Tuesday, August 31, 2010

'n Grillerige pop

Image (c) Jaco Jacobs 2010

Mense vra my dikwels hoekom op aarde ek graag grilstories skryf. Dis nie maklik om te verduidelik nie, want baie lesers neem heimlik aan daar is ’n skroef of twee los met skrywers wat van makabere verhale hou. Of minstens dat jy liefs klein kindertjies en katte van hulle moet weghou.

’n Mens se geheue is ’n vreemde ding, veral as dit by kleintydherinneringe kom. As jy op die internet kan peil trek, meen kenners dat die meeste volwassenes se herinneringe so vanaf die ouderdom van drie jaar strek. Ek kan my kinderdae baie goed onthou, maar soms wonder ek tog hoeveel van die “herinneringe” kom eintlik uit my pa-hulle se vertellings van dinge wat kleintyd met my en my sussie gebeur het.

            Hoe dit ook al sy, een herinnering, vals of nie, uit my kleintyd is van ’n nare pop wat ek en my sussie gehad het. Ek weet nie meer by wie ons dit geërf het nie, want ons plaashuis was vroeër jare my ouma-hulle se blyplek. Die pop het ’n gehawende laplyf gehad en ’n (effe taaierige) rubberkop. By nabetragting weet ek nou dat dit ’n meisiepop was, maar ek het altyd aan die pop gedink as ’n seuntjie. En hy het van daardie oë gehad wat vanself oop en toe gaan, maar hulle was lankal stukkend.

Ek het eendag na ’n speelding gesoek wat weg was, en in die donker onder die bed in die spaarkamer, waar ons speelgoedkas was, gesoek. En daar lê die pop toe. Op daardie oomblik toe ek onder die bed inkyk, het die pop se oë rooi gegloei.

Ek belowe.

Ek onthou dit nog so helder soos daglig.

Of dit ’n kindertydnagmerrie was wat in my brein vasgesteek het, of dalk bloot die produk van my verbeelding (soos baie kinders was ek soms vrekbang vir die monsters onder die bed), dit weet ek nie. Oor die jare het ek die pop-storie al vir baie mense vertel – en eenkeer het ek vir die grap selfs vir ’n pel ’n vreeslike aandikstorie vertel oor hoe die pop een van ons plaaswerkers vermoor het.

Maar ’n paar jaar terug het ek daardie einste pop weer in ons ou plaashuis ontdek. En wragtig, die ding is steeds scary. Hier’s ’n foto, so kyk self as jy my nie glo nie.

Oor die jare het ek daardie pop al in ’n paar stories laat herleef – veral in Harlekyn (Tafelberg-Uitgewers), wat ook op ’n manier my huldeblyk is aan die heerlik grillerige Child’s Play-reeks wat ek in my kinderdae so geniet het. (Daar staan deesdae ’n Chucky-figuurtjie bo die lessenaar waar ek skryf.)

En dis wat grilstories vir my is – ’n manier om weer vir die pop onder die bed te loer. Bangerig, met ’n hart wat woes klop. Maar tog in die hoop dat jy die vorige keer regtig gesien het wat jy gesien het: oë wat rooi gloei. En om dan vir hom te knipoog ...

 

Wednesday, August 11, 2010

Die slymsindroom?

In ’n onlangse bespreking van die sogenaamde “slymsindroom” in Afrikaans (“Kinders geniet onaptytlikhede, maar is dit nodig?”, Volksblad, 10 Augustus 2010, http://www.volksblad.com/Vermaak/Nuus/Kinderlesers-geniet-onaptytlikhede-maar-is-dit-nodig-20100809) word ’n interessante kinderboekverskynsel bekyk, naamlik verwysings na snotterige en slymerige en slykerige dinge waarvoor ordentlike en welopgevoede (groot)mense hul neus optrek. Die artikelskrywer maak ten slotte die punt dat verwysings na “snot” en “poep” selfs die indruk kan versterk dat Afrikaans ’n “kommin, vulgêre taal” is.

            Nou, hierdie stelling verteer ek moeilik. (No pun intended.)

            Eerstens moet ’n mens darem regtig in ag neem dat hierdie sogenaamde “slymsindroom” allermins beperk is tot of uniek is aan Afrikaans. Oorsee het skrywers en uitgewers lankal besef kinders het dikwels ’n fassinasie met dinge wat “beskaafde” grootmense laat neus optrek. Kyk maar na die sukses van die Grossology-reeks, die uiters gewilde doekdraende superheld Captain Underpants se avonture waarin hy onder meer veg teen pratende toilette, Professor Poopypants en die Bionic Booger Boy, of ’n boek soos Who flung dung?. Trouens, van die beste voorbeelde wat die betrokke artikelskrywer aanhaal van sulke boeke in Afrikaans, is dan juis vertalings van buitelandse kinderliteratuur. So, hoe kan dit dan die indruk wek dat spesifiek Afrikaans ’n vulgêre taal is?

            Tweedens (en dis eintlik maar die hele punt – soos die genoemde artikel ook gedeeltelik uitwys), kinders van ’n sekere ouderdom verslind boeke waarin die gesag van volwasenes ’n bietjie uitgedaag word. Dit is daardie ouderdom waarop hulle nog bereid is om hardop te lag vir die keiser omdat hy kaal is (al word Ma of Pa bloedrooi van verleentheid). Die ouderdom waarop hulle nog bereid is om te wonder waarom dit nou juis so taboe is om in jou neus te krap of ’n wind te los – as hulle voor hul siel weet Ma en Pa en Oupa en Ouma doen dit óók soms skelmpies en per ongeluk.

            As jy my vra, was Roal Dahl waarskynlik die belangrikste grondlegger van die idee dat ’n mens kinderboeke (mag?) skryf waarin jy kinders se kant kies en saam met hulle grinnik oor allerlei onhebbelike goed. Selfs al maak jy grootmense die joos in en ontstel jy hul oorbeskaafde sin vir ordentlikheid. Enige iemand wat al ooit na ’n paar laerskoolseuns geluister het, sal weet hoeveel die idee van winde laat hulle byvoorbeeld amuseer. (En glo my, hulle noem dit beslis nie “winde laat” nie.) En noem ’n groep slobberige ruimtewesens die “Snotmonsters van Saturnus” en kyk hoe jy ’n klomp tienjariges laat skater. En die feit dat hulle daarvoor lag, beteken allermins hulle is onbeskaafde, onopgevoede barbare – dit beteken hulle is kinders.

            Die kruks van die saak is iets waarvan ons myns insiens steeds nie heeltemal weggekom het in Afrikaans nie, naamlik dat ons wil hê kinderboeke moet kinders leer om soet en stigtelik te wees.

En jammer, hiermee het ek ’n probleem.

Kinders is veronderstél om soms ondeund of soms pleinweg stout te wees, hul grense te toets, en boeke kan daardie behoefte aan pret en kattekwaad partykeer in ’n groot mate op plaasvervangende wyse bevredig. Buitendien, volwassenes kan soms regtig skokkend naïef wees oor die wêreld waarin vandag se kinders grootword – kom nou, net ’n vinnige blaai deur die koerant of tien minute se speel met die TV-afstandbeheer kan jou kinders aan veel, veel erger dinge blootstel as die (slop)woord “snot” in ’n koddige storieboek.

Ons het waaragtig prettige, opwindende, kindervriendelike, gewilde kinderboeke in Afrikaans nodig – des te meer as jy lees van onlangse navorsing wat beweer Suid-Afrika is die land met die swakste geletterdheidsyfers in Afrika. Jip, jy’t reg gelees – op die hele vasteland. Daarom het ons boeke nodig waarvoor kinders lief raak, wat hulle rasend van opgewondenheid maak om aan te hou met lees – maak nie saak of Ma of Pa of Oupa of Ouma of Juffrou of Meneer so ’n effense sooibranderigheid in die keel voel opstoot nie. Verstaan goed, ek bepleit hoegenaamd nie onnodige en onverantwoordelike naarhede of krasheid, of oorvloedige toilethumor in kinderboeke nie. Allermins. Maar oordrewe preutsheid? Asseblief, spaar ons dit. Gee ons kinders Helen Brain se superondeunde Kry ’n vlieëkoekie en ander krakerige stories, gee hulle nog parmantige speurhelde soos die molletjie wat wou weet wie op sy kop gedinges het, gee hulle meer slymerige wurm-avonture uit Fanie Viljoen se pen.