Tuesday, March 22, 2011
Voorgeskrewe boeke op skool: Tandekners of toeganklik?
As jy party mense vra watter gedigte en boeke die grootste indruk op hulle gemaak het, sal baie vir jou die name van boeke noem waarmee hulle op skool in die Afrikaans- of Engelsklas kennis gemaak het. Kringe in ’n bos of “Die kind” van Ingrid Jonker of Animal Farm of To kill a mockingbird of Lord of the flies. Laasgenoemde twee voorgeskrewe boeke is ook steeds op my persoonlike lys van allergunstelinge.
Maar as jy baie mense vra waarom hulle nie van lees hou nie, sal hulle ook vir jou sê dat hulle op skool ’n ewige renons in letterkunde gekry het. Die rede: sieldodend vervelige voorgeskrewe boeke en gedigte.
In my matriekjaar het ons Die uurwerk kantel van Marié Heese behandel. Laat ek dadelik byvoeg ek het baie van die boek gehou en ek kan tot vandag toe ’n paar gunstelingtonele daaruit onthou (onder meer die toneel waar ’n bryende tannie iemand die skeldnaam “moervreter” toesnou) – maar die oorgrote meerderheid van my klasmaats het sleepvoet Afrikaansklas toe gestap. Een van my pelle het die tyd omgekry deur ’n body count te hou van al die karakters in die boek wat doodgaan namate die storie hom ontvou en die vroulike hoofkarakter ’n bejaarde geword het. (Ek moet darem ook byvoeg: 'n Ander pel van my het die boek ook ontsettend baie geniet en dis steeds een van sy groot gunstelinge.)
Van die poësiegedeelte van die sillabus praat ek nie eens nie. Die meeste ouens het by voorbaat op hul arms gelê en slaap as ons elke jaar die voorgeskrewe aantal gedigte begin uitmekaartrek het; een gedig per periode, een reël op ’n slag.
Dis ’n moeilike vraag: Hoe kies jy voorgeskrewe boeke wat skoolkinders lief sal maak vir letterkunde?
Aan die een kant voel ’n mens skool is dalk die enigste keer dat sommige kinders kennis sal maak met die “grotes” in die poësieskat, of met Shakespeare en Orwell en ander klassieke skrywers.
Maar aan die ander kant wil ’n mens ook hê kinders moet die geleentheid kry om te voel hoe dit voel wanneer ’n gedig of kortverhaal of roman so sekuur tot jou leefwêreld spreek dat jy nie anders kan as om verlief te raak daarop nie, al is jy nie iemand wat daarvan hou om met jou neus in ’n boek te sit nie.
Ek is bly dis nie my werk om voorgeskrewe werke te kies nie, want dit moet ’n haas onbegonne taak wees om hierdie twee dinge te versoen – die “plig” van klassieke werke versus die “plesier” van moderne, toeganklike stories.
Drie publikasies waarby ek die afgelope paar jaar betrokke was, poog myns insiens om hierdie twee idees te versoen.
Die kortverhaalbundels Skreeu en Sweef, saamgestel deur Adinda Vermaak en Marieta Nel, bevat albei verhale wat eksklusief op tieners se leefwêreld fokus. Dit is stories wat vanuit die perspektief van tieners vertel word en wat oor hul leefwêreld handel. Stories oor verlief wees en woedend wees en bang wees en verward wees. Lekkerleesstories en uitdagender stories met ’n meer “literêre” aanslag. Stories wat hopelik sal help om voorgeskrewe periodes draagliker te maak - of dalk selfs onverwags opwindend.
En dit is ook wat ek probeer doen het met die bloemlesing Toulopers, wat pas by LAPA Uitgewers verskyn het en waarvan ek die samesteller is.
Ek het bydraers genooi om gedigte vir tieners van ongeveer 12 tot 15 jaar te skryf. Gedigte wat nie net óór tieners handel nie, maar wat vanuit hul perspektief geskryf is. Gedigte oor hoe dit voel om suikersoet-sak-sarel-verlief te raak of jou eerste gedig te skryf. Gedigte oor bands en Facebook. Gedigte oor emo kids, sokker en Susan Boyle. Gedigte wat in ’n vars, funky baadjie verskyn met Nicolene Louw se fantastiese, tienervriendelike illustrasies daarby. Gedigte wat hopelik sal help om die ouens wat op hul arms lê wanneer voorgeskrewe gedigte behandel word, minstens te laat opkyk. En wie weet, dalk sal Erns Grundlingh, Izak de Vries of Marietjie Vos se gedigte, met hul intertekstuele verwysings na “klassieke” Afrikaanse gedigte, tog hier en daar ’n jonger leser help lei na die ouer poësietekste.
* Klik hier vir ’n resensie van Skreeu:
http://www.jip.co.za/musiek/Skreeu-n-blerrie-goeie-bundel-vir-tieners
* Lewer gerus kommentaar en laat weet watter voorgeskrewe boeke jy op skool geniet of verpes het.
Thursday, March 3, 2011
Nuwe Stephen King-boek
DAAR'S 'N NUWE STEPHEN KING-ROMAN OP PAD!
So ja.
Ek moes dit net kliphard sê.
Die (baie vreemde) titel is 11/22/63 en dit gaan glo oor 'n onderwyser wat terugreis in tyd om die Kennedy-sluipmoord te probeer verhoed. Volgens die uitgewer is dit om en by 'n whopping 1 000 bladsye lank. Ongelukkig verskyn dit eers November vanjaar, maar dit gee my iets om die res van die jaar na uit te sien. Die afgelope Desembervakansie het ek sy nuwe kortverhaalbundel, Full Dark, No Stars, gelees en dit was fantasties. Ek dink ek het meer na daardie boek uitgesien as wat ek kleintyd na Krismis uitgesien het, net soos ek 'n jaar of wat gelede die dae afgetel het totdat ek Under the Dome in die hande kon kry. (Daai ene het my 'n halwe Desembervakansie besig gehou.)
Afgesien van een swakkerige verhaal ("Fair Extension) was Full Dark vir my King op sy beste. Twee van die stories, "1922" en "Big Driver", is die soort wat lank by 'n mens bly spook - ek dink nie ek sal ooit weer aan 'n waterput op 'n plaas kan dink sonder om aan daardie rotte te dink nie ...
Ek gee nie om dat baie mense dink King is 'n vrot skrywer nie - die punt is, min skrywers kan doen wat hy doen: onvergeetlike karakters skep en die soort prosa skryf waarvan jy (oukei: ek) net nie genoeg kan kry nie.
Buitendien, ek dink elke ywerige leser het minstens één skrywer na wie se nuwe boek hy/sy telkens met matelose opwinding uitsien.
Subscribe to:
Posts (Atom)