad in die teologie.

5. Stories wat afpraat na kinders. Maatjies, julle moet nooit sulke soort storietjies skryf nie, hoor? Dit maak my ou hartjie baie seer, en dit wil ons mos nie hê nie, of hoe? Pasop tog maar vir die oulike ou verkleinwoordjies, nè? En bly maar weg van nare ou aanspreekvormpies, maatjies. As jy vir kinders skryf, moet jy vergeet dat jy ’n grootmens is. Vergeet dat goedgemanierde kinders veronderstel is om vir jou Oom of Tannie te sê.

6. Swak rymverhale. ’n Kinderboek hoef nie te rym nie. Dr. Seuss was briljant met rym en het briljante boeke op rym geskryf. As jy nie briljant met rym is nie, gaan jy vrotsige boeke skryf as jy probeer rym.

7. Vervelige prosa. Party grootmense is skynbaar mal daaroor om boeke te lees waarin daar so min as moontlik gebeur. Ek kon dit nog nooit mooi verstaan nie, maar ek lei af dis waar, want ek het al sulke boeke gelees en agterna gesien hulle is op die topverkoperlyste of wen belangrike pryse. Kinders, aan die ander kant, hou gelukkig glad nie van sulke stories nie. Moet dus nie vir bladsye lank verduidelik hoe die heuwels of die rivier of die hoofkarakter se rok lyk nie. Trouens, tensy ’n karakter se klere om een of ander rede belangrik is, is dit nie eens nodig om daarna te verwys nie – jou leser sal aanneem die karakter loop nie normaalweg kaalstert buite rond nie.

Kopiereg (c) Jaco Jacobs

Wednesday, February 16, 2011

Wanneer laas het jy 'n boek oor 'n wolk gelees?


Soos ek hier sit, is ek sommer half grommerig.

En dis als te wyte aan ’n boek.

’n Kinderboek, boonop.

Ek snuffel gereeld op die internet rond in ’n poging om tred te hou met watter nuwe kinder- en jeugboekeboeke plaaslike en oorsee verskyn. Vanoggend toe ek deur die nuutste kinderboeke op Kalahari.net scroll, kom ek af op ’n boek getiteld Cyril the Serious Cirrus Cloud.

En vir die eerste keer in die byna twee jaar wat ek al uitstekende voorskrifmedikasie daarvoor gebruik, voel ek ’n sooibrand in my opwel.

Hoe op dees bloue aarde is dit moontlik dat daar in 2011 nog sulke boeke vir kinders gepubliseer word?

As jy ’n volwassene is, vra jouself ’n oomblik lank af: Wanneer laas het jy ’n uitstekende boek oor die avonture van ’n wolk (pratend of andersins) gelees? Sou jy jou na die naaste boekwinkel haas om ’n splinternuwe boek oor die avonture van ’n wolk (pratend of andersins) te lees? Trouens, dink jy enige regdenkende volwassene sal graag ’n boek oor die avonture van ’n wolk (pratend of andersins) wil lees?

Nee?

Nou hoekom op aarde word sulke stories vir kinders gepubliseer?

Ek maak nie gewoonlik opmerkings oor boeke wat ek nie gelees het nie, maar ek gaan sowaar as vet nie R88,95 plus posgeld uithaal om my vermoede te bevestig dat hierdie ’n vrotsige, prekerige boek is nie.

Sulke boeke onderskat kinders se intelligensie. Sulke boeke is die rede waarom sommige mense neersien op die kinderboekgenre. Sulke boeke is die rede waarom soveel kinders nie van lees hou nie.

En as jy my vra, behoort Cyril the Serious Cirrus Cloud uit kinderbiblioteke verban te word, saam met cutesy boeke oor die tandemuis, pratende sokkies en treintjies/vliegtuigies/bootjies-wat-klein-maar-dapper-en-sterk-is (my vriend Fanie Viljoen se beskrywing van nog 'n irriterende kinderboekverskynsel).

Goed. Genoeg tekere gegaan.

En nou gaan ek Citro-Soda drink.

Monday, January 24, 2011

'n Kas vol monsters



Twee nuwe boeke in die Kas vol Monsters-reeks is binnekort beskikbaar. En ek wil net weer my hoed afhaal vir Chris Venter - sy illustrasies werk UITSTEKEND vir hierdie reeks. Dis regtig groot pret om hierdie stories te skryf - maar selfs groter pret om Chris se illustrasies die eerste keer te sien!
In Weerwolfprobleme is Flaffie die weerwolf skielik so knorrig dat die ander monsters sukkel om met hom huis te hou. Denver en Meyer probeer uitvind wat skort. 
En in Hollywood-mummie droom Toets van 'n loopbaan as silwerdoek-ster - maar dis glad nie so maklik om 'n Hollywood-aktrise te word as jy 'n mummie is nie.
Die eerste twee titels, Die groen hand en Vampierfoto's, is reeds op die rakke.

Sunday, January 2, 2011

2011


Dis al 'n bietjie laat, maar hiermee nogtans my beste wense vir 'n voorspoedige nuwe jaar! Ná 'n salige drie weke van niksdoen is ek en Elize terug in 'n sopnat Bloem. Ons was selfs gelukkig genoeg om reën in die Karoo te beleef - waar dit vrek droog was. 

Om 2011 af te skop, hier is skakels na:
* onderhoude wat ek met drie jong kinderboekillustreerders (Sebastien Quevauvilliers, Maja Sereda en Chris Venter) gevoer het:
http://www.storiewerf.co.za/onderhoude/oh_sebastien_quevauvilliers.htm
http://www.storiewerf.co.za/onderhoude/oh_majasereda.htm
http://www.storiewerf.co.za/onderhoude/oh_chrisventer.htm
* 'n resensie van die bundel Skreeu, waarin twee van my stories verskyn:
http://www.rapport.co.za/Boeke/Nuus/Laat-jonges-hierna-terugskreeu-20101229
* en 'n (tong in die kies) rubriek oor my nuwejaarsvoornemens: 
http://www.rapport.co.za/MyTyd/Nuus/Rubriek-Die-jaar-toe-ek-gras-geplant-het-20101229

Sunday, December 5, 2010

Papierwerk

Ek is mal oor hierdie tyd van die jaar. Dit voel asof alles en almal gereed maak om ’n bietjie asem te skep, en werksgewys is dinge ook ’n bietjie rustiger. Daarom is dit gewoonlik ook die tyd van die jaar wanneer ek probeer om my lessenaar ’n bietjie uit te sorteer en al die papiere in my lewe onder beheer te kry.

            Ek wil baie graag een van daardie mense wees wat elke oggend agter ’n netjiese lessenaar inskuif. In my geestesoog kan ek al sien hoe ek soggens douvoordag fluks en kreatief wegspring met die dag se skryfwerk, met slegs ’n beker stomende koffie op die glimmende oppervlak waarop my pragtige iMac staan.

Helaas.

Ondanks my heel beste pogings, en my vrou s’n, bly my lessenaar en my kantoor op die rand van chaos wankel. Pas vanoggend het ek weer begin regpak, en toe besluit om die stryd gewonne te gee en eerder hierdie blog-inskrywing te skryf. Op my lessenaar lê op die oomblik onder meer:

* ’n HAT;

* die laaste dankiesê-kaartjies van ons troue wat ons nog nie uitgedeel het nie;

* ’n CNA-Kersfeesbrosjure (Is jy nie ook mal oor al die inkopie-boekies wat hierdie tyd van die jaar in die tydskrifte en koerante is nie?);

* honderde CD’s (wat ek die naweek almal deurgesoek het op soek na foto’s van ons Desember 2008-vakansie);

* oorfone (sodat Elize en die bure se ore gespaar bly terwyl ek die nuwe My Chemical Romance-album luister);

* ’n stapel komplimentêre kopieë van ’n siekefonds-ledetydskrif waarvoor ek skryf;

* en papiere. Hope en hope papiere. Notaboeke. Vierkantige notapapiertjies (rooies, groenes, pienkes en wittes). A4-folio’s. Afvalpapier.

Dis die papiere wat die groot sondebok in my lewe is. Ek dink ek kan met redelike sekerheid sê ’n papierlose samelewing gaan nooit vir my ’n realiteit wees nie. As ek skryf, gebruik ek net my rekenaar. Maar as ek nota’s maak, is dit op papier. Op flentertjies papier. Op veelkleurige notapapier. Op outydse skryfblokke. Agterop fakture en verlofvorms en ander belangrike dokumente wat ek later weer gaan nodig kry. Ek het skynbaar selfs ’n spesiale, hoogs onleesbare, handskrif waarin ek hierdie kriptiese leidrade neerpen.

As ek op hierdie oomblik, sonder om enigsins te krap of te grawe, op my lessenaar rondkyk, sien ek notas soos:

* die lysie van boeke wat ek die vakansie wil lees;

* ’n nota oor sinonieme vir die woord “skavot”;

* ’n nota oor troufoto’s wat nog vergroot moet word;

* ’n rowwe skets om vir ’n illustreerder te beduie wat ek met die tipografie op die voorblad van my nuwe prenteboek in gedagte het;

* ’n nota met die woorde “whale weigh away” (wat nugter weet wat beteken);

* ’n nota oor moontlike titels vir ’n boek wat ek onlangs vertaal het;

* ’n prentjie van ’n monster (wat ek geteken het terwyl ek aan die volgende Kas vol Monsters-boek gewerk het);

* ’n nota wat sê “Bel Ouma”;

* ’n nota oor die volgende Zackie Mostert-boek wat lui: “Beplan dalk weer spookstorie-aand. Sê van plan wat ’n sukses was. Nita sê hulle skuld haar.”

* ’n groen papiertjie met die woorde “vere”, “vlieg”, “lug”, “nes”, “boom”, “hoog/droog”, “tak” en “blare/vere i.p.v. hare” daarop.

Lyk alle skrywers se lessenaars so? Waarskynlik nie. Ek en Elize het nou die aand weer by ’n skrywersvriend gaan kuier, en sy lessenaar is so skoon en netjies dat jy kos daarop kan maak.

Ek is eintlik ’n heel netjiese en georganiseerde mens, maar as dit by hierdie notatjies en prentjies en oorhaastig geskribbelde gedagtes kom, het ek absoluut geen beheer nie. Vanjaar het ek in ’n stadium so verdwaal tussen my aantekeninge vir ’n boek, dat ek vir my ’n glimmende, peperduur witbord gaan koop het waarop jy aantekeninge kan maak. Baie professioneel, met magnete, ’n bordveër en swart, rooi en groen koki’s.

Binne ’n dag was die hele bord vol papiertjies geplak. Dit is sedertdien so taai van die wondergom en kleeflintgom dat jy buitendien nie daarop kan skryf nie.

Want ek het papiertjies nodig.

Dis miskien wat hulle met kreatiewe chaos bedoel.

En nou moet jy my verskoon – ek gaan probeer uitfigure wat ek met die woorde “whale weigh away” bedoel het.