Wednesday, August 16, 2017

VYF VRAE AAN JOHANN STRAUSS


1. Dis nogal ’n uitdaging om biografiese inligting oor jou op die internet op te spoor – waarskynlik omdat Google duisende bladsye oor jou naamgenote, die bekende komponiste, het! Vertel my ’n bietjie meer oor jouself.

Jy's reg, my naamgenote het nogal aansienlik meer as ek bereik ... dankie vir die herinnering, Jaco. Dankie.
My oorsprongstorie sluit ongelukkig nie iets interessants soos Krypton of ’n spinnekopbyt in nie, maar bloot ’n klein dorpie in die Vrystaat genaamd Virginia. Dis een van daardie dorpies waar die tannies in die straat nog bymekaargekom het om te skinder oor die tannies aan die ander kant van die straat en al wat hulle saambring, is om te kla oor die straatlig wat al vir meer as ’n week uit is. Dinge lyk vandag natuurlik baie anders as die dae toe ek daar grootgeword het, maar ek sal altyd lief bly vir die klein dorpie. As dit nie vir die groot hoeveelheid “niks” was wat gereeld daar gebeur het nie, sou ek nie vandag so tuis gevoel het in ’n beroep waar die grootste avonture in ons verbeelding plaasvind nie. (En in daardie verbeeldingswêreld is ek net so suksesvol as my naamgenote ... Weer eens: Dankie, Jaco. *Klap tong*)
Toe ek klaar was met hoërskool het my pa ’n Chomp by ons voordeur gelos, en toe ek uitgaan om dit op te tel, hoor ek die voordeur toeslaan en sluit agter my, en daar vind ek myself grafiese ontwerp swot by die techikon hier in Pretoria. ’n Dorpie waar ek tot vandag toe woon, want ek is lui en ry nie graag nie.


2. Het jy altyd ’n passie vir kinderboekillustrasies gehad, of hoe het jy in die bedryf beland?

Ek het eintlik ’n passie gehad om ’n space cowboy te word, maar ongelukkig beweeg die tyd nie met my verwagtinge nie. My passie vir illustrasie lê wel by baie dissiplines. Van konsepkuns tot ou tradisionele skilderye. Hoe ek in die kinderboekillustrasiebedryf beland het (’n woord wat ek nie graag tik nie, want my vingers kramp nou), was bloot per toeval. Terwyl ek grafiese ontwerp geswot het (*sien asseblief die traumatiese Chomp-voorval van vraag 1), is ek in my derde jaar deur ’n uitgewery, Fantasi, genader, en oom Frans wat daar werk, het my baie mooi gevra om vir hom te gaan prentjies teken nadat ek klaar geswot het. Ek hou mos van prentjies en kon nie wag nie en het toe sommer in die tweede helfte van my derde jaar al vir hulle begin illustreer. Toe my swottings klaar was, het ek voltyds by Fantasi begin werk as hoofillustreerder en deeltyds vir advertensie-agentskappe. Ja, sommer vir al twee in die begin. Ek slaap dus min en worry baie.
Vandag werk ek voltyds vir myself. Dis die boosaardigste baas wat ek nog teëgekom het. Sy asem stink soos sterk koffie en peanut butter-broodjies.

3. Vertel my ’n bietjie hoe jou kreatiewe proses werk wanneer jy ’n teks van ’n uitgewer ontvang om te illustreer.

Gewoonlik probeer ek die manuskrip lees soos wat (ek dink) die skrywer dit wou gehad het. In een sitting. Aan die einde van elke hoofstuk (sou die manuskrip so opgebreek word) sal ek vinnig die toneel teken wat meeste by my gebly het en dan onmiddellik verder lees. Dit lei gewoonlik daartoe dat ek óf klein detail uitlos, óf detail bysit soos wat ek die storie vir myself visueel vertel – en dit lei tot baie uitgewers wat ou partytjiewoorde uitgrou en na my kant toe gooi, want hulle dink ek gee nie aandag nie.
Nadat ek die manuskrip klaar gelees het, gaan ek terug en probeer sin maak van al die skrabbels, en herleef weer die storie soos wat ek weer alles in detail oorteken. Dit lei meestal tot meer detail wat uitgelos of bygesit word – en dan sal iemand soos Miemie van LAPA vir my vra hoekom die drie varkies nou op meganiese dinosourusse ry en AK’s in albei hande het.

4. Mense vra dikwels vir skrywers: “Wat inspireer jou?” Ek wou dieselfde vraag nog altyd vir ’n kinderboekillustreerder vra. So …?

Goeie stories van goeie skrywers, (#JacoJacobs) en mense wat baie meer suksesvol as ek is, soos die ander Johann Strauss ... van wie ek aanhoudend hoor. (#klaptong)
Dis eintlik verskillende dinge op verskillende tye. Ek sien dalk ’n vreemde klipformasie op vakansie en dit kan my verbeelding na ’n cool draak-konsepskets stuur wat ek net móét teken (al gooi ek dit weg sodra dit klaar is) of na meer obvious goed soos ’n nuwe styl wat ek raakgegoogle het. Klein goedjies kan lei tot ’n boek vol idees, hang net af in watter headspace ek is ... en daar is baie space in my head. Wag ... dit het nie reg uitgekom nie.

5. Wys vir my een illustrasie uit jou kinderboek-oeuvre waarop jy besonder trots is of wat vir jou uitstaan, en vertel my waarom jy daardie spesifieke een gekies het.


Die stuk wat dadelik by my opkom, is ’n dubbelblad van die eerste kinderboek waarin ek totale kreatiewe vryheid gehad het. Dit is ’n dubbelbladuitleg uit een van die eerste vier boeke in die Droombos-reeks (uitgegee deur Fantasi). Ek noem die eerste vier, want toe was daar nog redelik tyd om genoeg aandag aan alles te gee. Nog ’n rede hoekom ek van die stuk hou, is omdat dit alles met tradisionele mediums gemaak is. Vandag werk ek 90% digitaal – soos Arnold Schwarzenegger in Terminator. Net met ’n Afrikaanse aksent.

Monday, January 30, 2017

IS DIE KOS AL AMPER KLAAR?


WAT NOEM JY …?


ONTTREKKINGSIMPTOME

Van als wat ek al ooit in my lewe geskryf het, geniet ek kinderrympies waarskynlik die meeste. Dis kort en kragtig, en dit verg tonne energie en kreatiwiteit.
Ek dink nie ek het al ooit so hard aan ’n projek gewerk soos aan Moenie hierdie boek eet nie! ’n Rympie vir elke dag van die jaar nie. Dit het bloedsweet gekos om 366 rympies te skryf (ja, daar is een vir 'n skrikkeljaar ook), maar dit was ook hope pret. En noudat die boek op die rakke is (VOEG VROLIKE ADVERTENSIEKLINGEL HIER IN!), ly ek so ’n bietjie aan onttrekkingsimptome.
Sedert die manuskrip weg is na my uitgewer toe, het ek nog nie weer veel nuwe rympies geskryf nie. Maar ek het besluit om die volgende paar dae sommer vir die pret so drie ongepubliseerde rympies hier op my blog te plaas.

So, deel gerus die rympies met jou vriende of kinders, share dit op Facebook, gebruik dit vir eisteddfods (als met die nodige erkenning aan die rympiemaker/kopiereghouer, asseblief!) – en laat weet gerus wat jy daarvan dink!

Thursday, November 10, 2016

Tuesday, November 1, 2016

MOENIE HIERDIE BOEK EET NIE!


Ek is al van kleins af mal oor rympies. Tot vandag toe onthou ek nog die rympies waarmee my oupas en oumas ons kleintyd vermaak het.
My onnutsige oupa aan my pa se kant, wie se name ek dra, het graag vir ons rympies vol onhebbelike woorde geleer, wat ons dan in lekker moeilikheid laat beland het as ons dit later ewe niksvermoedend vir Ma en Pa voorgedra het.
My ouma aan my ma se kant is tot vandag toe ’n skatkis van ou kleuterrympies, en sy het dit kleintyd altyd graag met ons gedeel.
         Dit is dalk een van die redes waarom ek ’n paar jaar gelede begin kinderrympies skryf het. Ek is versot op die ritme en rym en lawwigheid wat uit ’n lekker kindervers borrel.
Oor die jare het ek ’n paar bundels die lig laat sien: Wurms met tamatiesous, Oempakadoempa, ’n Brulpadda in my tas, My boetie dink hy’s Batman, Holderstebolder, Kougom in my hare en Op die punt van my tong.
         Dit is deesdae vir my ’n reuse-lekkerte om vir my eie kinders rympies voor te lees - en te hoor hoe dit hulle inspireer om op hul beurt self te begin rympies opmaak! ’n Paar jaar gelede het ek gewonder: Sou dit moontlik wees om ’n boek te skryf met ’n rympie vir elke dag van die jaar?
         Dit sal ’n enorme uitdaging wees, dit het ek uit die staanspoor besef. Nie net omdat dit sou beteken ek moet met 365 splinternuwe rympies (en een vir ’n skrikkeljaar) vorendag kom nie, maar ook omdat so ’n boek nogal dik sou wees – en duur om te publiseer.
Ek het ’n jaar of wat met die idee rondgeloop voordat ek dit gewaag het om die voorstel aan my uitgewer te opper. Tot my verbasing was sy dadelik opgewonde oor die idee.
         En so het die groot werk begin.
         Hoe op dees aarde skryf ’n mens 366 kinderrympies?
         Een geluk was dat ek met hierdie uitdaging weggetrek het op ’n tydstip toe ek weer ernstig begin draf het. So, ek het dit elke oggend deel van my drafroetine gemaak: Gaan draf tien of vyftien kilometer en probeer met ten minste drie of vier idees vir nuwe rympies by die huis aankom.
         Die paar maande waarin ek aan daardie rympies gewerk het, was van die lekkerste en kreatiefste skryftye wat ek ooit beleef het. (En as bonus het ek heelwat fikser geword!) Op my drafroete rondom Naval Hill hier in Bloemfontein het ek oorgenoeg tyd gehad om met lawwe idees rond te speel ...
  • Wat gebeur met woorde wat niemand meer ken nie (hoort hulle nog in die woordeboek of is daar iewers ’n aftreeoord vir woorde)?
  • Hoekom is daar so min rympies oor erdvarke?
  • Wat sal gebeur as daar ’n haai in die skool se swembad beland – of as een van jou klasmaats op ’n dag op ’n grassnyer skool toe ry?
  • Hoe vang mens ’n haas?
  • Wat beteken die woord “boemtjakketjak”?
  • Kan jy ’n rympie lees terwyl jy op jou kop staan?
  • Wat sal gebeur as jou oupa ’n troetelkrokodil aanskaf?
  • Hoekom dra bere nie klere nie?
  • Wat kruip alles in jou oom se wilde, woeste baard (en in jou naeltjie!) weg?
  • Wat sal gebeur as ’n sebra weier om die sebraoorgang te gebruik?
         Daar was limerieke, haikoes, tongknopers, ’n touspringrympie, vormgedigte. Rympies oor Kersfees, Paasfees, die seisoene, skrikkeldag, Valentynsdag (en, les bes, erdvarke!).
Ek weet nie of ek al ooit tevore so lank of hard aan ’n projek gewerk het nie. Die eindresultaat was ’n manuskrip wat ’n hele dikke lêer volgelê het.
         My uitgewer het een van my gunsteling-illustreerders, Zinelda McDonald, oorreed om die illustrasies te doen – iets wat op sig self ’n enorme taak moes wees. 
         En die eindresultaat het pas verskyn: ’n stewige, kraakvars hardebandboek van 312 bladsye met die allermooiste omslag en illustrasies waarop ek eindeloos trots is.
Die titel is Moenie hierdie boek eet nie! ’n Rympie vir elke dag van die jaar
En ek beplan om volgende jaar dag vir dag weer saam met my kinders die pret te herleef wat ek met die skryf van hierdie rympieboek gehad het.