Showing posts with label skryf. Show all posts
Showing posts with label skryf. Show all posts

Monday, January 5, 2015

5 dinge wat kinderboeke NIE is nie


Ek gaan die jaar afskop met ’n preek. Soos die meeste preke bevat dit nie noodwendig nuwe inligting nie – trouens, van die dinge wat ek hier sê, het ek waarskynlik reeds in vorige inskrywings kwytgeraak – maar soos talle predikers maak ek staat op die ou beleid van inskerping deur herhaling. So, kom ons laat waai ...

1. Kinderboeke is nie ’n vinnige manier om geld te maak nie. Ek is by meer as een geleentheid al gevra of ek kinderboeke – eerder as boeke vir volwassenes – skryf bloot om geld te maak. Ek kon dit meestal regkry om nie te lag nie. Sommige kinderboekskrywers verkoop honderdduisende boeke en verdien goeie geld. Die meeste kan egter nie ’n lewe daaruit maak nie. (Jy weet, daai ou storie van don’t quit your day job, nè? Dis waarskynlik oorspronklik as raad vir aspirant-kinderboekskrywers bedoel.) Kinderboeke is allermins die geldkoei van die boekbedryf. Mense wat so dink, het buitendien geen respek vir die genre nie – en as daar een ding is wat jy nodig het om hierdie genre suksesvol te benader, is dit respek. Vir stories, vir karakters en bowenal vir jou lesers.

2. Kinderboeke is nie maklik om te skryf nie. Ja-ja, ek weet. Kort, lawwe storietjies oor oumas wat rocksterre word, aliens wat in swembaddens beland, robotte wat chaos in klaskamers saai, kinders wat ’n spesiale sjampoe uitvind om bleskop-oupas se hare te laat groei. Hoe moeilik kan dit nou regtig wees? Die antwoord, kan ek jou uit persoonlike ondervinding vertel, is: Blerrie moeilik. Probeer dit gerus as jy my nie glo nie.

3. Kinderboeke is nie ’n wegspringblok na volwasse literatuur nie. Baie aspirantskrywers (en selfs sommige literatore en ander slim mense) glo kinderboeke is ’n manier om ’n “voet in die deur” te kry sodat jy later “regte” boeke kan begin skryf. Vroeër het hierdie siening my bloed laat koop, maar hei, deesdae kry ek bloot so ’n kalm, alwetende en hopelik vreeslik irriterende glimlaggie as ek hoor hoe iemand so iets kwytraak. Nou maar reg so. Laat waai, Meraai. Gaan skryf ’n paar kinderboekies voor jy die Groot Afrikaanse Roman aanpak. Probeer dit gerus. Hehehe. Maar vir die rekord: Ek is ’n kinderboekskrywer en ek hou van wat ek doen – ek lê nie snags wakker en beplan aan die belangrike volwasse roman wat ek eendag gaan skryf nie.

4. Kinderboeke word nie noodwendig oornag geskryf nie. Toegegee, die meeste kinderboeke is baie dunner as boeke vir volwassenes, en verg daarom minder skryfwerk. Maar ek kan getuig hoe ek byna vyf maande gewerk het aan my eerste prenteboek – ’n teks met skaars duisend woorde. Ek moes daai duisend woorde seker twintig keer met ’n geween en ’n gekners van tande oorskryf, terwyl ek met byna elke oorskryf die konsep ook moes aanpas. Party tienerboeke het my meer as ’n jaar geneem om te skryf – en dan praat ek net van die eerste weergawe van die manuskrip.

5. Kinderboeke is nie minderwaardige literatuur nie. Die terrein van die kinder- en jeugliteratuur is, nes die volwasse literatuur, geskakeerd – dit wissel van boeke wat primêr op vermaak en ontspanning gemik is, tot boeke waar moeilike kwessies getakel word en waar ’n verskeidenheid literêre tegnieke ingespan kan word om die leser uit te daag. En regoor hierdie spektrum van kinderboeke is daar boeke wat uitstekend geskryf is en boeke wat minder goed geskryf is – nes in die volwasse literatuur. 

Nou ja, tot sover my preek. Staan asseblief vir die slotgesang. Kollekte sal by die deur ingeneem word.

Wednesday, October 19, 2011

Die bloginskrywing wat my vrou asseblief nie moet lees nie


Ek weet ek gaan hierdie woorde berou, maar hier kom dit in elk geval: Ek dink skrywers behoort gereeld skottelgoed te was.

            Terwyl ek gisteroggend vroeg met hierdie nederige ou takie besig was, het ek ongeveer vier hoofstukke van ’n boek geplot. Dit verklaar ook waarom daar Sunlight Liquid-skuim op my Mac se toetsbord was, want voor ek die vuil borde getakel het, moes ek eers gou ’n paar van my meer briljante idees kom neerskryf.

Douglas Adams het gesê: “Writing is easy. You only need to stare at a piece of blank paper until your forehead bleeds.”

En dis wat skryf meeste van die tyd is: ’n eindelose gestaar wat (as jy gelukkig is) soms onderbreek word deur die geklik van die toetsbord as jy ’n sin of twee neerskryf. Ek het al menige oggend die feit berou dat ek vroeg opgestaan het om te skryf, en dan myself betrap dat ek net vir die rekenaarskerm sit en staar. Trouens, dis wat ek meeste van die tyd doen as ek “skryf”. En tog, tussendeur al die gestaar het ek op een of ander manier reeds meer as 70 boeke geskryf. Ek het al talle skrywers hoor kla dat Facebook die letterkunde se grootste vyand is, juis omdat dit inmeng met ’n mens se kreatiewe staartyd.

(Ek het nou hierdie vorige paragraaf oorgelees, en toe in presies so ’n staarsessie verval. Helaas, nie ’n baie kreatiewe een nie, gevolglik gaan hierdie bloginskrywing maar kort wees.)

Ek reken ’n mens kan daardie “staartyd” net sowel inruim terwyl jy besig is met ’n breinlose aktiwiteit soos draf of stap.

Of skottelgoed was.

Maar moenie my vrou vertel nie.

* Die foto is Béla Lugosi se beroemde staar uit die fliek White Zombie.

Friday, May 6, 2011

Musiek vir jou muse



Die Twilight-skrywer Stephenie Meyer se muse is ... Muse. Dié Engelse rockgroep word voorin byna al haar topverkoperboeke bedank vir hul “hulp” tydens die lang, eensame ure wat dit geverg het om haar vampierreeks te skryf.

            Ek is self mal daaroor om musiek te luister terwyl ek skryf – trouens, net vanoggend het ek donker-vroeg reeds met my oorfone op my ore gesit en kliphard na 30 Seconds to Mars se This is war geluister terwyl ek aan die nuwe Stalmaats-boek gewerk het.

En ek is self ’n Muse-aanhanger, hoewel ek nie kan getuig dat ek al ’n hele boek op die maat van hul musiek voltooi het nie. Ek verkies My Chemical Romance of Rammstein of 30 Seconds to Mars of Placebo wanneer ek skryf.

            Iemand het my op ’n dag gevra hoe ek metal of harde rock kan luister en terselfdertyd liefdesverhale en onskuldige perdestories skryf. Die antwoord is redelik eenvoudig – as ek musiek luister, word dit ’n soort “stilte” wat my help om te konsentreer op my skryfwerk. Dit is waarom ek nooit na ’n nuwe album luister terwyl ek werk nie – dit moet iets bekend wees. En die ironie is, hoe harder en rowwer die musiek, hoe beter werk dit vir my en hoe makliker konsentreer ek gewoonlik.

            Soms is daar wel iets aan die toonaard van ’n spesifieke liedjie (of ’n album) wat maak dat ek daarby vassteek terwyl ek skryf. Terwyl ek my zombieboek, Virus, geskryf het, het ek byvoorbeeld Velcra se liedjie Big Brother om een of ander rede oor en oor geluister. Ek is steeds nie seker hoekom nie, maar dit was asof daardie liedjie, spesifiek die bruggedeelte, perfek gepas het by wat ek besig was om te skryf.

            Skryf is ’n bietjie soos om ’n padwedloop te doen. Dis lank en uitputtend en jy kan maklik moedeloos raak. (Dalk is dit waarom ek nog nooit ’n marathon of ’n volwasse roman aangepak het nie.) Dit is waarom ek ook nie graag sonder my MP3-speler draf nie – ek zone out met die bekende liedjies in my ore en vergeet van die feit dat daar nog kilometers voorlê. Of baie bladsye ...