“Hoe gereeld moet ’n mens nuwe inskrywings op jou
blog plaas?” vra iemand my nou die dag ná ’n praatjie waarin ek voornemende
rubriekskrywers aangeraai het om te begin blog.
“Uhm
... verkieslik weekliks,” antwoord ek plegtig (met ’n gesig wat skuldig gloei).
Ek
kan nie eens onthou wanneer laas ek ’n behoorlike inskrywing (afgesien van die
lekker onderhoud met Marisa Haasbroek oor haar nuwe boek) op hierdie blog
geplaas het nie, en ek is te bang om na die datums te gaan loer.
Maar
hier is dit nou: My Eerste Behoorlike Bloginskrywing in ’n Baie Lang Tyd!
Hier
is my lysie verskonings:
1. Op
die 2de Mei het ons ietwat vroeër as beplan ’n baie klein bondeltjie vreugde
ryker geword. Emma Jacobs was prematuur en het ’n skrale 2,14 kg geweeg (ons moes vir haar popsokkies by Toys R Us gaan koop), maar was gelukkig uit
die staanspoor baie sterk en gesond. Sy is wel so ietwat koliekerig, so ons
pajamadril vir ’n vale. Mia vind die proses van (koliek)winde uitvryf egter
uiters amusant en put tans groot genot daaruit om gereeld almal in die huis se
winde uit te vryf, haar eie inkluis. En bewaar jou as jou “wind” ietwat
halsstarrig is – dan verskaf sy sommer self die gepaste byklanke.
2. Glo
dit of nie, ek was besig om te skryf. Die paar weke voor Emma se geboorte moes
ek ’n hele klomp dringende skryfprojekte klaarmaak. (Terloopse nota: Daar is
twee nuwe Stalmaats-boeke op pad en Tania Brink se nuwe liefdesverhaal sal voor
die einde van die jaar op die rakke wees.) O ja, en ek en Fanie Viljoen het so
tussendeur nog ’n lekker nuwe Hoezit!-feiteboek ook saamgestel. En ek het so
twee of drie tydskrifverhale, webartikels en rubrieke geskryf.
3. My
kollega is ná ’n rockfeesverwante fratsongelukkie geopereer en ons het ’n
ensiklopedie van 360 bladsye gehad wat binne ’n belaglike tyd drukker toe moes
gaan. Buig of bars, ek het die sperdatum so min of meer gehaal, maar in die
proses is tyd en ruimte verbuig, my vooraf beplande “kraamverlof” moes ek
noodgedwonge kanselleer, nuwe vloekwoorde is gemunt, en ek het in die bestek
van drie weke sowat vier jaar ouer geword.
4. Iewers
tussendeur al hierdie chaos het my honderdste boek die lig gesien. Wel, soort
van. Kougom in my hare se eerste
oplaag moes oorgedruk word, wat so ietwat van ’n antiklimaks was, maar eind goed, als goed. (Reklameflits: En as jy dringend nuwe eisteddfod-rympies soek, hier’s die antwoord!)
5. Ek
het aan ’n nuwe rympieboek begin werk, wat meebring dat my kop op die oomblik
konstant vol rymwoorde en vreemde ritmes is. Nou die middag aan etenstafel het
ek myself betrap dat ek in rym met my gesin gesels. (Lekker ritme en
alliterasie hier aan die einde van die sin. Sien?)
En dis dit. My lysie verskonings.
En
nou beter ek eers ophou blog en aan die werk spring. Ek het gisteraand ’n
lekker rympie-idee op my selfoon se MemoPad neergeskryf ... O, en ek dink Mia
soek teen hierdie tyd haar tee.