Ek
is al van kleins af mal oor rympies. Tot vandag toe onthou ek nog die rympies
waarmee my oupas en oumas ons kleintyd vermaak het.
My onnutsige oupa aan my pa se kant, wie se name ek
dra, het graag vir ons rympies vol onhebbelike woorde geleer, wat ons dan in
lekker moeilikheid laat beland het as ons dit later ewe niksvermoedend vir Ma en Pa
voorgedra het.
My ouma aan my ma se kant is tot vandag toe ’n
skatkis van ou kleuterrympies, en sy het dit kleintyd altyd graag met ons
gedeel.
Dit
is dalk een van die redes waarom ek ’n paar jaar gelede begin kinderrympies
skryf het. Ek is versot op die ritme en rym en lawwigheid wat uit ’n lekker
kindervers borrel.
Oor die jare het ek ’n paar bundels die lig laat
sien: Wurms met tamatiesous,
Oempakadoempa, ’n Brulpadda in my tas, My boetie dink hy’s Batman,
Holderstebolder, Kougom in my hare en Op
die punt van my tong.
Dit is deesdae vir my ’n reuse-lekkerte om vir
my eie kinders rympies voor te lees - en te hoor hoe dit hulle inspireer om op hul beurt self te begin rympies opmaak! ’n Paar jaar gelede het ek gewonder: Sou
dit moontlik wees om ’n boek te skryf met ’n rympie vir elke dag van die jaar?
Dit
sal ’n enorme uitdaging wees, dit het ek uit die staanspoor besef. Nie net
omdat dit sou beteken ek moet met 365 splinternuwe rympies (en een vir ’n
skrikkeljaar) vorendag kom nie, maar ook omdat so ’n boek nogal dik sou wees –
en duur om te publiseer.
Ek het ’n jaar of wat met die idee rondgeloop voordat
ek dit gewaag het om die voorstel aan my uitgewer te opper. Tot my verbasing
was sy dadelik opgewonde oor die idee.
En
so het die groot werk begin.
Hoe
op dees aarde skryf ’n mens 366 kinderrympies?
Een
geluk was dat ek met hierdie uitdaging weggetrek het op ’n tydstip toe ek weer
ernstig begin draf het. So, ek het dit elke oggend deel van my drafroetine
gemaak: Gaan draf tien of vyftien kilometer en probeer met ten minste drie of
vier idees vir nuwe rympies by die huis aankom.
Die
paar maande waarin ek aan daardie rympies gewerk het, was van die lekkerste en
kreatiefste skryftye wat ek ooit beleef het. (En as bonus het ek heelwat fikser
geword!) Op my drafroete rondom Naval Hill hier in Bloemfontein het ek
oorgenoeg tyd gehad om met lawwe idees rond te speel ...
- Wat gebeur met woorde wat niemand meer ken nie (hoort hulle nog in die woordeboek of is daar iewers ’n aftreeoord vir woorde)?
- Hoekom is daar so min rympies oor erdvarke?
- Wat sal gebeur as daar ’n haai in die skool se swembad beland – of as een van jou klasmaats op ’n dag op ’n grassnyer skool toe ry?
- Hoe vang mens ’n haas?
- Wat beteken die woord “boemtjakketjak”?
- Kan jy ’n rympie lees terwyl jy op jou kop staan?
- Wat sal gebeur as jou oupa ’n troetelkrokodil aanskaf?
- Hoekom dra bere nie klere nie?
- Wat kruip alles in jou oom se wilde, woeste baard (en in jou naeltjie!) weg?
- Wat sal gebeur as ’n sebra weier om die sebraoorgang te gebruik?
Daar
was limerieke, haikoes, tongknopers, ’n touspringrympie, vormgedigte. Rympies
oor Kersfees, Paasfees, die seisoene, skrikkeldag, Valentynsdag (en, les bes, erdvarke!).
Ek weet nie of ek al ooit tevore so lank of hard aan
’n projek gewerk het nie. Die eindresultaat was ’n manuskrip wat ’n hele dikke
lĂȘer volgelĂȘ het.
My
uitgewer het een van my gunsteling-illustreerders, Zinelda McDonald, oorreed om
die illustrasies te doen – iets wat op sig self ’n enorme taak moes wees.
En die
eindresultaat het pas verskyn: ’n stewige, kraakvars hardebandboek van 312 bladsye met die
allermooiste omslag en illustrasies waarop ek eindeloos trots is.
Die titel is Moenie
hierdie boek eet nie! ’n Rympie vir elke dag van die jaar.
En ek beplan om
volgende jaar dag vir dag weer saam met my kinders die pret te herleef wat ek
met die skryf van hierdie rympieboek gehad het.
No comments:
Post a Comment