Monday, June 23, 2014

Dinge wat gebeur het sedert ek laas behoorlik geblog het ...


“Hoe gereeld moet ’n mens nuwe inskrywings op jou blog plaas?” vra iemand my nou die dag ná ’n praatjie waarin ek voornemende rubriekskrywers aangeraai het om te begin blog.
         “Uhm ... verkieslik weekliks,” antwoord ek plegtig (met ’n gesig wat skuldig gloei).
         Ek kan nie eens onthou wanneer laas ek ’n behoorlike inskrywing (afgesien van die lekker onderhoud met Marisa Haasbroek oor haar nuwe boek) op hierdie blog geplaas het nie, en ek is te bang om na die datums te gaan loer.
         Maar hier is dit nou: My Eerste Behoorlike Bloginskrywing in ’n Baie Lang Tyd!
         Hier is my lysie verskonings:
1.    Op die 2de Mei het ons ietwat vroeër as beplan ’n baie klein bondeltjie vreugde ryker geword. Emma Jacobs was prematuur en het ’n skrale 2,14 kg geweeg (ons moes vir haar popsokkies by Toys R Us gaan koop), maar was gelukkig uit die staanspoor baie sterk en gesond. Sy is wel so ietwat koliekerig, so ons pajamadril vir ’n vale. Mia vind die proses van (koliek)winde uitvryf egter uiters amusant en put tans groot genot daaruit om gereeld almal in die huis se winde uit te vryf, haar eie inkluis. En bewaar jou as jou “wind” ietwat halsstarrig is – dan verskaf sy sommer self die gepaste byklanke.
2.    Glo dit of nie, ek was besig om te skryf. Die paar weke voor Emma se geboorte moes ek ’n hele klomp dringende skryfprojekte klaarmaak. (Terloopse nota: Daar is twee nuwe Stalmaats-boeke op pad en Tania Brink se nuwe liefdesverhaal sal voor die einde van die jaar op die rakke wees.) O ja, en ek en Fanie Viljoen het so tussendeur nog ’n lekker nuwe Hoezit!-feiteboek ook saamgestel. En ek het so twee of drie tydskrifverhale, webartikels en rubrieke geskryf. 
3.    My kollega is ná ’n rockfeesverwante fratsongelukkie geopereer en ons het ’n ensiklopedie van 360 bladsye gehad wat binne ’n belaglike tyd drukker toe moes gaan. Buig of bars, ek het die sperdatum so min of meer gehaal, maar in die proses is tyd en ruimte verbuig, my vooraf beplande “kraamverlof” moes ek noodgedwonge kanselleer, nuwe vloekwoorde is gemunt, en ek het in die bestek van drie weke sowat vier jaar ouer geword.
4.    Iewers tussendeur al hierdie chaos het my honderdste boek die lig gesien. Wel, soort van. Kougom in my hare se eerste oplaag moes oorgedruk word, wat so ietwat van ’n antiklimaks was, maar eind goed, als goed. (Reklameflits: En as jy dringend nuwe eisteddfod-rympies soek, hier’s die antwoord!)
5.    Ek het aan ’n nuwe rympieboek begin werk, wat meebring dat my kop op die oomblik konstant vol rymwoorde en vreemde ritmes is. Nou die middag aan etenstafel het ek myself betrap dat ek in rym met my gesin gesels. (Lekker ritme en alliterasie hier aan die einde van die sin. Sien?)

En dis dit. My lysie verskonings.
         En nou beter ek eers ophou blog en aan die werk spring. Ek het gisteraand ’n lekker rympie-idee op my selfoon se MemoPad neergeskryf ... O, en ek dink Mia soek teen hierdie tyd haar tee.

Monday, May 5, 2014

10 vrae aan Marisa Haasbroek


Marisa Haasbroek het bekendheid verwerf vir haar romantiese verhale vir volwasse lesers, onder die skuilnaam Rykie Roux. Haar eerste jeugboek Iewers vlieg daar fairy dust is ’n onvergeetlike leeservaring. 


1. Iewers vlieg daar fairy dust is nie net jou eerste jeugroman nie, dit is ook die eerste boek wat jy onder jou eie naam publiseer. Hoe voel dit om vir die eerste keer jou eie naam op die (baie mooi!) omslag van ’n boek te sien?
Ek het gister my outeurskopieë gekry en dis heerlik. Ek het vantevore wel kortverhale onder my eie naam gepubliseer. Op die internet swerf nou nog ’n kortverhaal van my, Erik se T-hemp, rond wat oorspronklik in Sarie verskyn het. Iemand in Kanada het selfs die moeite gedoen om dit in Engels te vertaal.

2. Wat was die vonk vir hierdie verhaal?
Ek loop al jare en wonder wat sou in Aspoestertjie se storie gebeur het as die koetsier op haar verlief geraak het, hy haar nie by die bal gaan aflaai het nie en saam met haar weggeloop het. Hoekom mag mense wat altyd tweede viool moet speel nie ook helde en heldinne wees nie?

3. Dis ’n Aspoestertjie-verhaal hierdie met ’n sterk romantiese streep en wat in die eerste plek heerlik lees. Maar tog is die uitbeelding van armoede en sosiale omstandighede in plakkerskampe onthutsend – en op die oog af baie lewensgetrou. Hoe het jy die fyn balans tussen die “liefdesverhaal” en die sosiaal-maatskaplike problematiek in die boek bewerkstellig?
Iewers vlieg daar fairy dust is ’n sprokie en is nie bedoel om ’n neerdrukkende boek te wees nie, maar ek hoop dat deur die heldin die soort omstandighede te laat oorkom waarvan die meeste tieners in hierdie land al gehoor het en baie van hulle dalk self beleef, die storie groter en meer werklik word. Om optimisties te bly het ’n mens twee dinge nodig: ’n droom en die hoop dat dit bewaarheid kan word. Die goeie feë in die lewe is die mense wat daardie hoop bly verskaf. Ek dink dis waaroor Iewers vlieg daar fairy dust gaan.

4. Voorin die boek bedank jy die mense van Kleinfontein se woonwapark, wat die storie geïnspireer het. Hoeveel (en watter soort) navorsing moes jy doen om die lewe in ’n plakkerskamp so oortuigend te kon uitbeeld?
Ek bly self in Kleinfontein, ’n Afrikanerkultuurnedersetting naby Pretoria. Een van die doelstellings van ons gemeenskap is om aan verarmde Afrikaners ’n heenkome te bied deur vir hulle werk te gee. Ek ken van hierdie mense persoonlik, ek weet hoe vernederend vind hulle dit om “deernisgevalle” genoem te word. Uit armoede kom mens eintlik eers ’n hele geslag later deur beter onderwys en dis hoekom die skool op Kleinfontein vir ons so belangrik is. In Iewers vlieg daar fairy dust salueer ek ook die maatskaplike werkers van die Christelike Maatskaplike Raad vir hul opheffingswerk in talle plakkerskampe, en wil ek ook dankie sê vir kerkgroepe wat byvoorbeeld songeisers installeer en voorafbetaalde krag vir arm mense reël, en vir organisasies soos Solidariteit Helpende Hand en hul beursfonds. Die meeste gebeure en karakters in die boek is egter fiktief. Regte mense en omstandighede kan vir ’n skrywer hoogstens ’n beginpunt wees.

5. Hoewel hierdie ’n volbloed-tienerverhaal is, vermoed ek volwasse lesers gaan dit ewe veel as tieners geniet. Wat het jou laat besluit om spesifiek ’n storie vir tieners te skryf?
Met twee tieners in my huis wat boonop ywerige lesers is, was dit ’n lekker uitdaging om te sien of hulle ma kon meeding met hulle gunsteling-skrywers, soos Suzanne Collins en Orson Scott Card. Ek het die eerste weergawe van die storie oor ’n Desembervakansie geskryf en elke aand vir Pa en die twee tieners die dag se skryfwerk voorgelees. Hulle was erg krities en het my gereeld die volgende dag maar weer laat oorskrywe. Omdat dit ’n meisie-boek is, het ek dit opgedra aan Annamaria, my vyftienjarige meisiekind. Johannes, my seun, word een van die dae sewentien; hy is meer van ’n wetenskapfiksieleser.

6. Een van die redigeerders wat aan die boek gewerk het, noem dit een van die beste jeugboeke wat hy ooit gelees het. Watter jeugboeke het jy die afgelope paar jaar gelees wat ’n groot indruk op jou gemaak het?
Soos die res van die wêreld ek die Twilight-reeks baie geniet. Op my dogter se aandrang het ek The Hunger Games gelees en alhoewel die storie vir my baie somber was, bly Katniss se selfopofferende instaan vir haar suster en haar eerbetoning aan die jong Rue, wat sy so met blomme bedek het, my bly. In Afrikaans is Liefde laat jou rice kripsies anders proe ’n gunsteling. Vir die mooi taal en onsterflike karakters sal Alba Bouwer se drieluik Stories van Rivierplaas altyd op my boekrak staan. Ek was twaalf toe ek dit die eerste keer ontdek het en lees en geniet dit elke nou en dan weer.

7. Wat was vir jou die grootste uitdagings om vir die tienermark te skryf?
Ongetwyfeld die taalgebruik. Ek is van die generasie vir wie die gebruik van so baie Engelse woorde, wat ek ook by my eie kinders hoor, grief. Maar ek is in die eerste plek ’n skrywer en nie ’n aktivis nie en dan probeer mens getrou bly aan jou karakters, dus praat Elmien en Ruan in Iewers vlieg daar fairy dust soos ek dink tieners in hulle omstandighede sal praat.

8. Waaraan werk jy op die oomblik – is daar dalk nog ’n verhaal vir jongmense aan die broei?
Ek is altyd aan die skryf. Ons gesin staan aan die vooraand van ’n groot avontuur, want my man het ’n werksaanbod in Amerika gekry en ons gaan binnekort vir ’n paar jaar tussen die Yanks woon. Ek glo dié ondervinding sal die kreatiewe sappe weer laat vloei en voel klaar die roering van ’n idee vir ’n storie. Ek sal altyd ’n Afrikaanse skrywer bly.

9. Wat is die beste skryfraad wat jy ooit gekry het?
’n Skrywer is iemand wat skryf. Moet dus nie wag vir die groot inspirasie om te tref nie, skryf net elke dag.

10. Voltooi: As ek ’n dag lank ’n Goeie Fee kan wees, sal ek ...
Deur die land wou reis en vir elkeen wat voel of hy of sy in ’n onhoudbare situasie is, ’n bietjie fairy dust van hoop wou gee dat drome waar kan word, al gaan dit soms hoe moeilik.

Sluit gerus aan by Marisa se Facebook-groep: https://www.facebook.com/MarisaHaasbroekStories

Friday, April 25, 2014

Dankie, maar nee dankie


“Net mooi alles wat jy skryf, word seker deesdae gepubliseer?” vra ’n aspirantskrywer nou die dag vir my, met ’n goeie skeut moedeloosheid en so ’n sweempie jaloesie in sy stem.
            Ek kon nie help om te glimlag nie.
            Ja, dis wel so dat ek deesdae aansienlik minder nee-dankie-briefies kry as toe ek destyds begin skryf het. Maar helaas, op my rekenaar se hardeskyf is ook ’n goeie handjie vol stories wat die afgelope paar jaar nie die mas opgekom het nie.
            Destyds toe ek nog op hoërskool was, onthou ek hoe ek met my sakgeld twee A4-grootte FastMail-koeverte by die poskantoor gaan koop het, elke keer as ek ’n tydskrifstorie voltooi het. Dan skryf ek die tydskrif se naam en adres op die een koevert, en my eie naam en adres op die tweede een, vou die tweede een dubbeld en plaas dit saam met die storie in die koevert. Met ’n skietgebed gaan gooi jy dit deur die posbus se gleuf. Dan wag jy so ’n maand of twee lank angstig, gaan haal elke middag pos uit nadat jy jou huiswerk gedoen het ... en op ’n dag is daai blou-en-wit FastMail-koevert terug, soos ’n getroue posduif. As hy stewig voel wanneer jy hom uit die poshokkie haal, is dit slegte nuus – dan beteken dit jou storie is teruggestuur. As daar net een folio binne-in is, is dit goeie nuus – dan is dit waarskynlik ’n dankiesêbriefie en, as jy regtig gelukkig is, ook ’n tjek.
            Oor die jare het ek ’n heel indrukwekkende versameling afkeurbriewe bymekaargemaak. Ek kon dit nog nooit oor my hart kry om hulle weg te gooi nie. Jy kry basies twee soorte nee-dankie-briewe. Die eerste is ’n “stock letter” waarop jou adres en die titel van jou storie bloot ingevul is, met iets soos die volgende in die briefie geskryf:
            Baie dankie vir u belangstelling in (naam van tydskrif/uitgewery). Ongelukkig voldoen dit nie aan ons vereistes nie en gaan dit hiermee aan u terug.
            As jy gelukkig is, beland jou storie by ’n redakteur wat bereid is om minstens te verduidelik waarom jou storie nie aanvaar word nie. François Bloemhof, destyds verhaleredakteur van Sarie toe ek begin skryf het, was een van laasgenoemde soort redakteurs. Hy het telkens moeite gedoen om in ’n paar sinne te verduidelik wat fout is met die storie. Dit het my oneindig baie gehelp. Aan die ander kant was daar ook ’n voormalige verhaleredakteur  van die destydse Keur, wat ’n poëtiese benadering aan die dag gelê en ’n keer of wat sommer met blou kokipen dwars bo-oor die titelblad van my storie geskryf het: “Verhaal haal nie die paal.”
            Oor die jare moes ek self ook ’n paar duisend afkeurbriewe skryf. Dis ’n ondankbare taak. Geen skrywer is ingenome met ’n nee dankie nie, dit weet ek uit eie ervaring. Maar ek probeer altyd ten minste ’n rede of twee verstrek om te verduidelik wat die belangrikste probleme met die storie is. 
            Die eerste storie wat ek ooit aan ’n tydskrif probeer smous het, is op ’n antieke tikmasjientjie getik wat my pa vir my gekoop het. ’n Mens kan net wonder wat die arme Huisgenoot-verhaleredakteur van die titel gedink het ...


            
  Hier het Keur se verhaleredakteur darem ’n effense variasie op die verhaal-haal-nie-die-paal-briefie gehad ...           


           
  In 1998, my matriekjaar, het ek die eerste keer vir Sarie ’n verhaal gestuur. Die paar sinne onderaan die briefie was genoeg om my te inspireer om daardie selfde middag nog ’n storie te gaan skryf, een wat uiteindelik wél vir publikasie aanvaar is ... 



  ’n Skrywer is ’n ding wat ’n dik vel en ’n goeie bos hare op sy tande nodig het. My stapeltjie afkeurbriewe herinner my gereeld daaraan dat dit nie altyd ’n maklike pad was nie. Maar pret? Al die pad!


Monday, March 3, 2014

“Lewenslessies” in papier toegedraai?


In gister se nuwe Weekliks-bylae in Rapport skryf Keina Swart oor die verskynsel dat “kenners” (die woord word in die artikel tussen aanhalingstekens geplaas) van kinder- en jeugboeke deesdae so hard skop teen “lesse” in kinder- en jeugboeke: http://www.rapport.co.za/Weekliks/Nuus/Moet-daar-n-les-wees-20140228
            Nou, laat ek uit die staanspoor sê dat ek baie respek vir Keina as skrywer, rubriekskrywer en resensent het. Maar ek kan in hierdie geval nie heeltemal met haar saamstem nie, miskien omdat ons die probleem verskillend verstaan.
Die voorbeelde van boeke met “lesse” wat by die artikel genoem word (Droomoog Diepgrawer, How to train your dragon, ens.), is tog almal vermaaklike stories sonder ’n lewensles wat voor jou neus rondgeswaai word, nie waar nie? En hier is my teorie daaroor: ’n Goeie storie, het ek nog altyd geglo en as evangelie verkondig, doen sy werk haas ongesiens, sonder dat ’n skrywer doelbewus daarmee hoef in te meng en ’n “boodskap” daarop probeer afdwing. ’n Goeie storie, glo ek, kán jou nie onaangeraak laat nie – as dit oortuigend vertel word, met oortuigende karakters wat oortuigende emosies en relevante probleme teen ’n oortuigende agtergrond beleef, dan verander ’n storie (selfs die eenvoudigste kleuterverhaal) jou met die lees daarvan. Dan verskaf dit inderdaad soms “tips” of “lesse” oor hoe om die wêreld te oorleef.
Is dit die definisie van ’n lewensles?
Miskien.
Maar ek dink nie dit is die issue waaroor die “kenners” van kinderboeke so kerm, veral by kinderboekskryfskole, nie.
Nie dat ek myself nou as kenner gaan probeer uitgee nie. Maar waaraan ek wel ’n broertjie dood het, is stories waarin volwasse skrywers eintlik maar so ’n bietjie neersien op kinders; waarin hulle met ’n agenda skryf. En glo my, ek kry byna daagliks met voorbeelde hiervan te doen. Skrywers en aspirantskrywers wat met die houtlepel in die hand skryf om kinders te leer van dissipline en goeie maniere en “asseblief” en “dankie” en moenie in jou neus krap nie.
Dit is, vermoed ek, ’n oorblyfsel uit ’n tydperk toe geglo is kinders moet gesien en nie gehoor word nie. Dit is ’n houding wat sê dat kinders nie die reg het om ’n boek te lees bloot omdat dit lekker is nie – nee, boeke móét léérsaam en ópvoedkúndig en stígtelik en góéd vir jou wees. Dis ’n houding wat kan deursuur deur ’n hele literêre sisteem, van skrywers en uitgewers en die onderwysdepartement en resensente (en ander “kenners”) tot ouers en onderwysers ... en die arme kind. Dis ’n houding wat ons in ’n land met ’n leeskrisis nie kan bekostig nie.
Nou, ek weet voor my siel dié houding is hoegenaamd nie die uitgangspunt wat Keina huldig of in haar artikel bepleit nie. Maar jare lank was dit juis die houding wat die Afrikaanse kinderboekwêreld gerig het. Trompie en Saartjie en Asterix is as ongewenste snert afgemaak, juis omdat dit nie “goeie literatuur”, deurdrenk van lewenslesse was nie. En ongelukkig het hierdie houding baie lank ’n invloed gehad op die soort boeke wat vir Afrikaanse kinders geskryf en gepubliseer is. As jy wil sien hoe die resultaat van so ’n houding lyk, gaan kyk ’n bietjie hoe die Afrikaanse kinder- en tienerboektoneel in die vroeë 1990’s gelyk het.
Kinders en tieners is nié net wandelende issues en probleme nie – hulle is volwaardige mense, en as lesers verdien hulle meer respek as om bloot die teiken vir preke en lewenslessies te wees. Kinders kan, glo ek, ’n grootmenspreek ’n myl ver raaksien en hulle hou selde daarvan, veral as hulle dit tot vervelens moet hoor. Ek glo verbete daaraan dat kinders van kleins af ’n ingeboude BS detector het – om die waarheid te sê, die een of ander “kenner” het my jare terug so vertel.
En dit is waarteen ek waarsku wanneer ek skrywers teen “lewenslessies” in kinderboeke maan.

So, met die slotsom van Keina se artikel stem ek min of meer saam: ’n Goeie boek is ’n goeie boek, punt. Of nog beter, kom ons noem dit sommer ’n lekker boek, want dis immers wat dit is – daai soort boek wat voel of dit net vir jou geskryf is of wat jou tone kleintyd laat omkrul het van lekkerkry. En stories is fantastiese, kragtig goed waarsonder die wêreld minder sin sou maak. Maar lewenslesse of prekies wat soos slegte medisyne met ’n dunnerige storiesousie en mooi prentjies in (kinder)boekvorm verdoesel word?
Aikôna.
Ek het al te veel sulke pogings gesien wat kinders se intelligensie onderskat – trouens, wat die essensie van kind wees onderskat. 

Thursday, February 6, 2014

Waarom ek so stil was ...


Hierdie is sowaar my eerste bloginskrywing vir 2014. Nou ja, voorspoedige ... Februarie!
         Daar is darem ’n goeie rede waarom ek die afgelope tyd hierdie blog so afgeskeep het.
Vanoggend het ek ’n groot sug van verligting geslaak, pas nadat ek die stuurknoppie op my e-posprogram gedruk het. Die manuskrip vir die sestiende boek in die Stalmaats-reeks is vanoggend weg na die uitgewer toe. Daardie groot sug was wel ietwat voortydig, want natuurlik wag ek nou om te hoor wat my uitgewer se reaksie op die storie gaan wees. Die vyftiende manuskrip in die reeks, Stormnag, is darem ’n paar weke gelede voltooi en vir publikasie aanvaar. (My uitgewer – wat altyd ’n sucker vir ’n romantiese twist is – meen dit is die beste storie tot dusver in die reeks. Ek en Lize Roux hoop lesers gaan saamstem!)
         Spertye is nogal ’n skrikwekkende ding. Wanneer jy ’n reeks boeke skryf, is spertye onvermydelik. Teen die einde van verlede jaar het “Stalmaats 15” en “Stalmaats 16” reeds op die uitgewery se publikasieprogram gepryk, sonder dat ek die vaagste benul gehad het wat die titels gaan wees of waar ek betyds stories vandaan gaan kry nie. Maar die voordeel van ’n sperdatum, is dat dit ’n mens se kreatiewe sappe behoorlik kan laat vloei. Nodeloos om te sê, die afgelope paar weke het ek geskryf dat die rook uit my iMac trek, maar dit bly lekker om die bekende karakters in ’n reeks weer te ontmoet.
         In ander nuus het my uitgewer my vandag gebel om te vra of ek oor ’n maand of wat ’n dag lank Joburg toe wil vlieg om die stel van Suurlemoen! tydens verfilming te besoek. Ek het my voorgeneem om vanjaar amptelik te verklaar tot Die Jaar Waarin Jaco Jacobs Geen Reisverpligtinge Gaan Aanvaar Of Boeketoere Gaan Onderneem Nie (die rede daarvoor hou verband met ’n verwagte besoek van die voël wat in wetenskaplike kringe bekend staan as Ciconia ciconia), maar dis beswaarlik ’n geleentheid waarvoor ek nee kan sê! Alles dui daarop dat dinge besig is om mooi bymekaar te kom met die fliek. Ek het vandeesweek ’n lekker demo van een van die liedjies gekry, en die vervaardigers stuur so dan en wan vir my brokkies nuus aan. Dit hele fliekmaakproses lyk vir my na oneindig baie werk en admin, so ek is baie, baie dankbaar dat daar kreatiewe, passievolle mense is wat bereid is om dit aan te pak. Kudos, Niel van Deventer en Vickus Strijdom!
         Intussen word die nuwe Zackie Mostert-boek, Zackie Mostert en die wriemelende wurmkoekies, tans op RSG voorgelees (saans om 19:10), ek het vandeesweek die proewe gekry van my nuwe kinderboek getiteld SuperBoetie! wat later vanjaar verskyn, en die twee splinternuwe Professor Fungus-boeke, Professor Fungus en die dino-avontuur en Professor Fungus en die dinokrisis, is op pad van die oorsese drukker af. SuperBoetie! is geïllustreer deur Chris Venter en Professor Fungus word deur Johann Strauss geïllustreer – albei se name verdien om in hoofletters geskryf te word en met baie uitroeptekens agterna. O ja, en as jy op die oomblik kopkrap oor wat jou kinders vanjaar by die eisteddfod gaan opvoer, gaan loer gerus hier:http://www.lapa.co.za/product-view/944/in_die_kollig_speeltekste_vir_dramaleerders/manufacturer_id/413  En as jy wil sien hoe ek oor die Zackie Mostert-reeks gesels, maak ’n draai hier: http://www.youtube.com/watch?v=jSMrY4IsJy8&feature=youtu.be
         Nou ja, tot sover my nuus vir die eerste maand van 2014! Ek gaan binnekort weer ’n skrywersonderhoud of twee hier oplaai. Beste wense vir die laaste elf maande van die jaar!

Thursday, October 31, 2013

10 vrae aan Fanie Viljoen


Fanie Viljoen is een van die gewildste en mees bekroonde kinder- en jeugboekskrywers in Afrikaans. Hy is ook die samesteller van Galop, ’n bundel met perdestories wat pas by LAPA Uitgewers verskyn het.


1. Wat het jou die idee gegee om ’n bundel met perdeverhale saam te stel?
Ek het ’n Engelse bundel met perdestories gelees en was nie beïndruk nie. Ek het gedink ons sal beslis beter stories in Afrikaans kan skryf. Die uitgewer, Miemie du Plessis, was mal oor die idee.

2. Is jy self ’n perdeliefhebber?
Ek ry nie self perd nie – ’n perd het my eenkeer afgegooi en op my getrap toe ek en my nefie hom saam bloots probeer ry het. Ek het so te sê op die perd se boude gesit. Dit was nie slim nie. Ek het so rondgewip dat ek naderhand afgeval en onder die perd se pote beland het. My bene was vir lank baie blou en flippen seer. Naby my blyplek is daar egter perdestalle en ek gaan maak gereeld daar ’n draai om met die perde te gesels wanneer ek gaan stap. 

3. Voltooi: Ek dink perde is spesiale diere, want ...
 ... hulle is baie intuïtief – hulle kyk regdeur ’n mens. Hulle weet as jy siek is, as jy hartseer is, as jy hulle leed wil aandoen, as jy vir hulle lief is. Winston Churchill het nie verniet gesê daar is iets aan die buitekant van ’n perd wat goed is vir die binnekant van die mens nie.

4. Vertel ons ’n bietjie meer van die stories in Galop.
Daar is 13 heerlike stories in. Van ’n skynbaar befoeterde perd wat eintlik ’n sagte hart het, die verhaal van ’n spookperd, ’n spesiale perd wat ’n wens laat waar word, ’n hings wat baklei om weer die tropleier te word, ’n glansende perd, perde wat troos as ’n boetie sterf, en meer.

5.  Dit is die eerste keer dat jy ’n bundel met stories soos hierdie saamstel. Was dit vir jou moeiliker as om self ’n boek te skryf?
Dit was ’n lekker ervaring, want jy werk met skrywers se rou verhale. Ek is ’n bietjie van ’n control freak, so ek moes my inhou om nie my skryfstyl op stories af te druk nie. Ek sal beslis weer so iets aanpak. (Het jy vir my ’n storie, Jaco?)

6. Hoe lyk jou skryfroetine?
 Ek skryf soggens vir so twee ure lank, dan sal ek skilder, werk aan illustrasies of gaan gym of stap. Die skryftyd klink dalk min, maar die res van die dag is eintlik my dinktyd. Skrywers skryf ook as hulle dink!

7. Wat is vir jou die beste deel van skrywer wees?
 Ek kan my droom uitleef. Dis ook lekker om briefies of e-posse van lesers te kry.

8. En die slegste deel?
 As ’n manuskrip afgewys word ... Ja, dit gebeur nog. Dan moet jy vasbyt en bereid wees om weer te probeer en kyk of jy die storie kan red, of maar moet laat gaan.

9. Jy is nie net ’n fantastiese skrywer nie, maar ook ’n baie talentvolle illustreerder wat al van jou boeke self geïllustreer het. As jy enige kunstenaar (plaaslik of internasionaal) kan kies om jou volgende boek te illustreer, wie sou dit wees?
Ek hou baie van Piet Grobler se illustrasies. Hulle is so wonderlik verbeeldingryk. Een van hulle hang in die kantoor waar ek skryf.

10. Ek is seker aspirantskrywers kom klop gereeld by jou aan vir skryfraad. Wat dink jy is die grootste fout wat beginnerskrywers maak?
Jong skrywers lees nie genoeg nie. En met lees bedoel ek eintlik ook hulle kyk nie hoe stories “werk” nie. Stories volg ’n bepaalde patroon. Dit lyk baie maklik as jy ’n boek vir ontspanning lees, maar dit is nie. As ’n boek heerlik vir jou lees, moet jy weet die skrywer het baie tyd daaraan spandeer om dit so maklik te laat lyk!

Bestel die e-boekweergawe van Galop  hier: http://www.kalahari.com/Digital-Downloads/Galop-Perdestories-eBook_p_47889841?linkId=525696&affiliateId=10399&linkType=ORDER_REFERRAL


Tuesday, October 22, 2013

10 vrae aan Daniëlle Bakhuis


Daniëlle Bakhuis is die skrywer van Wraak (LAPA Uitgewers), ’n tienerboek wat ek onlangs in Afrikaans vertaal het. Dit is ’n heerlike storie oor wat gebeur wanneer ’n ou en ’n meisie uitmaak ... en besluit om wraak op mekaar te neem. Ek het per e-pos met die skrywer in Nederland gesels.
 
Daniëlle Bakhuis (foto verskaf)
1. Vertel my ’n bietjie meer oor jouself.
My naam is Daniëlle Bakhuis, ek is 31 jaar oud en woon saam met my kêrel in Amsterdam. Ek skryf al sedert ek 17 was vir tydskrifte. Ek het begin as rubriekskrywer vir die meisietydskrif Fancy. Deesdae skryf ek, afgesien van boeke, ook vir die tydskrif CosmoGIRL!.

2. Wraak takel ’n ernstige en relevante tema – internetboelies – maar op ’n lekker vermaaklike wyse. Hoeveel navorsing het jy gedoen tydens die skryf van die boek?
Ek doen eintlik nooit navorsing vir my boeke nie. Ek bly wel graag op die hoogte van aktuele sake, maar daarna vul ek dit in met my eie verbeelding. Dit is vir my ook die lekker ding van fiksie: dat daar geen reëls is waarby jy moet hou nie.

3. Hoe het die idee vir Wraak ontstaan?
Ek het op ’n tyd baie vloggers gevolg: videobloggers. Ek het my afgevra wat sou gebeur as jy so ’n gewilde videoblogger se meisie is, en wat dan sou gebeur as jy met hom sou uitmaak. ’n Videoblogger vlog oor alles in sy lewe, sal hy dan dáároor ook vlog? En wat as dit dan handuit ruk? Bam! Die idee vir Wraak is gebore.

4. Wat is die interessantste terugvoering wat jy tot dusver van lesers oor hierdie spesifieke boek gekry het?
Vir my is die lekkerste wanneer meisies verbaas is omdat lees glad nie vervelig is nie. Lees ís nie vervelig nie! As jy so dink, het jy nog nooit ’n goeie boek gelees nie. :-)

5. In watter tale, afgesien van Afrikaans, is jou boeke tot dusver vertaal?
In Duits. Ek hoop dat my boeke ook nog in Engels vertaal sal word, want dan sal ek dit self ook kan lees, haha. Maar ek het nogal verbasend goed met die Afrikaans gevaar.

6. Hoe voel jy oor die feit dat jou boek nou ook in Afrikaans beskikbaar is – en ken/lees jy enige Afrikaanse skrywers se werk?
Dis baie gaaf dat Wraak nou ook in Afrikaans gelees kan word. Dis vir my ’n enorme eer. Ek ken geen Afrikaanse skrywers nie, so as iemand dalk vir my ’n paar tips het ...?



7. Die omslag van die Afrikaanse uitgawe verskil van die Nederlandse uitgawe van jou boek. Wat dink jy van die Afrikaanse baadjie wat jou storie gekry het?
Ja, dis baie mooi! Waarvan ek ook hou, is dat dit ’n slapbanduitgawe is. Dit buig lekkerder. Ek breek altyd my boeke se rugkante.

8. In die Afrikaanse mark is die eerste drukoplaag van ’n jeugboek gewoonlik 2 000-3 000 kopieë. Hoe vergelyk dit met die Nederlandse mark?
Die oplae is miskien ’n bietjie hoër. Ek dink so 3 000-4 000.

9. Waarom skryf jy hoofsaaklik vir tieners?
My tienerjare was vir my een van die lekkerste tye in my lewe. Alles is nuut, alles is opwindend, alles is superlekker of ontsettend simpel. Tieners is baie oorspronkliker as volwassenes, en hulle het ook ’n groter verbeelding.

10. Op jou webtuiste merk ek dat jy gereeld skole besoek om oor jou boeke te gesels. Watter rol speel sulke skolebesoeke in jou skryfloopbaan? Kry jy byvoorbeeld waardevolle terugvoering?
Dis fantasties om skolebesoeke te doen, want dit gee my die geleentheid om my teikenmark van aangesig tot aangesig te ontmoet. Dit lewer waardevolle inligting op. In Wraak is die hoofkarakter byvoorbeeld baie ontsteld omdat haar eks-kêrel haar selfoonnommer op die internet publiseer. Agterna het ek egter besef dis meer van ’n volwasse probleem. Die helfte van die skoliere met wie ek gesels het, sou glad nie omgekrap wees as hul selfoonnommer op die internet openbaar gemaak word nie. Die reaksie was: “Dan het ek maar net meer mense met wie ek kan WhatsApp.”