As skrywer en uitgewer kry ek baie navrae van mense wat by my wil weet: Hoe gemaak met ’n kind wat skryftalent het?
Ek het self op ’n relatief jong ouderdom al begin skryf (en publiseer), en ek moet sê, my eerlike antwoord is: Laat hom/haar met rus.
Verstaan my goed, ek dink dis fantasties as ouers hul kinders aanmoedig om hul skryftalent te ontgin, maar te veel ma’s en pa’s wakker myns insiens op ’n te jong ouderdom onrealistiese skryfdrome by hul kind aan, veral met betrekking tot publikasie. Die realiteit is dat die uitgewersbedryf ’n uiters mededingende wêreld is. Hoekom jou kind op ’n jong ouderdom (ek praat hier selfs van laerskoolkinders) reeds blootstel aan die teleurstelling van ’n formele afkeurbrief (hoe simptiek die keurder ook al is)?
Ek verstaan ouers se dilemma. As jou kind van kleins af ’n talent vir musiek of ballet of kuns of ’n bepaalde sportsoort het, kan jy eenvoudig vir lesse betaal om sy/haar talent te slyp. Met skryf is dit nie so maklik nie. Uit die aard van wat skrywers doen, is dit ’n eensame beroep, en veral aanvanklik is sy/haar skryfwerk geneig om vir ’n aspirantskrywer ’n intens private en persoonlike saak te wees. Dit beteken jou kind moet op sy eie, sonder te veel inmenging en op eie inisiatief, met sy/haar skryftalent eksperimenteer.
As ek dus raad kan waag aan ouers van jong aspirantskrywers:
· Stel belang, veral as jou kind jou vra om sy/haar skryfpogings te lees, en moedig aan, maar moenie jou hoop of verwagtinge te vroeg op jou kind afdwing nie. Dit kan maklik die hele skryfproses inhibeer.
· Moenie jou kind probeer dwing om te skryf nie.
· Skaf die toerusting aan wat jou kind nodig het. Toegang tot ’n rekenaar is nuttig. Belangriker egter: Gee jou kind soveel moontlik toegang tot boeke. Vir jong skrywers is dit myns insiens aanvanklik baie belangriker dat hulle lees as dat hulle skryf.
· Wees op die uitkyk vir skryfkompetisies of skryfgeleenthede wat op kinders van jou kind se ouderdom gemik is. Sodoende kry ’n jong skrywer die geleentheid om op gelyke voet teen ander skrywers van sy ouderdom mee te ding. Gee jou kind die nodige inligting (en inskryfgeld, indien van toepassing), maar weer eens, moenie druk op hom/haar plaas om daarvoor in te skryf of te presteer nie.
· Respekteer jou kind se privaatheid. Moenie skelm deur jou kind se skryfwerk lees of daarop aandring om te sien wat hy/sy geskryf het nie.
Ek onthou goed hoe ek as kind aanvanklik huiwerig begin stories skryf het, eers in ’n kladboek, later op ’n antieke tikmasjien wat ek my pa-hulle gesmeek het om vir my op ’n veiling te koop, en uiteindelik op ’n ou tweedehandse 386-rekenaar wat ek in die naam van rekenaarstudies (wat ek gehaat het!) afgebedel het. Namate ek meer selfvertroue gekry het op grond van onder meer my prestasie in skryfkompetisies, het ek intens begin belang stel in die publikasie- en uitgeeproses en self daaroor begin lees en navraag doen, tot op die punt waar ek in graad 11 en 12 uiteindelik gereed was om my stories aan tydskrifte en uitgewers voor te lê.
Skryf is 'n verskriklik persoonlike kuns. Ek dink ouers moet glad nie direk inmeng met wat kinders skryf nie. Ouers kan egter positiewe advies gee, voorstelle maak van hoe mens beter kan skryf en dan die kind inskryf by skryfskole. Ek doen nou my Meesters in Kreatiewe Skryfkuns by Etienne van Heerden en die waarde van so 'n mentor is onbeskryflik. As ouers se droom is om te skryf moet hulle self skryf. As dit die kind se droom is om te skryf, as hy of sy verslaaf is aan die kuns van woorde, dan sal hy of sy skryf op sy eie. Die ouers kan net die jong skrywer soveel aanmoedig as moontlik om hul drome te volg, die res sal van self gebeur.
ReplyDelete