Friday, October 11, 2013

Oor boekopdragte



“Wanneer gaan jy nou eendag ’n boek aan my opdra?”
         Ek het al ’n paar keer hierdie versoek gehoor.
         Van die meer as 90 boeke wat ek reeds gepubliseer het, is veel minder as die helfte aan iemand opgedra. Toe my uitgewer destyds daarop aandring dat ek my prenteboek Haasmoles aan iemand móét opdra (want die illustreerder het ’n opdrag gehad), het ek die volgende opdrag voorin laat aanbring:
         Vir Pippie, wat in haar drome hase jaag.
         My uitgewer was nie beïndruk nie. “Dis tyd dat jy kinders kry – ’n mens kan nie ’n boek aan jou hond opdra nie.”
         Ek weet nie hoekom ’n mens nie jou boek aan jou hond mag opdra nie. Maar ek het intussen ’n pragtige dogtertjie ryker geword én reeds ’n boek aan haar opgedra.
         ’n Boekopdrag is vir my ’n baie persoonlike en spesiale ding. My nuwe tienerboek, Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word, wat ek vandeesweek vir die eerste keer vasgehou het, is opgedra aan my pa. Eerstens omdat my pa die enigste mens is wat ek ken wat langdeelsomme uit sy kop kan doen. Terwyl hy op ’n plaaspad bestuur, kan jy vir hom slaglammers se gewigte hardop voorlees en hy sal dit bymekaartel en selfs die gemiddeld uitwerk en die verwagte slagpersentasie bereken. Daardie talent het ek helaas nie geërf nie, maar die hoofkarakter in my nuwe boek is ’n wiskundeboffin. Die hoofkarakter in my boek het ook ’n baie spesiale pa gehad – ’n pa wat van wiskunde en hoenders gehou het. Op bl. 85-86 is daar ’n lys met tien dinge wat hy van sy pa mis. Dis dalk die hartseerste ding wat ek nog ooit geskryf het.
         My pa is op die oomblik, terwyl ek hier tik, op pad Bloem toe om vir die naweek by ons te kom kuier. Hy weet nog nie die boek is aan hom opgedra nie. As jy hierdie bloginskrywing lees, moenie vir hom vertel voor ek kans kry om hom te wys nie ...

Hier is ’n skakel na die lokvideo vir die boek: http://www.youtube.com/watch?v=3NIudu0TphA

No comments:

Post a Comment