Monday, July 12, 2010

Spookstories

Iemand (’n joernalis) vra die anderdag vir my of ek met spookstories grootgeword het. Die vraag het gekom na aanleiding van die feit dat ek dikwels stories met ’n griltema skryf. En na aanleiding van die feit dat ek in die Karoo grootgeword het, waar stories - en ook spookstories of goëlstories - volop is. Die antwoord op hierdie vraag is ongetwyfeld ja. 
Ek onthou dat ek van kleins af stories gehoor het oor hoe daar byvoorbeeld in my oupa se tyd ‘n driffie op ons plaas was waar enige perd of donkie snags onverklaarbaar onrustig en steeks geword het. Ek onthou hoe my pa-hulle in ‘n stadium snags vreemde ligte in die veld op ons plaas gesien het. Ek onthou die grillige storie van die Heks van Hexrivier op my Storieman-kassette. Ek onthou stories oor hoe mense partymaal snags vir oulaas jou deurklokkie kom lui nadat hulle die tydelike met die ewige verwissel het. Ek onthou hoe Tania Hoorn, ’n meisie wat saam met my op skool was, laat een nag vir ons klas vertel het van onaardse dinge wat in haar ouma se huis gebeur het (ek sal nooit die prentjie van daardie baba- en katspoortjies in die suiker vergeet nie - ek het daardie nag huis toe gehardloop, so vrek bang was ek!). Ek onthou selfs ’n baie grillerige voorval waar ’n lappop wat my sussie iewers geërf het, eendag iets baie, baie vreemd gedoen het (maar dis ’n storie vir ’n ander dag - en boonop was dit waarskynlik te wyte aan my kinderverbeelding ...).
Maar die feit bly staan, spookstories is vir my eindeloos boeiend. Miskien veral omdat diegene wat dit vir jou vertel, gewoonlik so heilig oortuig is van die waarheid daarvan (of jy nou self skepties is of nie). Daarom was dit vir my groot pret om saam met Fanie Viljoen (wat oorspronklik met die idee vorendag gekom het) en François Bloemhof ’n hele bundel spookstories te skryf. 13 Spookstories het pas by LAPA Uitgewers verskyn. Die vier stories wat ek daarin geskryf het, is op ’n manier ’n huldeblyk aan almal wat in my jongdae vir my stories vertel het wat my snags uit die slaap gehou het. En nou kry ek die kans om dieselfde te doen!

No comments:

Post a Comment