Sunday, October 6, 2013

10 vrae aan Wendy Maartens



’n Perd wat kan lees en tel; wêreldbekende hondehelde soos Just Nuisance en Jock van die Bosveld; Huberta die wandelende seekoei wat die land deurkruis het – die 31 stories in Wendy Maartens se Wonderlike ware dierestories sal jou met nuwe oë na ons geveerde en vierpotige vriende laat kyk. Wat is haar gunsteling-storie in die bundel, hoekom maak storie-soek haar bewerig, en wie is Kersiepit en Petunia aan wie die boek opgedra is?

1. Waar het die idee vir so ’n bundel met ware diereverhale ontstaan?
Ek het van kleins af ’n hart vir diere gehad. Ek het my verstand in my oupa Jan se reuse-voëlhokke gekry en het saam met hom na elke voël-, hoender- en landbouskou gegaan. Ander kinders het pop gespeel. Ek het tarentale en kwartels en konyne gehad wat ek in die kruiwa rondgestoot het en vir wie ek stories vertel het. Hulle het altyd na my gekyk met oë wat verstaan, anders as die grootmense se manier van kyk. Die bundel is op ’n sekere manier ’n brief aan elkeen van daardie diere.

2. Dit het sekerlik baie navorsing gekos om die stories op te spoor. Waar het jy die stories gaan soek?
Storie-soek is ’n wonderlike proses. Eers word jy heeltemal bewerig omdat jy nie ’n idee het waar in die wye wêreld jy alles gaan opspoor nie. Jy is nie eers lus om biblioteek toe te gaan of dit op die internet te waag nie, want daardie soektog lê vir jou en wag. Tot jy dit op ’n dag nie meer kan hou nie en daardie eerste boek oor die onderwerp optel. Dan pak ’n koors jou beet. Ek raak so opgewonde dat ek sommer ses snye peanutbutter-brood opeet. Daardie eerste storie bring jou op die spoor van ’n volgende een en daardie een bring jou weer op die spoor van nog een – ’n hele kettingreaksie. Al wat ek dan moet doen, is om op te hou om so hard te probeer soek en die spoor te volg. En dan is daar natuurlik biblioteek-engele ...

3. Watter een van die diere se stories in die boek het jou die meeste aangegryp?
Die varkie wat die aardbewing in China oorleef het deur steenkool te eet en reënwater te drink. Toe reddingswerkers haar ná weke kry, was sy so maer dat hulle nie kon sien sy is ’n vark nie. Ek het soveel hartseer nuusbulletins oor daardie aardbewing vertaal, maar hierdie het ’n glimlag op my gesig gesit. Ek lief goeie nuus.

4. Feitelike stories kan maklik saai en vervelig word – maar hierdie boek is ’n heerlike leeservaring. Hoe kry jy dit reg om die feite so aan te bied dat jou lesers nie belangstelling verloor nie?
Dis nie ek wat so knap is nie, dis die Goeie Vader wat die diere op so ’n wonderlike manier, met soveel persoonlikheid en humor, gemaak het.

5. Wie is Kersiepit en Petunia aan wie jy die boek opgedra het?
Hulle is twee baie spesiale werfganse wat my op meer as een manier leer vlieg het. Ongelukkig is Kersiepit verlede jaar oorlede. Petunia is nog springlewendig en vol geite en sy het ’n nuwe liefde. Sy naam is Lelieblom. Hy is pragtig en spierwit en hoog op sy pote. Petunia is vaalbruin en laag op die grond soos ’n 80’s Opel. Maar sy het klas – sy maak haar nes met laventeltakke. 

6. As jy enige dier kon wees, wat sou jy kies?
Op die oomblik, ’n swaeltjie. Volgende week dalk weer iets anders.

7. Hoe lyk ’n gemiddelde dag in jou lewe – spandeer jy baie tyd aan skryf?
Ek raak stadig wakker in die oggend. Gelukkig werk my storiekop ook as ek slaap – net nie altyd so mooi netjies en in volgorde soos ek graag sou wou hê nie. Ek maak koffie en gee die tuinvoëls kos en sit sommer net vir ’n rukkie om tot verhaal te kom. Dan is dit ek en die rekenaar of ek en die internet of ek en ’n stapel boeke om navorsing te doen. Omdat ek joernalis en kinderboekskrywer is en onlangs ook as boekredaktrise van ’n tydskrif aangestel is, is my dae gelukkig redelik onvoorspelbaar. Party dae moet ek met iemand ’n onderhoud gaan voer. Ander dae grawe ek ure lank in biblioteke se stoorkamers of tweedehandse boekwinkels of ek moet ’n praatjie lewer. Soms vat dit baie langer om ’n storie te soek as om hom te skryf. Ek is so dankbaar om iets te doen wat ek met my hele hart wil doen. 
 
Illustrasie: Johann Strauss (Wonderlike ware dierestories, LAPA Uitgewers)


8. Wat inspireer jou?
Sekere dinge gee my so ’n lekker kol op my maag, amper soos wanneer ’n mens kleintyd teen die glyplank afgegly het. As ek daardie gevoel kry, weet ek ek is besig met iets wat die moeite werd is. Om dae lank net te kan stap en stap en stap, laat my ook voel ek het vlerke. En om iewers in die veld met my oor teen die grond op te krul en aan die slaap te raak terwyl ek luister hoe die aarde se hart klop. En om soggens die eerste mossie te hoor wat die nagstilte met sy vrolike liedjie breek.  



9. Wat is die lekkerste terugvoering wat jy nog ooit van ’n leser gekry het?
’n Skoenmaker wat dekades lank in ’n agterplaas skoene reggemaak het, het nadat ek oor hom geskryf het vir my ’n boodskap gestuur: “Dis die beste dag van my lewe!”

10. Wat is jou gunsteling-aanhaling oor die skryfkuns?
Dit het nie noodwendig met die skryfkuns te make nie, maar kom uit die mond van een van ons groot digters. Adam Small se woorde: “Ek is altyd gespanne. Ek is ’n denkende mens,” dra ek al jare lank saam met my. Dis vir my oneindig kosbaar. Dit pryk saam met ’n foto van hom teen my studeerkamermuur.

No comments:

Post a Comment