Wednesday, August 31, 2016

VYF VRAE AAN THERESA VAN BAALEN

1. Kortliks, wie is Sanri Steyn, oor wie jy nou reeds ses boeke geskryf het?
Sanri Steyn is ’n twaalfjarige meisie wat daarvan droom om eendag ’n joernalis te wees. Maar sy wil nie sommer enige joernalis wees nie. Sy wil die beste, beroemdste joernalis óóit wees ... Superjoernalis Sanri Steyn.

2. Is daar enige ooreenkomste tussen jou en Sanri?
Toe ek twaalf was, was ek baie soos Sanri. Ek was nuuskierig, ek het altyd ’n slim antwoord gehad vir alles (wat my gereeld in die moeilikheid laat beland het, want onderwysers en ander grootmense hou nie daarvan as kinders terugpraat nie). Ek wou egter nooit ’n joernalis word nie, maar ’n skrywer, en nes Sanri het ek daarvan gedroom dat my naam op almal se lippe sal wees ... Superskrywer Theresa van Baalen. Vandag is ek steeds nuuskierig, maar ek het geleer om (partykeer) stil te bly en nie altyd terug te praat nie.

3. Wat is van die lekkerste terugvoering wat jy tot dusver oor die reeks gekry het?
Ná die eerste twee Sanri-stories verskyn het, het Sanri ’n e-pos van ’n dogtertjie ontvang wat gevra het Sanri moet nog van haar opwindende speurverhale vir LAPA stuur. Dit was vir my heerlik om te kry, want dis juis wat ek met Sanri probeer bereik het: om die “outydse” tipe speurverhaal (wat my gunsteling-leesstof was as kind) op ’n vars manier te benader en dit só te skryf dat vandag se kinders plesier daaruit sal put. Ek het ook vroeër vanjaar, tydens besoek aan ’n paar skole, besef dat die seuns Sanri net soveel geniet soos die meisies. Ek het lank gewonder of seuns aanklank sou vind by ’n vroulike hoofkarakter, en dalk is dit die feit dat Sanri en Markus ’n span is, of dalk, in die lig van die opwinding en aksie, maak die geslag van die karakters nie vir die lesers saak nie, maar iets omtrent Sanri werk vir almal.

4. Wat is die uitdagings wanneer jy 'n hele reeks boeke oor karakters soos Sanri en Markus skryf?
Dit vat nogal kophou om te verseker Sanri en Markus se persoonlikhede skemer deur in elke boek en dat ek nie hulle karaktereienskappe met mekaar verwar nie. Ek moet ook rekord hou van klein details sodat ek myself nie in verdere stories verspreek nie, byvoorbeeld straatname, die dinge waarvoor Markus allergies is (magrietjies laat hom nies, maar laventel nie), hulle juffrou en sommige klasmaats se name, die feit dat Raaiselfontein se Kerkstraat geen kerk het nie, ensovoorts. As kind het ek dit verpes as ’n reeksskrywer nie sy feite (wat hy self geskep het) kon regkry nie! Daarby is dit beslis ’n uitdaging om elke keer met ’n vars nuwe idee vir ’n storie vorendag te kom en dit só te skryf dat dit inpas by die reeks. Maar gelukkig is die moontlikhede eindeloos.

5. Wat is vir jou die lekkerste deel van die skryfproses? En die slegste?

Vir my is die lekkerste deel van die skryfproses om te sien hoe ’n storie ontvou. Ek is die heel eerste leser van die stories wat ek skryf, en dit gebeur min dat ek werklik aan die begin van ’n storie weet wat in die middel gaan gebeur. Ek weet gewoonlik waar ek die storie wil begin en hoe ek dit wil eindig, maar die gedeelte tussen die begin en die einde is dikwels vir my net so ’n groot verrassing soos vir die lesers. Die slegste deel van die skryfproses is om die storie te laat gaan as dit uiteindelik kant en klaar is, en die uitgewer is tevrede. Ek treur gewoonlik ’n hele paar dae en sukkel om my gedagtes by ’n nuwe storie te bepaal, en verrig allerhande fisiese take om my aandag af te lei. Dan, ná ek al die magrietjiebosse gesnoei het, die huis van bo tot onder blinkskoon gemaak het en die motor gestofsuig het, is ek gewoonlik gereed om ’n nuwe storie aan te pak. Dis wanneer die lekkerte van voor af begin.



* Die twee nuutste Sanri Steyn-boeke, Die monsters van Middernagstraat en Die nag van die weerwolwe, is nou in boekwinkels beskikbaar - of bestel dit direk by LAPA Uitgewers: (012) 401 0700 of lapa@lapa.co.za

2 comments:

  1. Dit lyk na baie oulike boeke. Ek sal dit beslis vir my dogter gee (as ek klaar is daarmee!) Dit is wonderlik dat die kinders soveel wonderlike jeugverhaalskrywers vandag het. Dankie ook aan Jaco Jacobs vir jou oulike boeke!

    ReplyDelete
  2. Baie dankie, Mariette! Die Sanri-boeke lees regtig heerlik - jou dogter gaan dit geniet!

    ReplyDelete