Die Kaapse joernalis Eldridge Jason se debuut-jeugroman, Gerook, het pas by LAPA Uitgewers
verskyn. Hierdie opwindende, spannende roman stel die leser bekend aan ’n
skemerwêreld van dwelms en tienergevare waaroor daar nog baie min in Afrikaans
geskryf is.
1. Vertel ons ’n
bietjie meer oor jouself. Waar woon jy, wat doen jy vir ’n lewe, wat doen jy
wanneer jy nie skryf nie?
Ek is oorspronklik van die Weskus (Paternoster) en werk die
afgelope sewe jaar as ’n joernalis by ’n Kaapse dagblad. Ek, my vrou, Winnie,
en ons driejarige seuntjie, Danté, woon in Kuilsrivier. En wanneer ek nie skryf
of onderhoude voer nie, hou ek daarvan om ’n naweek weg te breek en iewers heen
te gaan waar ek veral na die stilte van die platteland kan luister. Ek is nou
eenmaal nie ’n fên van die grote, bose stad nie en geniet die tye wanneer ons
na rustigheid kan wegbreek.
2. Waar het die idee
vir Gerook ontstaan?
Gerook het so sewe
jaar gelede by my opgekom. Maar om die een of ander rede kon ek nooit in die
verlede sover kom om die verhaal te voltooi nie. Dit het omtrent “tyd steel”
gekos en sommer skryf op die trein op pad werk of huis toe, maar elke breukdeel
“tyd steel” was die moeite werd.
3. Waarom juis ’n tienerboek?
Wat het jou spesifiek in hierdie genre laat skryf?
Die jeug lê my na aan die hart en dit kwel my baie as ek op
stories uitgaan en sien hoe ons jongmense agteruit boer, so asof hulle nie die
visie of dryfkrag het om hul drome na te jaag nie. ’n Mens wil graag jongmense
inspireer en aanmoedig om sukses in die lewe te behaal. En as die jeug op ’n
vroeë ouderdom al in die rigting van hul drome bestuur kan word, kan mens net imagine watter kwaliteit- en
passiegedrewe volwassene ’n mens help bou vir die toekoms.
4. Dwelmmisbruik is
’n moeilike tema om in ’n jeugboek aan te pak. Hoe het jy dit reggekry om nie
prekerig te wees nie?
Ek wou seker maak dat Gerook
nie soos ’n Sondag-preek oorkom nie. Baie jongmense is al moeg van die “Dwelms
is bad vir jou, bly weg!”-boodskap.
Ek wou deur ’n unieke storielyn dit by jong mense tuisbring wat verkeerd kan
loop as jy dwelms toelaat om in jou lewe te kom. En natuurlik het ek
persoonlike ervarings oor dwelmmisbruik gehad wat handig te pas gekom het,
sodat veral die tienerleser kan sien hier is nie net iemand wat drug scenarios uit sy duim suig nie,
maar actually self daar was.
5. Dink jy jou werk
as joernalis het ’n invloed op jou skryfstyl?
In ’n mate, ja. Ek is byna elke dag in die veld en doen elke
dag stories waarby daar dwelms betrokke is. Ek ervaar dus eerstehands die
verwoestende effek en impak van dwelms op ons jeug, hul families en
onmiddellike gemeenskap. Dit is sad
om te sien hoe die jeug en hul potensiaal onder dwelms gebuk gaan en ek wou ’n
boek skryf en veral tieners daaraan herinner dat dwelms niks anders as ’n dream killer is nie. Nêrens hoor jy van
’n suksesvolle sakemens wat die kruin van die golf ry én steeds dwelms gebruik
nie. Dwelms vat jou net een plek toe: oor die afgrond.
6. Gerook is jou eerste boek. Hoe het jy
die publikasieproses ervaar? Was dit harde werk? Was daar tye wat jy wou
handdoek ingooi?
Dit was ’n uiters leersame proses. Ek was bevoorreg genoeg
om met mense soos Jaco Jacobs en Miemie du Plessis (albei van LAPA Uitgewers) te
werk – mense wat ken van en by wie ek verskriklik baie geleer het. En dis wat
dit vir my was: ’n aangename leerproses wat my darem nie vir een oomblik dit
laat oorweeg het om tou op te gooi nie. Gelukkig vir my het die karakters nooit
in my kop opgehou praat nie.
7. Watter
terugvoering het jy tot dusver van lesers gekry wat die boek onder oë gehad
het?
Diegene met wie ek gepraat het, is verskriklik opgewonde en
kan nie uitgepraat raak oor die realistiese storielyn en die egtheid van die
karakters nie. Hulle voel dis ’n boek wat elke tiener behoort te lees en uit
kan leer
8. Watter skrywers se
werk lees jy graag?
Ek het grootgeraak met die verhale van Abraham H. de Vries
en Fançois Bloemhof. En baie mag dit dalk as soetsappige snert beskryf, maar
J.K. Rowling se Harry Potter-reeks was ’n absolute wenner vir my en my
verbeelding.
9. Werk jy reeds aan
’n volgende boek?
Ek is tans aan’t skryf aan ’n verhaal waarby ek hoop tieners
aanklank sal vind. As als goed afloop, behoort ek vroeg in volgende jaar klaar
geskryf te wees.
10. Wat is die beste
skryfraad wat jy ooit gekry het?
“Skryf oor dit wat jy ken.” Dié raad het Abraham H. de Vries
vir my as ’n tweedejaar-joernalistiekstudent gegee toe hy my Afrikaans-lektor
was. En dit was raad wat ek glo die sluise van my skryfvermoëns oopgemaak het,
en elke keer as ’n idee vir ’n storie by my opkom, weeg ek dit altyd eers op
teen dit wat Braam gesê het.
Klik hier om Gerook
te koop: http://www.kalahari.com/Books/Gerook_p_47778009?linkId=274247&affiliateId=10399&linkType=ORDER_REFERRAL