Tuesday, October 19, 2010

Watter rympies uit jou kinderdae onthou jy nog?


“Watter rympies uit jou kinderdae kan jy die beste onthou?” vra iemand my anderdag.

            En dadelik kom ’n paar versies en grepe uit kinderrympies by my op.

            Toe ek klein was, was my ouma Catherina ’n bykans onuitputlike bron van versies wat sy indrukwekkend uit haar kop kon opsê. Ek is van kleins af lief vir vroeg opstaan, en ek onthou hoe lekker dit was om vroegoggend terwyl die res van die huis nog slaap, by Ouma Beaufort in die kombuis te sit terwyl sy gediggies resiteer.

My oupa Salomon, aan my pa se kant, was dalk nie soseer ’n rympie-mens nie (Jakkals-en-Wolf-stories was sy forté!), maar hy het ’n baie ondeunde sin vir humor gehad, en ek was nog baie klein toe hy my hierdie juweeltjie geleer het:

            Jan Tiet

            Jan Tat

            Jan Hawersak

            Jan Vinger-in-die ...

            Oukei, die res van die rympie is dalk nie heeltemal geskik vir publikasie op hierdie blog nie. Maar die kleintydlekkerte van daardie eenvoudige, ritmiese rympie, met vloekwoorde wat jy durf sê het omdat Oupa dit immers vir jou geleer het, dit kan ek baie goed onthou. In my eie versebundel ’n Brulpadda in my tas (LAPA Uitgewers, 2008) verskyn ’n gewysigde weergawe van Oupa se kleintydrympie, ’n grilrympie wat begin met die woorde:

            Jan Skeeloog

            Jan Kouebloed

            Jan Geeloog

            Jan Horrelvoet

            Ek het eers onlangs besef hoe ’n onuitwisbare indruk party van hierdie kleintydversies op my gemaak het. Uit die versebundels wat ons in Sub A in die klas gehad het, onthou ek:

            Jakkals nooi vir gansie

            kom eet vanaand by my

            Daar’s heerlike ou kossies

en uintjies uit die vlei.

En uit een van daardie andersins vervelige Afrikaanshandboeke wat ons op laerskool gehad het, die heerlike:

Wiele is ’n lekker ding

as hul oor die grootpad sing.

As jou ryding gladweg loop

wil jy sommer nog een koop.

Die afgelope paar jaar versamel ek bundels met Afrikaanse kinderverse. Een van my gunstelinge is W. Versfeld se Springbok Rympies en Stories Voor die Kinders, wat ek by my uitgewer en vriendin, Miemie, present gekry het. Die boek is weliswaar vol eerste pogings om bekende Engelse nursery rhymes in Afrikaans te vertaal, maar dit verteenwoordig die begin van ’n prettige tradisie van Afrikaanse kinderverse.

            ’n Mens kan baie skryf oor die opvoedkundige waarde van versies en rympies vir kinders, en die rol wat rym en ritme speel in taalontwikkeling, geheue-ontwikkeling, en dies meer. Maar ek laat dit maar voorlopig aan slimmer mense oor.

            Dis in die eerste plek die pret en avontuur en ondeundheid van my kleintydse gunstelingversies wat my geïnspireer het om self kinderrympies te skryf soos dié in Wurms met tamatiesous, ’n Brulpadda in my tas, Die Teddiebeerbus en My boetie dink hy’s Batman. En as ek die slag ’n versie skryf wat my plesier verskaf, is ek vir ’n oomblik terug op Oupa se stoep in Carnarvon se hoofstraat, in Ouma Beaufort se kombuis, of op die mat in juffrou Esmé Swanepoel se klas in Sub A.

No comments:

Post a Comment

Post a Comment