Thursday, August 25, 2016

VYF VRAE AAN MARITA VAN DER VYVER

Fotograaf: Francois Pistorius
 1. Jy het al soveel boeke die lig laat sien, jou boeke word gereeld vertaal en oorsee uitgegee. Maak die verskyning van 'n nuwe boek jou steeds opgewonde?
Daar is nie soveel boeke vertaal en oorsee uitgegee soos ek graag sou wou hê nie, hoor. In elk geval nie genoeg om my hier oorsee aan die lewe te hou nie. Maar elke keer as ek dit in die openbaar sê, dink mense ek is maar net vals beskeie, so ek het opgehou om dit te sê. Ja, die oomblik wanneer ek ’n nuwe boek die eerste keer in my hande hou en die bladsye ruik en die papier onder my vingers voel, is die één oomblik wanneer al die sukkel en swaarskry van skryf steeds vir my die moeite werd voel.

2. Kan jy onthou wat die eerste vonk was wat tot die skryf van Al wat ek weet gelei het?
’n Insident in my motor toe ’n onbeskofte Franse fietsryer my heeltemal onnodig uitgeskel het, en my liewe, saggeaarde man my nie “verdedig” het nie. Toe begin ek wonder oor stilbly en wegkyk, en wanneer mens moet praat en wanneer mens moet stilbly, en wat sou gebeur het as ek so ontsteld was dat ek ’n ongeluk gemaak het ... Daardie insident het gelei tot die ongelukstoneel in Al wat ek weet, waarin Gabriel se ma dood is. Vreemd hoe verbeelding werk, nè.

3. Gabriel is regtig ’n onvergeetlike karakter. As jy saam met drie karakters uit enige van jou boeke middagete kon gaan eet, wie sou dit wees? 
Gabriel, beslis, omdat ek hom beter wil leer ken. En Hanna Hoekom se babasussie, Ariel, wat teen dié tyd 'n tiener met rooi hare sal wees (Swemlesse vir 'n meermin) omdat ek dink sy en Gabriel sal van mekaar hou. En dan moet ek seker ook ’n “grootmens” nooi om vir my geselskap te hou as die tieners verveeld raak met my. Ek dink ek sal vir Mart Vermaak uit Die dinge van 'n kind kies – omdat sy, soos ek, nooit vergeet het hoe dit voel om ’n tiener te wees nie.  

4. Hoe het jy dit reggekry om jou so oortuigend in die wêreld van performance poetry in te grawe? Was dit 'n uitdaging om die gedigte/lirieke te skryf? 
Ek het baie navorsing op internet gedoen en met performance poets gepraat en letterlik ure lank YouTube-videos gekyk – wat heeltemal te lekker was om soos “navorsing” te voel – maar ek het ook deur die jare drie tienerseuns in die huis gehad. Veral die jongste, Hugo, het onophoudelik rap en hiphop geluister, wat my moontlik meer verdraagsaam teenoor hierdie soort geraas gemaak het as baie ander “grootmense”. Die rympies het gevoel soos ’n terugkeer na my tienerjare toe ek ’n universiteitsbeurs met my gedigte gewen het. In D.J. Opperman se poësie-laboratorium op Stellenbosch het ek soveel ontsag vir digters ontwikkel dat ek heeltemal ophou dig het. Dis omtrent die enigste genre wat ek nog nie aangedurf het in my gepubliseerde werk nie. Daarom was dit vir my héérlik om op so ’n beskeie manier weer met woorde en rym te speel in hierdie boek. 

5. Watter deel van die skryfproses geniet jy die meeste? En wat is vir jou die slegste deel daarvan?  

Die begin, wanneer ek die karakters en die storielyn uitdink en die moontlikhede nog eindeloos is, is vir my altyd opwindend. Daarna voel dit met elke paragraaf wat ek skryf asof ek hekke agter my toemaak; die paadjie word al hoe nouer en steiler, omdraai word al hoe moeiliker. Die aakligste deel is as al die hekke toe is, die paadjie is gekies, die storie is geskryf en nou moet dit geredigeer word. Dit voel altyd vir my soos om my antwoorde in ’n skooleksamen weer ’n keer deur te lees terwyl ek eintlik buite wil gaan speel.

No comments:

Post a Comment