Ek gaan die jaar afskop met ’n preek. Soos die
meeste preke bevat dit nie noodwendig nuwe inligting nie – trouens, van die
dinge wat ek hier sê, het ek waarskynlik reeds in vorige inskrywings kwytgeraak
– maar soos talle predikers maak ek staat op die ou beleid van inskerping deur
herhaling. So, kom ons laat waai ...
1.
Kinderboeke is nie ’n vinnige manier om geld te maak nie. Ek
is by meer as een geleentheid al gevra of ek kinderboeke – eerder as boeke vir
volwassenes – skryf bloot om geld te maak. Ek kon dit meestal regkry om nie te
lag nie. Sommige kinderboekskrywers verkoop honderdduisende boeke en verdien
goeie geld. Die meeste kan egter nie ’n lewe daaruit maak nie. (Jy weet, daai
ou storie van don’t quit your day job, nè? Dis waarskynlik oorspronklik as raad
vir aspirant-kinderboekskrywers bedoel.) Kinderboeke is allermins die geldkoei
van die boekbedryf. Mense wat so dink, het buitendien geen respek vir die genre
nie – en as daar een ding is wat jy nodig het om hierdie genre suksesvol te
benader, is dit respek. Vir stories, vir karakters en bowenal vir jou lesers.
2. Kinderboeke is nie maklik om te skryf nie. Ja-ja, ek weet. Kort, lawwe storietjies oor oumas wat rocksterre word, aliens wat in swembaddens beland, robotte wat chaos in klaskamers saai, kinders wat ’n spesiale sjampoe uitvind om bleskop-oupas se hare te laat groei. Hoe moeilik kan dit nou regtig wees? Die antwoord, kan ek jou uit persoonlike ondervinding vertel, is: Blerrie moeilik. Probeer dit gerus as jy my nie glo nie.
3. Kinderboeke is nie ’n wegspringblok na volwasse literatuur nie. Baie aspirantskrywers (en selfs sommige literatore en ander slim mense) glo kinderboeke is ’n manier om ’n “voet in die deur” te kry sodat jy later “regte” boeke kan begin skryf. Vroeër het hierdie siening my bloed laat koop, maar hei, deesdae kry ek bloot so ’n kalm, alwetende en hopelik vreeslik irriterende glimlaggie as ek hoor hoe iemand so iets kwytraak. Nou maar reg so. Laat waai, Meraai. Gaan skryf ’n paar kinderboekies voor jy die Groot Afrikaanse Roman aanpak. Probeer dit gerus. Hehehe. Maar vir die rekord: Ek is ’n kinderboekskrywer en ek hou van wat ek doen – ek lê nie snags wakker en beplan aan die belangrike volwasse roman wat ek eendag gaan skryf nie.
4. Kinderboeke word nie noodwendig oornag geskryf nie. Toegegee, die meeste kinderboeke is baie dunner as boeke vir volwassenes, en verg daarom minder skryfwerk. Maar ek kan getuig hoe ek byna vyf maande gewerk het aan my eerste prenteboek – ’n teks met skaars duisend woorde. Ek moes daai duisend woorde seker twintig keer met ’n geween en ’n gekners van tande oorskryf, terwyl ek met byna elke oorskryf die konsep ook moes aanpas. Party tienerboeke het my meer as ’n jaar geneem om te skryf – en dan praat ek net van die eerste weergawe van die manuskrip.
5. Kinderboeke is nie minderwaardige literatuur nie. Die terrein van die kinder- en jeugliteratuur is, nes die volwasse literatuur, geskakeerd – dit wissel van boeke wat primêr op vermaak en ontspanning gemik is, tot boeke waar moeilike kwessies getakel word en waar ’n verskeidenheid literêre tegnieke ingespan kan word om die leser uit te daag. En regoor hierdie spektrum van kinderboeke is daar boeke wat uitstekend geskryf is en boeke wat minder goed geskryf is – nes in die volwasse literatuur.
Nou ja, tot sover my preek. Staan asseblief vir die slotgesang. Kollekte sal by die deur ingeneem word.