Thursday, May 26, 2011

Vir Christa

Vandag gaan nie ’n lekker dag wees nie.

            Vanmiddag gaan ek en Elize afskeid neem van iemand wat vir ons baie beteken het.

            Gasvrye Christa.

Altyd glimlaggende Christa wat jy by boekgeleenthede en partykeer sommer in die Mall raakgeloop het vir ’n vinnige gesels.

Christa wat gereeld op Facebook pittige kommentaar gelewer het, en vinnig was om te laat weet sy mis my status updates as ek op ’n Maandagoggend te stil na haar sin was.

Christa wat dit kon regkry om van Facebook-vriende régte vriende te maak.

Christa wie se inspirerende stories vir baie mense, veral tieners, ontsettend baie beteken het – die afgelope Desember, kort voor Kersfees, was een van die meisies wat voor Dischem geskenke toegedraai het om geld in te samel vir Kansa, besig om die nuutste Chilli-lipstiek te lees, en terwyl sy Elize se geskenk toegedraai het, het ek skaamteloos name dropping gedoen en gespog dat ek vir Christa Jonker-Jordaan ken.

Christa wat meer aanhalings geken het as enige iemand anders wat ek ken.

Christa wat die aand met ons troue, toe die gaste begin huis toe gaan, nog buite op die gras met my en my strooijonker, Pieter, gesit en gesels het.

Christa wat gelééf het vir haar gesin en wat verlede Woensdag op pad na George was om haar dogter se verjaardag te vier en by te wees met haar derde kleindogter se geboorte.

            Ai, Christa, ek kan skaars glo dis al meer as ’n week gelede dat ons daardie oproep gekry het. Ons het daardie einste oggend nog oor jou gepraat toe ons daar naby jul huis verbygery het; gesê hoe opgewonde jy moet wees; gewonder of julle al daar is. Ons wou jou en Gerrit nog ’n slag vir ete nooi. Ek dink ons het in ’n stadium belowe om nog ons troufoto’s en ons Mauritius-foto’s te kom wys.           

Van al die kaartjies wat ons verlede jaar met ons troue gekry het, was jou en Gerrit s’n die een wat ons seker die meeste laat glimlag het. Net verlede week nog, vertel Elize, was sy besig om sout in ons aandete te gooi en sy het gedink aan daardie sakkie sout in julle kaartjie, en die boodskap in jou handskrif: Hiermee saam julle eerste bietjie sout! Dit is nou die eerste van die baie wat julle saam moet opeet!

Mag jou woorde mense, en veral vir Gerrit en die res van jou gesin, nog vir baie jare bybly, troos en laat glimlag.

Tuesday, May 17, 2011

Word 'n boek op sy baadjie getakseer?





Ek sien nou die dag iemand maak die opmerking dat swak boeke soms goed verkoop omdat hulle in ’n mooi omslag “verpak” word. Dis sekerlik nie ’n heeltemal ongeldige punt nie – ek het self al ’n keer of wat ’n boek gekoop op grond van ’n mooi omslag, net om later te ontdek die inhoud is nie te waffers nie. Ek dink (hoop?) egter so ’n stelling onderskat ook in ’n mate lesers se intelligensie. Die omslagontwerp is darem net een van die elemente wat ’n leser ’n boek laat optel.

            Een van die opwindendste stappe in die boekmaakproses is vir my die dag wanneer jy die eerste keer die omslagontwerp ontvang. Ek kan ure lank na die voorblad van ’n nuwe boek staar. Met die publikasie van Virus het ek die omslagontwerp al maande voor die tyd ontvang, en ek was so beïndruk dat ek dit vir myself op fotopapier by die plaaslike Kodak Express laat druk het, net sodat ek daarna kan staar elke keer as ek van my rekenaar af opkyk.

            Die finale sê oor die omslagontwerp en illustrasies berus nie by jou as skrywer nie, maar by die uitgewery (wat immers daarvoor moet betaal). En dit is nie noodwendig ’n slegte ding nie – uitgewers weet immers veel meer van wat die mark vereis. Afgesien van een of twee uitsonderings, was ek nog altyd baie ingenome met die voorblaaie van my eie boeke. Van my gunstelinge is 13 Spookstories se blink omslag, die Zackie Mostert-boeke se lekker lewendige voorblaaie, die Kas vol Monsters-boeke met Chris Venter se treffende illustrasies, en die baadjie wat Suurlemoen! sedert sy tweede druk aanhet.

            Net soos modes verouder, kan ’n boekomslag ook sy jare begin wys. ’n Hele paar van my boeke het al mettertyd nuwe omslae gekry. In sommige gevalle is die omslag en/of illustrasies nie noodwendig verander omdat dit “oud” begin lyk het nie, maar omdat dit by ’n reeks moet inpas. Tande, byvoorbeeld, het sedert dit in 2002 verskyn het, reeds drie verskillende voorblaaie gehad. Tans word ’n hele rits van my boeke met nuwe voorblaaie en illustrasies herdruk: Borrels en My ouma is ’n rock-ster het reeds nuwe omslae en illustrasies, en nuwe uitgawes van Pasop vir die feetjies, Bertie Blikbrein en Wurms met tamatiesous is ook op pad.

Dit voel of ’n boek sommer nuwe lewe kry as hy ’n nuwe jas aantrek. Ek sien selfs die Harry Potter-boeke het nou ’n nuwe omslagontwerp – myns insiens weliswaar nie ’n verbetering op die oues nie. En die swart Twilight-boeke was onlangs in ’n beperkte uitgawe met wit voorblaaie te koop – nes daardie spesiale uitgawes van PSP’s, Xboxes en Blackberrys wat ’n mens deesdae kan aanskaf.

            ’n Goeie boekomslag is meer as net ’n mooi prentjie met die boek se titel en die skrywer se naam daarop geplak. As jy regtig in boekomslagontwerp belang stel, besoek hierdie great webtuiste: http://bookcoverarchive.com/

Friday, May 6, 2011

Musiek vir jou muse



Die Twilight-skrywer Stephenie Meyer se muse is ... Muse. Dié Engelse rockgroep word voorin byna al haar topverkoperboeke bedank vir hul “hulp” tydens die lang, eensame ure wat dit geverg het om haar vampierreeks te skryf.

            Ek is self mal daaroor om musiek te luister terwyl ek skryf – trouens, net vanoggend het ek donker-vroeg reeds met my oorfone op my ore gesit en kliphard na 30 Seconds to Mars se This is war geluister terwyl ek aan die nuwe Stalmaats-boek gewerk het.

En ek is self ’n Muse-aanhanger, hoewel ek nie kan getuig dat ek al ’n hele boek op die maat van hul musiek voltooi het nie. Ek verkies My Chemical Romance of Rammstein of 30 Seconds to Mars of Placebo wanneer ek skryf.

            Iemand het my op ’n dag gevra hoe ek metal of harde rock kan luister en terselfdertyd liefdesverhale en onskuldige perdestories skryf. Die antwoord is redelik eenvoudig – as ek musiek luister, word dit ’n soort “stilte” wat my help om te konsentreer op my skryfwerk. Dit is waarom ek nooit na ’n nuwe album luister terwyl ek werk nie – dit moet iets bekend wees. En die ironie is, hoe harder en rowwer die musiek, hoe beter werk dit vir my en hoe makliker konsentreer ek gewoonlik.

            Soms is daar wel iets aan die toonaard van ’n spesifieke liedjie (of ’n album) wat maak dat ek daarby vassteek terwyl ek skryf. Terwyl ek my zombieboek, Virus, geskryf het, het ek byvoorbeeld Velcra se liedjie Big Brother om een of ander rede oor en oor geluister. Ek is steeds nie seker hoekom nie, maar dit was asof daardie liedjie, spesifiek die bruggedeelte, perfek gepas het by wat ek besig was om te skryf.

            Skryf is ’n bietjie soos om ’n padwedloop te doen. Dis lank en uitputtend en jy kan maklik moedeloos raak. (Dalk is dit waarom ek nog nooit ’n marathon of ’n volwasse roman aangepak het nie.) Dit is waarom ek ook nie graag sonder my MP3-speler draf nie – ek zone out met die bekende liedjies in my ore en vergeet van die feit dat daar nog kilometers voorlê. Of baie bladsye ...