Ek weet nie hoeveel mense dit besef nie, maar in ons huidige finansiële klimaat is die publikasie van ’n oorspronklike Afrikaanse prenteboek so amper-amper ’n wonderwerk.
’n Wonderwerk dat skrywers nog bereid is om prenteboeke te skryf, want die outeursgeld wat jy op so ’n boek verdien, is maar skraps.
’n Wonderwerk dat daar nog illustreerders (en góéie illustreerders, boonop) is wat bereid is om prenteboeke te illustreer, want dit verg dikwels maande en maande se werk, ’n stel volkleurskilderye waarvoor jy nou nie juis ’n king’s ransom verdien nie.
’n Wonderwerk dat uitgewerye nog bereid is om oorspronklike Afrikaanse prenteboeke te publiseer, ondanks die feit dat dit heelwat goedkoper en makliker is om oorsese boeke te vertaal en in koproduksie met groot internasionale uitgewershuise te produseer.
Tog is ek oneindig dankbaar daaroor, want van die prettigste en kreatiefste skryfwerk wat ek tot dusver gedoen het, was prenteboektekste. Liewe land, ’n olifant! en Madelief, moenie! was enorme pret om te skryf. So ook Waarvoor is seerowers bang?, wat oor ’n paar maande verskyn.
Martie Preller se Babalela het verskyn in ’n tyd toe uitgewers dit eintlik nie wou waag om prenteboeke te publiseer nie. ’n Hele geslag Afrikaanse kinders het met Babalela grootgeword; het geleer dat dit oukei is om, as mense aanhou karring aan jou, soms te sê: “Los my uit!”
Dit sou ’n reuseverlies wees as boeke soos die Babalela-reeks, Wat doen jy, Daniël? van Leon de Villiers, Niki Daly se Jamela-boeke, die hartroerend mooi Lena se bottelboom van Wendy Maartens, en Alana Bailey se Die prinses van die Afrikavlaktes nooit in Afrikaans verskyn het nie.
So, nou is my vraag: Waarom word Afrikaanse prenteboeke selde of nooit behoorlik in die media bespreek?
As daar na ’n nuwe prenteboek op ’n koerant of tydskrif se boekeblad verwys word, is dit gewoonlik bloot ’n kort aankondiging. Of een van die subs kry die geleentheid om in 'n paar woorde te skryf wat sy/haar kinders van die boek gedink het.
Prenteboeke is baie kleuters se eerste kennismaking met stories in Afrikaans – maak dit dan nie sin dat hul liefde vir lees reeds met hierdie kennismaking gevestig kan word nie? As jy so daarna kyk, hoe op aarde kan die waarde van prenteboeke (en ander kinderboeke, wat net so gruwelik afgeskeep word) dan nog in ons literêre sisteem gering geskat word? Daar is tog sekerlik resensente wat genoegsame agtergrondkennis het om ’n behoorlike ontleding van ’n prenteboek te kan doen?
Waarom skryf niemand ooit oor hoe subtiel en humoristies die ernstige “boodskap” van die teks gehanteer word in Niki Daly se Moenie vir Bernard soen nie en Wat is jy, Kartoffel? van Marga Jonker?
Waarom gaan die debuutwerk van talentvolle nuwe illustreerders soos Chris Venter, Maja Sereda, Katrin Coetzer, Sebastien Quevauvilliers en Zunica Joao so ongesiens verby? Hoekom kan ’n resensent met ’n deeglike agtergrond in illustrasie nie ’n slag ’n onderhoudende resensie oor hierdie illustreerders se werk skryf nie?
Waarom tref niemand ooit 'n vergelyking tussen die gehalte van plaaslike prenteboeke en dié wat oorsee verskyn nie?
Waarom kry prenteboeke so dikwels slegs media-aandag as daar ’n celebrity angle daaraan gegee word? (En gewoonlik is die gehalte van sulke boeke juis onder verdenking.)
Die Afrikaanse media behoort nie kinderboeke te ignoreer nie. Dit is nie ’n Mickey Mouse-genre nie; kinderboeke is ’n genre met sy eie publikasiewetenskap, sy eie tradisies en norme en klassieke tekste.
En dit is die genre wat hopelik in die toekoms lesers vir Afrikaans sal help verseker. Dis nou te sê as daar oor tien jaar nog oorspronklike Afrikaanse prenteboeke verskyn.
Jaco, dis gaaf om te weet jy het 'n blog! Vir 'n boekliefhebber weet ek min!! Maar ek is so met jou! Ek het nou twee klein dogtertjies en ek probeer om elke maand 'n boekie vir hul elkeen te koop, want dit IS WAAR DIE LIEFDE VIR LEES BEGIN.
ReplyDeleteDaar het al ma's by die kleuterskool vir my gevra waar hulle Afrikaanse boekies kan koop, want EB stock Afrikaans net om hul gewetes te sus, dink ek. En dis waar, daar is geen mediateenwoordigheid vir prenteboeke nie. Kan gewone mense iets daaraan doen? Ek is geen kenner nie, maar ek ken mense by UP se Departement Vroeëkinderonderwys wat die tweedejaarstudente elke jaar 'n storiekompetisie laat doen. Miskien kan hulle reviews doen?
Ek voel die situasie moet verander, want ek dink definitief daar is 'n mark. Wat kan ek doen?
anni.j: Baie dankie vir jou kommentaar. Myns insien doen jy die heel belangrikste ding van almal - om elke maand vir jou dogtertjies 'n boek te koop. Genade, as meer ouers net wil besef hoe ongelooflik belangrik dit is. 'n Mens besef boeke is duur, maar as jy mooi daarna kyk, kos 'n prenteboek tans ongeveer soveel soos 'n kaartjie vir 'n 3D fliek of 'n groterige pizza! :-)
ReplyDeleteDaar is gelukkig darem ook wonderlike platforms soos Storiewerf (www.storiewerf.co.za waar resensies nog van tyd tot tyd verskyn en waar elke maand volop inligting oor die nuutste Afrikaanse kinder- en jeugboeke verskyn. Gaan gooi gerus 'n draai daar. En moedig mense aan om op plekke soos Kalahari.net en Graffiti Boekwinkel (www.graffitiboeke.co.za) Afrikaanse kinderboeke te bestel as hulle dit nie in hulle plaaslike boekwinkels kry nie.