Tuesday, October 26, 2010

Grilstories (spesiaal vir Halloween)


Ek is jaloers op Amerikaanse kinders. Om geen ander rede nie as dat hulle Halloween vier. Ek weet sommer ek sou kleintyd nagte lank wakker gelê het om die perfekte Halloween-kostuum te beplan.

Hier by ons probeer ’n paar winkels elke jaar munt slaan uit die oorsese Halloween-tradisie deur allerlei grillerige lekkergoed en kostuums en speelgoed te verkoop. Maar ek dink nie die tradisie gaan ooit regtig wortel skiet hier op Afrika-bodem nie. Die Afrikaanse vertaling, Allerheiligeaand, laat dit buitendien klink soos iets wat jy stigtelik by die huis moet deurbring. Net sowel, want daar is waarskynlik min Suid-Afrikaanse ouers wat hul kinders op 31 Oktober gaan toelaat om aan vreemdelinge se deure te gaan klop om lekkergoed te vra.

            Maar dit bring my by grilstories.

“Hoekom lees kinders grilstories?” vra ’n bekende letterkundige my op ’n dag.

            “Want kinders hou daarvan om bang gemaak te word,” antwoord ek sonder om ’n oomblik na te dink.

            Om een of ander rede het hy my antwoord baie amusant gevind. Waarskynlik omdat hy gedink het ek spot.

            Maar die waarheid is, dis soms fantasties om te skrik. Veral as dit ’n lekker boekskrik is – die soort wat jou lank ná slaaptyd nog met ’n boek laat wakkerlê, en wat ná die lig afgesit is nog so bietjies-bietjies by jou spook en jou laat wonder of daar dalk iets onder jou bed wegkruip.

            Ek vrek nou nog oor ’n goeie grilstorie. Maar geen grillerige storie, hetsy boek of fliek, is ooit weer so goed soos dié wat jy gelees of gekyk het toe jy so nege of tien jaar oud was nie.

            Ek wéét party ouers hou nie daarvan dat hul kinders grillerige stories lees of kyk nie. (Net soos party mense jou dadelik sal waarsku dat die skynbaar onskuldige Halloween-viering uit allerlei onheilige tradisies spruit.) As jy weet jou kind het probleme met bangmaakgoed, is dit waarskynlik goed om hom of haar daarteen te beskerm. Maar andersins, as jou kind mal is oor grilboeke, asseblief, moenie hom of haar die lekkerte van ’n scary boek ontsê nie. Ek weet van menige ouer wat kan getuig dat grilboeke haar leestrae kind se leeslus laat vlamvat het.

            So, op die vooraand van Halloween, terwyl die Amerikaanse kinders in hul hordes die donker strate invaar met fantastiese kostuums (of dalk nie, want ek lees ook daar het "stranger danger" lankal sy tol geëis), gun jou kind ’n bietjie van die Halloween-pret en koop vir hom ’n lekker grillerige storieboek. Een wat julle dalk sommer so saam-saam kan geniet. Wie weet, dalk is jy die een wat vanaand wakker lê en wonder of daar iets onder die bed wegkruip ... 

No comments:

Post a Comment