Tuesday, October 22, 2013

10 vrae aan Daniëlle Bakhuis


Daniëlle Bakhuis is die skrywer van Wraak (LAPA Uitgewers), ’n tienerboek wat ek onlangs in Afrikaans vertaal het. Dit is ’n heerlike storie oor wat gebeur wanneer ’n ou en ’n meisie uitmaak ... en besluit om wraak op mekaar te neem. Ek het per e-pos met die skrywer in Nederland gesels.
 
Daniëlle Bakhuis (foto verskaf)
1. Vertel my ’n bietjie meer oor jouself.
My naam is Daniëlle Bakhuis, ek is 31 jaar oud en woon saam met my kêrel in Amsterdam. Ek skryf al sedert ek 17 was vir tydskrifte. Ek het begin as rubriekskrywer vir die meisietydskrif Fancy. Deesdae skryf ek, afgesien van boeke, ook vir die tydskrif CosmoGIRL!.

2. Wraak takel ’n ernstige en relevante tema – internetboelies – maar op ’n lekker vermaaklike wyse. Hoeveel navorsing het jy gedoen tydens die skryf van die boek?
Ek doen eintlik nooit navorsing vir my boeke nie. Ek bly wel graag op die hoogte van aktuele sake, maar daarna vul ek dit in met my eie verbeelding. Dit is vir my ook die lekker ding van fiksie: dat daar geen reëls is waarby jy moet hou nie.

3. Hoe het die idee vir Wraak ontstaan?
Ek het op ’n tyd baie vloggers gevolg: videobloggers. Ek het my afgevra wat sou gebeur as jy so ’n gewilde videoblogger se meisie is, en wat dan sou gebeur as jy met hom sou uitmaak. ’n Videoblogger vlog oor alles in sy lewe, sal hy dan dáároor ook vlog? En wat as dit dan handuit ruk? Bam! Die idee vir Wraak is gebore.

4. Wat is die interessantste terugvoering wat jy tot dusver van lesers oor hierdie spesifieke boek gekry het?
Vir my is die lekkerste wanneer meisies verbaas is omdat lees glad nie vervelig is nie. Lees ís nie vervelig nie! As jy so dink, het jy nog nooit ’n goeie boek gelees nie. :-)

5. In watter tale, afgesien van Afrikaans, is jou boeke tot dusver vertaal?
In Duits. Ek hoop dat my boeke ook nog in Engels vertaal sal word, want dan sal ek dit self ook kan lees, haha. Maar ek het nogal verbasend goed met die Afrikaans gevaar.

6. Hoe voel jy oor die feit dat jou boek nou ook in Afrikaans beskikbaar is – en ken/lees jy enige Afrikaanse skrywers se werk?
Dis baie gaaf dat Wraak nou ook in Afrikaans gelees kan word. Dis vir my ’n enorme eer. Ek ken geen Afrikaanse skrywers nie, so as iemand dalk vir my ’n paar tips het ...?



7. Die omslag van die Afrikaanse uitgawe verskil van die Nederlandse uitgawe van jou boek. Wat dink jy van die Afrikaanse baadjie wat jou storie gekry het?
Ja, dis baie mooi! Waarvan ek ook hou, is dat dit ’n slapbanduitgawe is. Dit buig lekkerder. Ek breek altyd my boeke se rugkante.

8. In die Afrikaanse mark is die eerste drukoplaag van ’n jeugboek gewoonlik 2 000-3 000 kopieë. Hoe vergelyk dit met die Nederlandse mark?
Die oplae is miskien ’n bietjie hoër. Ek dink so 3 000-4 000.

9. Waarom skryf jy hoofsaaklik vir tieners?
My tienerjare was vir my een van die lekkerste tye in my lewe. Alles is nuut, alles is opwindend, alles is superlekker of ontsettend simpel. Tieners is baie oorspronkliker as volwassenes, en hulle het ook ’n groter verbeelding.

10. Op jou webtuiste merk ek dat jy gereeld skole besoek om oor jou boeke te gesels. Watter rol speel sulke skolebesoeke in jou skryfloopbaan? Kry jy byvoorbeeld waardevolle terugvoering?
Dis fantasties om skolebesoeke te doen, want dit gee my die geleentheid om my teikenmark van aangesig tot aangesig te ontmoet. Dit lewer waardevolle inligting op. In Wraak is die hoofkarakter byvoorbeeld baie ontsteld omdat haar eks-kêrel haar selfoonnommer op die internet publiseer. Agterna het ek egter besef dis meer van ’n volwasse probleem. Die helfte van die skoliere met wie ek gesels het, sou glad nie omgekrap wees as hul selfoonnommer op die internet openbaar gemaak word nie. Die reaksie was: “Dan het ek maar net meer mense met wie ek kan WhatsApp.”

1 comment:

  1. Ek het self nog nie Wraak gelees nie, maar na hierdie 10 vrae maak dit my vreeslik nuuskierig Dankie Jaco Jacobs!❤️

    ReplyDelete