Thursday, September 20, 2012
’n Belangrike titel
Wednesday, August 1, 2012
Hoekom skryf ek?
Wednesday, June 20, 2012
Die storiebegraafplaas
Monday, June 4, 2012
Al die meisies hou van ...
Wednesday, May 9, 2012
En nou vir 'n advertensiebreuk ...
Tuesday, May 8, 2012
Uitgewerskontrakte, VVV’s en huiswerkvretende renosters
Thursday, April 12, 2012
Skryf en tamaties plant
Iemand vra my nou die dag: Wat is die moeilikste deel van ’n storie skryf – die begin of die slot?
Vir my is die antwoord heel eenvoudig: Die middel.
Kom ek verduidelik dit met ’n (vir my) onwaarskynlike analogie: Tamaties. Ek het die afgelope somer besluit om weer eens, ondanks my lank bewese gebrek aan groen vingers, iets te probeer plant. In hierdie geval was my keuse kersietamaties. Ek is mal daaroor, en my pa het laas jaar een stoel gehad wat hulle byna die hele somer lank van tamaties voorsien het.
Nou kom ons begin by die begin. Dis die opwindende deel – van die tamatieplantery en van die storieskrywery. Dis die deel waar jy saad by die kwekery gaan koop, en sommer potgrond en ’n nuwe tuinvurk en ’n pot of twee ook aanskaf. Dis die deel waar jy verwonderd staar na die blinkrooi tamaties op die pakkie. Skryfgewys is dit die deel waar dit maklik is om spitsvondige beskrywings en kraakvars dialoog af te vuur, waar die storie nog knetter van potensiaal en die idees wag om ryp te word.
Die einde is, vir my in elk geval, ook relatief maklik om te raai. Ek weet ek wil tamaties hê. Ek is dalk nie heeltemal seker hoeveel van hulle daar gaan wees en of hulle so mooi soos op die pakkie gaan wees of so oorvloedig baie soos my pa s'n verlede jaar nie, maar dis wat ek hoop om te kry – tamaties. As ek skryf, het ek gewoonlik ook min of meer ’n sekere einde in gedagte.
Maar hier kom die moeilike deel, as jy tamaties plant soos ek of skryf soos ek: die middel.
Die middel is die deel waar jy elke dag moet onthou om die saad nat te gooi, duim vashou dat iets gaan opkom, die brose saailinge moet oorplant, en hoop roes of goggas of wat ook al kom nie die plante by nie. Dis die deel wat harde werk is. Dis die deel waar jy moet besluit watter onkruiddoder om te gebruik, moet raai hoeveel kompos om te gee en heimlik wonder of jy nie te gereeld of te ongereeld natmaak nie. Storiegewys is dit die deel waar jy wonder of jy nie te veel droogmaak nie. Dis die sitvlak-op-stoel-gedeelte van skryf. Met skryf, nes met tamaties, is dit die deel waar die ongeduld jou kan opvreet.
Maar met skryf, nes met tamaties, is dit ongelukkig ook die deel wat bepaal of jy ooit by die einde gaan uitkom wat jy in gedagte gehad het.
My manier om dit makliker te probeer maak, wat skryf betref, is om te beplan. Ek werk vooraf ’n storieraamwerk uit, ’n soort padkaart om my by die einde uit te bring. Meestal rank die storie steeds waarheen hy wil, en dis wat stories doen, so moenie te veel daarteen baklei nie. ’n Rigiede raamwerk kan ’n storie kniehalter. Maar vir my is die raamwerk meestal die stok waarteen ek die rank probeer oplei sodat hy hopelik kan groei en vrugte dra.
En my tamatie-oes? Op die foto hier bo pryk drie bloedrooi kersietamaties. Ja, Farmer Brown, hulle lyk so klein, want hulle was so klein. En ek is jammer om te sê dié drietjies was ook die somtotaal van my oes vir die somer. Groen vingers het ek helaas nie.
Maar ek het hulle nogtans een middag met groot smaak gesit en opeet, so trots soos enige tuinier op sy oes.
En wat die skrywery betref: Ek is op die oomblik reg in die middel van 'n nuwe boek. So, hierdie bloginskrywing was net 'n lekker verskoning om nie my metaforiese tamaties te gaan natgooi nie ...
Sunday, February 5, 2012
Tydskrifstories
Ek het die afgelope tyd weer ’n tydskrifstorie of twee geskryf. Sommer net vir die lekkerte daarvan, en om te kyk of ek dit nog kan doen. En, om eerlik te wees, uit skone nostalgie.
Ek het in my skooldae reeds die eerste keer probeer om vir tydskrifte te skryf. Van my heel eerste pogings lê nog hier tussen my opgegaarde papiere – sommige van hulle nog op so ’n antieke tikmasjientjie getik wat my pa vir ’n appel en ’n ei op ’n veiling gekoop het. Daardie eerste pogings van my (ek onthou titels soos “Die Paddastoelplakkerskamp”, “Bertie se wraak” en “Muis” – waaroor ek nou natuurlik innerlik cringe) het ek aan elke denkbare tydskrif probeer afsmeer – van Rapport Tydskrif tot Huisgenoot en Keur en Sarie en rooi rose. Ek het sommer gou ’n heel indrukwekkende stapeltjie afkeurbriewe bymekaargemaak. Party tipiese “stock letters” (“Baie dankie vir die voorlegging ... ongelukkig nie reg vir ons mark nie ... baie sterkte met u verdere skryfwerk ...”), ander darem ’n bietjie meer persoonlik. En party genoeg om ’n sestienjarige aspirantskrywer se moed byna-byna te breek, soos die destydse Keur se verhaleredakteur wat nie ’n briefie saamgestuur het nie, maar bloot met pers koki bo-oor my kosbare manuskrip geskryf het: Verhaal haal nie die paal.
My eerste twee stories is, met baie hulp en geduld van François Bloemhof, destyds verhaleredakteur by Sarie, in my matriekjaar vir publikasie aanvaar. Ek onthou nog dat Patricia Lewis voorop die uitgawe was waarin my eerste storie verskyn het. En dat ek ’n tjek ter waarde van R750 ontvang het, wat ek by die videowinkel op die dorp gaan afrol het voordat ek dit inbetaal het.
In my studentejare was tydskrifverhale ’n nuttige manier om sakgeld te verdien. Maar meer as dit – ek dink dit het my ook kosbare skryflesse geleer.
Soos om gedissiplineerd te skryf, byvoorbeeld, en jou by die redakteur se vereistes te hou. Daardie eerste storie van my wat uiteindelik gepubliseer is, was 1 500 woorde lank toe François aangedui het dat Sarie daarin belang stel. Dit moes uiteindelik 750 woorde wees. Ek onthou hoe ek later met die uitdruk in die bad gelê en telkens triomfantlik in die kantlyn aantekeninge gemaak het as ek daarin kon slaag om nog ’n woord of twee te vermorsel.
Tydskrifstories het my voorberei op die meedoënlose redigeerwerk wat soms nodig is om ’n stuk skryfwerk gereed te kry vir publikasie. Daarom het ek my gelukkig nie doodgeskrik toe ek die eerste keer ’n manuskrip vir ’n uitgewery stuur en daar van my verwag is om ’n leërskare van my “darlings” dood te maak nie.
Ek weet daar is party skrywers wat dit haat as jy aspirantskrywers aanraai om met ’n teikenmark in gedagte te skryf. Vir my, egter, was dit nog altyd belangrik om te weet vir watter teikenmark ek skryf – dalk omdat ek soms vir kleuters skryf, soms vir beginnerlesers, soms vir tieners, en soms vir volwasse koerantlesers. En in daardie opsig het tydskrifverhale my baie gehelp. Voordat jy ’n storie vir ’n tydskrif stuur, beter jy sorg dat jy ’n goeie idee het van sy mark. (Terloops, my eerste Sarie-storie, “Nagskof”, het oor ’n vampier gegaan. François het baie jare later teenoor my erken dat lesers hom baie opdraande gegee het daaroor – bowenal omdat dit in die Kersuitgawe verskyn het!)
Oorsee plaas hoofstroomtydskrifte byna glad nie meer verhale nie, en die afgelope paar jaar het die mark vir Afrikaanse tydskrifverhale ongelukkig ook gekrimp. Dis jammer. Ek sal nooit die opwinding vergeet as ek hoopvol ’n blou-en-rooi FastMail-koevert in die pos gooi nie, kompleet met ’n selfgeadresseerde koevert binne-in ingeval die verhaleredakteur nie van my storie hou nie. En die vreugde as daar ’n koevert met die tydskrif se logo voorop terugkom ...
Wednesday, January 18, 2012
2012 teen ’n (blog)slakkepas
Hier is dit sowaar al die 19de Januarie, en ek plaas nou eers my eerste bloginskrywing vir die jaar. Skandelik.
Ek het darem nie die eerste byna drie weke van 2012 in alle opsigte teen dieselfde slakkepas begin nie. Ek is byna twee weke lank terug in die soutmyn, en ek het so tussendeur ’n manuskrip klaargemaak en voorgelê, aan ’n nuwe storie begin werk (waaroor ek baie opgewonde is, soos ’n mens veronderstel is om te wees oor ’n storie waarvan jy nog net vier hoofstukke geskryf het), en ek is besig om by te skryf aan ’n niefiksieboek wat later vanjaar verskyn.
Aan die begin van die jaar dink ek altyd: Vanjaar gaan ek sweerlik niks geskryf kry nie – ek het nie één enkele idee nie. Maar op een of ander manier gebeur dinge darem (touch wood!) altyd, selfs al doen ek nie noodwendig goeie voorafbeplanning nie. Iemand sê nou die dag vir my: Skryf nou soveel soos jy kan, want as die baba eers daar is, gaan jy minder tyd kry. Maar ek troos myself daaraan dat ek in die verlede gewoonlik op my produktiefste was wanneer ek baie gehad het om te doen en tussendeur alles in afknyptydjies moes skryf. (En nou hoop ek natuurlik hierdie is nie my beroemde laaste woorde nie ...)
O ja, die afgelope week het ek ook my laaste rubriek vir Rapport klaargemaak. Die koerant se tydskrif gaan ’n opwindende revamp kry, en die rubrieke waai. Dit was nogal hartseer om ná jare afskeid te neem van my rubriekruimte, maar ek gaan darem voort met my kwartaallikse rubrieke vir Baba & Kleuter en élan.
Hierdie week het ek proefillustrasies gekry vir ’n nuwe kinderboekreeks van my wat later vanjaar verskyn. Ek en my uitgewer is mateloos opgewonde oor die pics. Dis ’n nuwe illustreerder, wat klaarblyklik ook boekontwerp verstaan. Ek kan nie wag om die finale produk te sien nie.
Nou ja, vanoggend was ek lui vir skryf, want die ergste hitte in Bloem is effens gebreek deur ’n lekker reënbui wat gisteraand uitgesak het, en ek het met Pippie gaan stap eerder as om tyd voor my Mac deur te bring – so, daarom het ek maar gou voor werk hierdie paar woorde vir my blog kom skryf. En nou is dit volstoom aan die werk. (Of dalk moet ek eers gaan koffie maak ...)
Voorspoed vir 2012!