Vandag gaan nie ’n lekker dag wees nie.
Vanmiddag gaan ek en Elize afskeid neem van iemand wat vir ons baie beteken het.
Gasvrye Christa.
Altyd glimlaggende Christa wat jy by boekgeleenthede en partykeer sommer in die Mall raakgeloop het vir ’n vinnige gesels.
Christa wat gereeld op Facebook pittige kommentaar gelewer het, en vinnig was om te laat weet sy mis my status updates as ek op ’n Maandagoggend te stil na haar sin was.
Christa wat dit kon regkry om van Facebook-vriende régte vriende te maak.
Christa wie se inspirerende stories vir baie mense, veral tieners, ontsettend baie beteken het – die afgelope Desember, kort voor Kersfees, was een van die meisies wat voor Dischem geskenke toegedraai het om geld in te samel vir Kansa, besig om die nuutste Chilli-lipstiek te lees, en terwyl sy Elize se geskenk toegedraai het, het ek skaamteloos name dropping gedoen en gespog dat ek vir Christa Jonker-Jordaan ken.
Christa wat meer aanhalings geken het as enige iemand anders wat ek ken.
Christa wat die aand met ons troue, toe die gaste begin huis toe gaan, nog buite op die gras met my en my strooijonker, Pieter, gesit en gesels het.
Christa wat gelééf het vir haar gesin en wat verlede Woensdag op pad na George was om haar dogter se verjaardag te vier en by te wees met haar derde kleindogter se geboorte.
Ai, Christa, ek kan skaars glo dis al meer as ’n week gelede dat ons daardie oproep gekry het. Ons het daardie einste oggend nog oor jou gepraat toe ons daar naby jul huis verbygery het; gesê hoe opgewonde jy moet wees; gewonder of julle al daar is. Ons wou jou en Gerrit nog ’n slag vir ete nooi. Ek dink ons het in ’n stadium belowe om nog ons troufoto’s en ons Mauritius-foto’s te kom wys.
Van al die kaartjies wat ons verlede jaar met ons troue gekry het, was jou en Gerrit s’n die een wat ons seker die meeste laat glimlag het. Net verlede week nog, vertel Elize, was sy besig om sout in ons aandete te gooi en sy het gedink aan daardie sakkie sout in julle kaartjie, en die boodskap in jou handskrif: Hiermee saam julle eerste bietjie sout! Dit is nou die eerste van die baie wat julle saam moet opeet!
Mag jou woorde mense, en veral vir Gerrit en die res van jou gesin, nog vir baie jare bybly, troos en laat glimlag.
No comments:
Post a Comment