Thursday, July 22, 2010

Wenke vir aspirantskrywers

Aspirantskrywers wil dikwels by my weet hoe ’n mens te werk moet gaan om jou boek gepubliseer te kry. Gaan dit my geld kos? Hoe werk ’n uitgewery? Hoe moet ’n manuskrip lyk? Hopelik help hierdie inligting jou as jy ’n aspirantskrywer is wat wonder hoe om jou storie gepubliseer te kry. Dit is 'n samevatting van (heel basiese) wenke wat ek oor die jare vir artikels en skryfskole uiteengesit het.

 

Wat doen ’n uitgewery?

’n Uitgewery is ’n onderneming wat wins maak deur boeke te publiseer. Skrywers lê ’n manuskrip aan ’n uitgewery voor met die oog op publikasie. Manuskripte word gekeur, en indien dit vir publikasie aanvaar word, is ’n uitgewer daarvoor verantwoordelik om die manuskrip saam met die skrywer te ontwikkel, dit te laat proeflees en taalversorg, die boek te laat uitlê en ’n kunstenaar aan te stel om die omslag te ontwerp en illustrasies te maak, indien van toepassing, en die boek te laat druk. (’n Uitgewery is nie ’n drukkery nie – gewoonlik het hulle kontrakte met drukkerye, waar boeke gedruk en gebind word.) Die uitgewery is ook verantwoordelik vir die bemarking en verspreiding van die boek. By ’n hoofstroomuitgewery hoef skrywers glad nie te betaal vir die publikasie en bemarking van hul boeke nie. Outeursgeld, ’n persentasie van die prys van elke boek wat verkoop word, word gewoonlik per kontrak jaarliks of halfjaarliks aan skrywers betaal.

            My raad aan skrywers is om baie, baie versigtig te wees vir enige uitgewery wat jou geld vra om jou boek te publiseer. Tensy jy natuurlik regtig belang stel in selfpublikasie en bereid is om self vir alles te betaal en die bemarking en verspreiding van jou boek self te behartig.  

 

Wenke aan skrywers

* Lees soveel moontlik, veral in die taal en genre waarin jy graag wil skryf. Dit help jou om ’n beeld te vorm van die mark waarin jy werk – en boonop is goeie lesers gewoonlik beter skrywers.

* Moenie oorhaastig wees om te publiseer nie. Maak seker jy stuur slegs jou heel beste skryfpogings vir ’n uitgewery.

* Kweek hare op jou tande. Min skrywers se eerste skryfpogings word gepubliseer. Publikasie is ’n lang en moeilike proses, en sukses kom selde oornag. Moenie ontmoedig word deur kritiek en afkeurbriewe nie.

* Skryf die soort stories waarin jy self belang stel. As jy glad nie van liefdesverhale hou nie, moenie in hierdie genre probeer skryf omdat jy dink dis ’n geldkoei nie! Lesers (en uitgewers) word nie maklik geflous deur ’n onoortuigende poging nie.

 

Oor manuskripvoorleggings:

* Kry vooraf agtergrondinligting oor die uitgewery waarheen jy jou manuskrip wil stuur. Die meeste gevestigde uitgewerye het webtuistes. Jy kan gewoonlik daar vasstel watter soort boeke hulle uitgee en kontakbesonderhede vir voorleggings kry. Jy kan kosbare tyd mors deur byvoorbeeld ’n kinderboekmanuskrip te stuur aan ’n uitgewery wat nie kinderboeke publiseer nie.

* Stuur getikte manuskripte, indien enigsins moontlik. Die meeste uitgewerye sal nie handgeskrewe manuskripte oorweeg nie.

* Die meeste uitgewerye aanvaar nie e-posvoorleggings nie. Stuur jou manuskrip per gewone pos.

* Stuur slegs jou heel beste poging vir ’n uitgewer. Jou eerste of tweede herskryfpoging is gewoonlik nog onafgerond. ’n Manuskrip wat oorhaastig voorgelê word, kan jou kans op publikasie benadeel.

* Moet NOOIT ’n manuskrip gelyktydig aan meer as een uitgewery voorlê nie.

* Maak jou manuskrip so netjies as moontlik, wat tikwerk sowel as taalversorging betref. Slordige manuskripte en swak taalversorging sal nie publikasie verhoed nie (nes netjiese manuskripte en goeie taalversorging nooit publikasie sal verseker nie!), maar dit skep ’n swak indruk en bemoeilik die uitgewer se taak. Hou in gedagte dat jou manuskrip een van honderde is wat elke maand op die meeste uitgewers se lessenaars beland.

* Sluit ’n dekbrief by jou manuskrip in. Dit moet jou kontakbesonderhede, die titel van jou manuskrip, die teikenmark wat jy in gedagte het, en ’n kort publikasie-agtergrond, indien jy reeds gepubliseer het, bevat.

* Moenie jou enigste kopie van die manuskrip of oorspronklike illustrasies stuur nie. Dit kan in die pos wegraak of beskadig word. Uitgewerye aanvaar nie aanspreeklikheid vir verlore of beskadigde materiaal nie.

* Kinderboekskrywers hoef nie self illustrasies te voorsien nie. Die uitgewery sal self ’n professionele illustreerder aanwys en betaal indien jou manuskrip aanvaar word.

* Die meeste uitgewers verkies ’n manuskrip wat op wit A4-papier getik is, in dubbelspasiëring, in ’n maklik leesbare lettertipe (12 pt Times New Roman werk goed), net aan een kant van die bladsy, en met kantruimtes (margins) wat breed genoeg is om aantekeninge te maak (sowat 1,5 tot 2 cm weerskante is voldoende).

* Dit is nie nodig om jou manuskrip te bind nie. Nommer net die bladsye, ingeval dit deurmekaar raak.

* Die meeste uitgewerye sal weldra ’n briefie, e-pos of poskaart stuur om ontvangs van jou manuskrip te erken. Hierin word gewoonlik ook gemeld hoe lank die keuringsproses kan duur. As jy ná ’n redelike tyd nie erkenning van ontvangs kry nie, kan jy skakel om te verneem of jou manuskrip wel ontvang is.

* Skakel gerus en doen navraag indien jy ná die gemelde keuringstydperk nog geen reaksie gekry het nie.

* Nie alle uitgewerye is bereid om manuskripte terug te pos nie. ’n Selfgeadresseerde koevert met die korrekte seëls daarop kan in sommige gevalle die kans verhoog dat jou manuskrip teruggepos word. 

* Nie alle uitgewers is bereid om die redes vir afkeuring van ’n manuskrip te verskaf nie. Moenie toegee aan die versoeking om in ’n woordewisseling met ’n uitgewer betrokke te raak of redes te eis waarom jou manuskrip afgekeur is nie. Beskou dit as ’n guns dat iemand wel jou manuskrip gelees en kosbare tyd daaraan bestee het. ’n Telefoonoproep of e-pos gaan beslis nie ’n uitgewer oortuig om jou afgekeurde manuskrip uit te gee nie!

* Indien ’n uitgewery jou manuskrip afkeur, staan dit jou vry om dit aan ’n ander uitgewery voor te lê of dit vir skryfwedstryde in te skryf.


No comments:

Post a Comment