’n Perd wat kan lees en tel; wêreldbekende hondehelde soos
Just Nuisance en Jock van die Bosveld; Huberta die wandelende seekoei wat die
land deurkruis het – die 31 stories in Wendy Maartens se Wonderlike ware dierestories sal jou met nuwe oë na ons geveerde en
vierpotige vriende laat kyk. Wat is haar gunsteling-storie in die bundel,
hoekom maak storie-soek haar bewerig, en wie is Kersiepit en Petunia aan wie
die boek opgedra is?
1. Waar het die idee
vir so ’n bundel met ware diereverhale ontstaan?
Ek het van kleins af ’n hart vir diere gehad. Ek het my verstand
in my oupa Jan se reuse-voëlhokke gekry en het saam met hom na elke voël-,
hoender- en landbouskou gegaan. Ander kinders het pop gespeel. Ek het tarentale
en kwartels en konyne gehad wat ek in die kruiwa rondgestoot het en vir wie ek
stories vertel het. Hulle het altyd na my gekyk met oë wat verstaan, anders as die
grootmense se manier van kyk. Die bundel is op ’n sekere manier ’n brief aan
elkeen van daardie diere.
2. Dit het sekerlik
baie navorsing gekos om die stories op te spoor. Waar het jy die stories gaan
soek?
Storie-soek is ’n wonderlike proses. Eers word jy heeltemal
bewerig omdat jy nie ’n idee het waar in die wye wêreld jy alles gaan opspoor
nie. Jy is nie eers lus om biblioteek toe te gaan of dit op die internet te
waag nie, want daardie soektog lê vir jou en wag. Tot jy dit op ’n dag nie meer
kan hou nie en daardie eerste boek oor die onderwerp optel. Dan pak ’n koors
jou beet. Ek raak so opgewonde dat ek sommer ses snye peanutbutter-brood opeet.
Daardie eerste storie bring jou op die spoor van ’n volgende een en daardie een
bring jou weer op die spoor van nog een – ’n hele kettingreaksie. Al wat ek dan
moet doen, is om op te hou om so hard te probeer soek en die spoor te volg. En
dan is daar natuurlik biblioteek-engele ...
3. Watter een van die
diere se stories in die boek het jou die meeste aangegryp?
Die varkie wat die aardbewing in China oorleef het deur
steenkool te eet en reënwater te drink. Toe reddingswerkers haar ná weke kry,
was sy so maer dat hulle nie kon sien sy is ’n vark nie. Ek het soveel hartseer
nuusbulletins oor daardie aardbewing vertaal, maar hierdie het ’n glimlag op my
gesig gesit. Ek lief goeie nuus.
4. Feitelike stories
kan maklik saai en vervelig word – maar hierdie boek is ’n heerlike
leeservaring. Hoe kry jy dit reg om die feite so aan te bied dat jou lesers nie
belangstelling verloor nie?
Dis nie ek wat so knap is nie, dis die Goeie Vader wat die
diere op so ’n wonderlike manier, met soveel persoonlikheid en humor, gemaak
het.
5. Wie is Kersiepit
en Petunia aan wie jy die boek opgedra het?
Hulle is twee baie spesiale werfganse wat my op meer as een
manier leer vlieg het. Ongelukkig is Kersiepit verlede jaar oorlede. Petunia is
nog springlewendig en vol geite en sy het ’n nuwe liefde. Sy naam is Lelieblom.
Hy is pragtig en spierwit en hoog op sy pote. Petunia is vaalbruin en laag op
die grond soos ’n 80’s Opel. Maar sy het klas – sy maak haar nes met
laventeltakke.
6. As jy enige dier
kon wees, wat sou jy kies?
Op die oomblik, ’n swaeltjie. Volgende week dalk weer iets anders.
7. Hoe lyk ’n
gemiddelde dag in jou lewe – spandeer jy baie tyd aan skryf?
Ek raak stadig wakker in die oggend. Gelukkig werk my storiekop
ook as ek slaap – net nie altyd so mooi netjies en in volgorde soos ek graag
sou wou hê nie. Ek maak koffie en gee die tuinvoëls kos en sit sommer net vir ’n
rukkie om tot verhaal te kom. Dan is dit ek en die rekenaar of ek en die
internet of ek en ’n stapel boeke om navorsing te doen. Omdat ek joernalis en
kinderboekskrywer is en onlangs ook as boekredaktrise van ’n tydskrif aangestel
is, is my dae gelukkig redelik onvoorspelbaar. Party dae moet ek met iemand ’n
onderhoud gaan voer. Ander dae grawe ek ure lank in biblioteke se stoorkamers
of tweedehandse boekwinkels of ek moet ’n praatjie lewer. Soms vat dit baie
langer om ’n storie te soek as om hom te skryf. Ek is so dankbaar om iets te
doen wat ek met my hele hart wil doen.
8. Wat inspireer jou?
Sekere dinge gee my so ’n lekker kol op my maag, amper soos
wanneer ’n mens kleintyd teen die glyplank afgegly het. As ek daardie gevoel
kry, weet ek ek is besig met iets wat die moeite werd is. Om dae lank net te
kan stap en stap en stap, laat my ook voel ek het vlerke. En om iewers in die
veld met my oor teen die grond op te krul en aan die slaap te raak terwyl ek
luister hoe die aarde se hart klop. En om soggens die eerste mossie te hoor wat
die nagstilte met sy vrolike liedjie breek.
9. Wat is die
lekkerste terugvoering wat jy nog ooit van ’n leser gekry het?
’n Skoenmaker wat dekades lank in ’n agterplaas skoene reggemaak
het, het nadat ek oor hom geskryf het vir my ’n boodskap gestuur: “Dis die
beste dag van my lewe!”
10. Wat is jou
gunsteling-aanhaling oor die skryfkuns?
Dit het nie noodwendig met die skryfkuns te make nie, maar
kom uit die mond van een van ons groot digters. Adam Small se woorde: “Ek is
altyd gespanne. Ek is ’n denkende mens,” dra ek al jare lank saam met my. Dis
vir my oneindig kosbaar. Dit pryk saam met ’n foto van hom teen my studeerkamermuur.
Bestel Wonderlike ware dierestories
No comments:
Post a Comment