Ek weet ek gaan hierdie woorde berou, maar hier kom dit in elk geval: Ek dink skrywers behoort gereeld skottelgoed te was.
Terwyl ek gisteroggend vroeg met hierdie nederige ou takie besig was, het ek ongeveer vier hoofstukke van ’n boek geplot. Dit verklaar ook waarom daar Sunlight Liquid-skuim op my Mac se toetsbord was, want voor ek die vuil borde getakel het, moes ek eers gou ’n paar van my meer briljante idees kom neerskryf.
Douglas Adams het gesê: “Writing is easy. You only need to stare at a piece of blank paper until your forehead bleeds.”
En dis wat skryf meeste van die tyd is: ’n eindelose gestaar wat (as jy gelukkig is) soms onderbreek word deur die geklik van die toetsbord as jy ’n sin of twee neerskryf. Ek het al menige oggend die feit berou dat ek vroeg opgestaan het om te skryf, en dan myself betrap dat ek net vir die rekenaarskerm sit en staar. Trouens, dis wat ek meeste van die tyd doen as ek “skryf”. En tog, tussendeur al die gestaar het ek op een of ander manier reeds meer as 70 boeke geskryf. Ek het al talle skrywers hoor kla dat Facebook die letterkunde se grootste vyand is, juis omdat dit inmeng met ’n mens se kreatiewe staartyd.
(Ek het nou hierdie vorige paragraaf oorgelees, en toe in presies so ’n staarsessie verval. Helaas, nie ’n baie kreatiewe een nie, gevolglik gaan hierdie bloginskrywing maar kort wees.)
Ek reken ’n mens kan daardie “staartyd” net sowel inruim terwyl jy besig is met ’n breinlose aktiwiteit soos draf of stap.
Of skottelgoed was.
Maar moenie my vrou vertel nie.
* Die foto is Béla Lugosi se beroemde staar uit die fliek White Zombie.