Tuesday, August 16, 2011

’n Paar van my gunsteling-webtuistes van skrywers

Dis groot pret om so nou en dan op skrywers se webtuistes rond te snuffel en te kyk met watter boeke hulle volgende vorendag gaan kom of watter pittighede en prettighede daarop verskyn. Hier is ’n paar van my gunstelinge:

 

Dav Pilkey

Ek is ’n groot aanhanger van Pilkey se Dumb Bunnies-reeks, en Captain Underpants is net so prettig. Sy webtuiste het die volgende waarskuwing: WARNING: This website contains scenes and material which may be considered too silly for grown-ups, small animals, and many varieties of houseplants. If you are a grown-up, a small animal, or a houseplant, we strongly urge you to seek the permission of a kid before browsing this site!

Adres: http://www.pilkey.com/

 

Neil Gaiman

Ek is nie so mal oor al Gaiman se werk soos ek heimlik voel ek behoort te wees nie, maar as ek sy blog op sy webtuiste begin lees, kan ek nie ophou nie. Lekker insig in die lewe van ’n supersterskrywer!

Adres: http://journal.neilgaiman.com/

 

Stephen King

King se amptelike webtuiste is ’n verstommende bewys van hoe groot sy empire is. Dit wemel van aankondigings oor nuwe e-boeke, strokiesprente, TV-reekse en selfs nuus oor King se amptelike radiostasie, 100.3 WKIT. (’n Bonuspunt as jy die pun snap ...)

Adres: http://www.stephenking.com/index.html

 

Emily Gravett

Gravett se webtuiste is slim ontwerp – nes ’n mens van hierdie innoverende prenteboekskrywer en -illustreerder verwag!

Adres: http://www.emilygravett.com/

 

Anne Rice

As ’n mens die mediaberigte lees, lyk dit of Rice by die dag eksentrieker word. Sy bly egter in my oë die koningin van die vampiergenre, en Stephenie Meyer en Charlaine Harris is baie dank aan haar verskuldig. Dit is interessant om te sien hoe toeganklik Rice klaarblyklik as skrywer is – aanhangers (groepe van meer as 25) word selfs genooi om via Skype met haar te gesels, ’n voorstel wat jy op min skrywers se webtuistes teëkom. Hoe maklik dit is om regtig so ’n Skype-onderhoud met haar te reël, weet ek egter nie. En of sy regtig self haar e-posse beantwoord, is ook ’n ope vraag.

Adres: http://www.annerice.com/

Monday, July 25, 2011

Moet ek liewer ophou skryf?



Ek kry gereeld briewe van gefrustreerde aspirantskrywers wat wil weet: Is dit die moeite werd om aan te hou met skryf? My manuskrip(te) is deur byna elke moontlike uitgewery afgekeur en ek weet regtig nie meer of ek enige skryftalent het nie. Is uitgewers bang om nuwe skrywers se boeke te publiseer? Moet ek ’n professionele proefleser kry om my manuskrip te versorg? Moet ek na ’n skryfskool toe gaan? Wat wil uitgewers nou eintlik hê?

Dis vir my baie moeilik om te sê wat jou te doen staan. Ongelukkig is dit waar dat mens 'n dik vel moet hê in hierdie bedryf. Mense is dikwels verbaas om te hoor dat skrywers wat reeds baie gepubliseer het, steeds afkeurbriewe kry, maar dit is regtig waar. Op my hardeskyf is talle stories wat nie die mas opgekom het nie. Baie van my stories is deur ’n lang en uitputtende herskryfproses voordat hulle vir publikasie aanvaar is.

As 'n manuskrip deur twee of drie uitgewerye afgekeur is, beteken dit nie noodwendig dit het nie meriete nie (almal noem altyd die voorbeeld van die eerste Harry Potter-boek wat glo deur byna elke Britse uitgewery afgekeur is – lees http://labarker.com/HarryPotter/howharry.html vir ’n interessante bespreking daaroor), maar my eerlike opinie: As dit my storie was, sou ek dit eers los en aan iets nuut begin werk. 'n Mens (ekself ingesluit) is geneig om so verlief te raak op 'n storie (dikwels juis daardie stories wat nié werk nie) dat jy later daaraan bly vasklou, in plaas daarvan om aan te hou met skryf.

’n Uitgewery se voortbestaan is afhanklik van nuwe stories, so moenie jouself bluf deur te sê: Ag, hulle soek nie regtig nuwe skrywers se stories nie, dis hoekom hulle my manuskrip afgekeur het. Ek is self ’n uitgewer, en ek kan jou verseker die werwing van nuwe skrywers is ’n prioriteit. Party genres verkoop weliswaar nie so goed soos ander nie (prenteboeke vaar tans swak in Afrikaans), daarom kan ’n mens minder daarvan publiseer en moet jy noodwendig kieskeuriger wees, maar geen uitgewer sal ’n goeie manuskrip deur sy vingers laat glip bloot omdat dit ’n nuwe skrywer se werk is nie.

Om 'n storie wat nie werk nie professioneel te laat proeflees, gaan waarskynlik min help - tensy jy bedoel jy wil dit deur 'n kundige laat lees wat jou kan help om die storiefoute uit te stryk. Maar selfs in laasgenoemde geval kan dit 'n duur oefening wees wat nie noodwendig publikasie gaan verseker nie. (En ligloop, hoor, daar is heelwat “kenners” wat teen ruim betaling manuskripte versorg, maar in werklikheid geen ondervinding in die kinder-en-jeugboekbedryf het nie.) My ervaring is dat skryfskole ’n wonderlike inspuiting is vir ’n mens se kreatiwiteit, en dat jy daar baie kan leer oor hoe die bedryf werk, maar uiteindelik is die hartseerfeit dat geen skryfskool van jou ’n skrywer kan maak nie.

Ek begryp aspirantskrywers se frustrasie met uitgewers, maar dis eintlik nie regtig so moeilik om te bepaal waarna hulle op soek is nie. Die geheim is maar net om die mark te bestudeer. As jy tienerboeke skryf, moet jy regtig alles gaan lees wat tans op die mark is, ten minste alles wat die afgelope vyf jaar (in Afrikaans) verskyn het. Nie alles is ewe goed nie, maar die vermoë om 'n swak jeugboek raak te sien, is ook al nuttig, want dit beteken jy verstaan die genre. Dit mag ook wees dat tienerboeke bloot nie die ideale genre vir jou "skrywerstem" is nie - dalk is jy eerder veronderstel om vir jonger kinders, of vir volwassenes, te skryf. Maar die enigste manier hoe jy dit sal kan vasstel, is om soveel moontlik te skryf (en te lees!). Die boeke wat van kleintyd af my tone laat omkrul het van lekkerkry, is die boeke wat ek die meeste geniet om te skryf. Dit is hoekom skryf so 'n moeilike ding is, want dis 'n dissipline waarmee ander mense jou eintlik baie min kan help. Vergeet van al die trimmings – op die ou end is dit net jy en jou rekenaar of tikmasjien of skryfpapier.

Die skrywer van die Harry Potter-artikel hier bo doen ’n interessante oefening: Lees ’n kinder- of tienerboek en skryf dan die redes neer waarom jy dink die betrokke boek is gepubliseer – met ander woorde, probeer uit die uitgewer se oogpunt daarna kyk. Neem Fanie Viljoen se Nova-reeks byvoorbeeld:

·                    Dis wetenskapfiksie, ’n seldsame genre in Afrikaans, maar ’n gewilde genre in rolprente. So, daar is ’n leemte in die mark.

·                    Die storie bevat volop aksie wat die leser op die punt van sy stoel hou, en dis goed geskryf.

·                    Dis lekker grillerig – iets waarvan jong lesers altyd hou.

·                    Daar is heelwat humor – wat ook altyd ’n treffer is.

·                    Die karakters is oortuigend, en seuns én meisies sal by hulle aanklank kan vind.

Of kyk na Christien Neser se reeks bestaande uit Kondensmelk, Koshuiskoffie  en Blou sjokolade (wat binnekort verskyn):

·                    Dis ’n liefdesverhaal – waarskynlik die gewildste genre onder tienermeisies.

·                    Dis anders. Die hoofkarakter, Elle, is ’n vars bries in die Afrikaanse jeugliteratuur. Sy is ’n bedorwe brokkie wat hard aarde toe kom. Sy moet dinge doen soos gaan kamp in Botswana, om middernag uit die koshuis sluip om haar beste vriendin te help hokkie oefen, sy moet die Otter-wandelpad gaan stap.

·                    Dis snaaks. Humor is gewild vir enige ouderdomsgroep. En Elle en Refi en die res van die karakters is plek-plek skreeusnaaks.

Om terug te keer na die vrae wat ek aan die begin gevra het: Ek dink die bottom line is: Skryf net. Of uitgewers dit in hierdie stadium wil aanvaar of nie. Geen enkele woord wat 'n mens skryf, is ooit 'n vermorsing nie, want in die eerste plek skryf jy vir jouself. Moenie jou te erg blind staar teen die publikasieproses nie. 

Monday, June 27, 2011

Waarom word prenteboeke nie behoorlik geresenseer nie?





Ek weet nie hoeveel mense dit besef nie, maar in ons huidige finansiële klimaat is die publikasie van ’n oorspronklike Afrikaanse prenteboek so amper-amper ’n wonderwerk.

’n Wonderwerk dat skrywers nog bereid is om prenteboeke te skryf, want die outeursgeld wat jy op so ’n boek verdien, is maar skraps.

’n Wonderwerk dat daar nog illustreerders (en góéie illustreerders, boonop) is wat bereid is om prenteboeke te illustreer, want dit verg dikwels maande en maande se werk, ’n stel volkleurskilderye waarvoor jy nou nie juis ’n king’s ransom verdien nie.

’n Wonderwerk dat uitgewerye nog bereid is om oorspronklike Afrikaanse prenteboeke te publiseer, ondanks die feit dat dit heelwat goedkoper en makliker is om oorsese boeke te vertaal en in koproduksie met groot internasionale uitgewershuise te produseer.

Tog is ek oneindig dankbaar daaroor, want van die prettigste en kreatiefste skryfwerk wat ek tot dusver gedoen het, was prenteboektekste. Liewe land, ’n olifant! en Madelief, moenie! was enorme pret om te skryf. So ook Waarvoor is seerowers bang?, wat oor ’n paar maande verskyn.

Martie Preller se Babalela het verskyn in ’n tyd toe uitgewers dit eintlik nie wou waag om prenteboeke te publiseer nie. ’n Hele geslag Afrikaanse kinders het met Babalela grootgeword; het geleer dat dit oukei is om, as mense aanhou karring aan jou, soms te sê: “Los my uit!”

Dit sou ’n reuseverlies wees as boeke soos die Babalela-reeks, Wat doen jy, Daniël? van Leon de Villiers, Niki Daly se Jamela-boeke, die hartroerend mooi Lena se bottelboom van Wendy Maartens, en Alana Bailey se Die prinses van die Afrikavlaktes nooit in Afrikaans verskyn het nie.

So, nou is my vraag: Waarom word Afrikaanse prenteboeke selde of nooit behoorlik in die media bespreek?

As daar na ’n nuwe prenteboek op ’n koerant of tydskrif se boekeblad verwys word, is dit gewoonlik bloot ’n kort aankondiging. Of een van die subs kry die geleentheid om in 'n paar woorde te skryf wat sy/haar kinders van die boek gedink het. 

Prenteboeke is baie kleuters se eerste kennismaking met stories in Afrikaans – maak dit dan nie sin dat hul liefde vir lees reeds met hierdie kennismaking gevestig kan word nie? As jy so daarna kyk, hoe op aarde kan die waarde van prenteboeke (en ander kinderboeke, wat net so gruwelik afgeskeep word) dan nog in ons literêre sisteem gering geskat word? Daar is tog sekerlik resensente wat genoegsame agtergrondkennis het om ’n behoorlike ontleding van ’n prenteboek te kan doen?

Waarom skryf niemand ooit oor hoe subtiel en humoristies die ernstige “boodskap” van die teks gehanteer word in Niki Daly se Moenie vir Bernard soen nie en Wat is jy, Kartoffel? van Marga Jonker?

Waarom gaan die debuutwerk van talentvolle nuwe illustreerders soos Chris Venter, Maja Sereda, Katrin Coetzer, Sebastien Quevauvilliers en Zunica Joao so ongesiens verby? Hoekom kan ’n resensent met ’n deeglike agtergrond in illustrasie nie ’n slag ’n onderhoudende resensie oor hierdie illustreerders se werk skryf nie?

Waarom tref niemand ooit 'n vergelyking tussen die gehalte van plaaslike prenteboeke en dié wat oorsee verskyn nie?

Waarom kry prenteboeke so dikwels slegs media-aandag as daar ’n celebrity angle daaraan gegee word? (En gewoonlik is die gehalte van sulke boeke juis onder verdenking.)

Die Afrikaanse media behoort nie kinderboeke te ignoreer nie. Dit is nie ’n Mickey Mouse-genre nie; kinderboeke is ’n genre met sy eie publikasiewetenskap, sy eie tradisies en norme en klassieke tekste.

En dit is die genre wat hopelik in die toekoms lesers vir Afrikaans sal help verseker. Dis nou te sê as daar oor tien jaar nog oorspronklike Afrikaanse prenteboeke verskyn.

Tuesday, June 7, 2011

Stalmaats


Nou ja, dis amptelik: Die elfde en twaalfde (en voorlopig laaste) van die Stalmaats-boeke is vanoggend na die uitgewer toe. Die titels is (voorlopig) Sirkusperde en Afskeidsrit.

Die druk kan nogal erg word as mens ’n reeks boeke skryf – ’n keer of wat was daar al omslae gereed vir boeke waarvan ek die storie nog nie eens klaar geskryf gehad het nie en waarvan die sperdatums gevaarlik naby was. Maar dit is ook elke keer lekker as jy weer met die bekende karakters en ruimtes begin werk. Teen hierdie tyd is daar al prentjies in my kop van Anri-hulle se huis, van hoe die Dagbreek-ryskool se uitleg lyk, en natuurlik van hoe Anri, Megan, Karen, Jacques, Vinette en al die ander karakters lyk. 

Regdeur die reeks was dit pret om vir Hendri nuwe obsessies uit te dink (as hy nie ’n brandweerman wil word nie, wil hy in die sirkus gaan werk – nes ekself toe ek ’n kleuter was) en met nuwe dinge vorendag te kom waarmee Karen die immer katterige, verwaande Vinette kan toesnou (“Het jy dan nie iets om te doen vandag nie, Vinette? Jy weet, soos ’n beauty treatment ... ek hoor daar’s vandag spesiale afslag by die kattesalon.”).

Maar dit is ook ’n uitdaging om elke storie uniek te hou, sodat die reeks nie eentonig word nie. Boek 12 is nogal hartseer, moontlik omdat ek nogal treurig was om afskeid te neem van die reeks.

Ek dink ek het dit al voorheen op hierdie blog gesê, maar hier's dit weer: Navorsers sê lesers geniet reeksboeke omdat hulle met vertroude karakters en situasies en ruimtes te doen kry, en dit is waarskynlik die lekkerste deel daarvan om ’n reeks te skryf ook.

Gaan daar nog Stalmaats-boeke wees? As dit van my uitgewer afhang, beslis. Maar vir nou wil ek eers ’n blaaskans neem. “Lize Roux” is besig om oor ’n nuwe reeks te broei ...

* Sirkusperde en Afskeidsrit verskyn, as alles volgens plan verloop, Oktober by LAPA Uitgewers.
* Hier is al die titels in die reeks:

1. Perdedrome (LAPA, 2006)

2. Totsiens, Sugarplum (LAPA, 2006) – Wenner: ATKV-kinderboektoekenning 2007

3. Anri se plan (LAPA, 2007)

4. Die spookperd (LAPA, 2007) – Wenner: ATKV-kinderboektoekenning 2008

5. Die beroemde ruiter (LAPA, 2008)

6. Komaan, Karen! (LAPA, 2008)

7. Seeponies (LAPA, 2009)

8. Roset (LAPA, 2009)

9. Vrye Teuels (LAPA, 2010)

10. Gevaar op Dagbreek (LAPA, 2010)

11. Sirkusperde (LAPA, Julie 2011)

12. Afskeidsrit (LAPA, Julie 2011)

Thursday, May 26, 2011

Vir Christa

Vandag gaan nie ’n lekker dag wees nie.

            Vanmiddag gaan ek en Elize afskeid neem van iemand wat vir ons baie beteken het.

            Gasvrye Christa.

Altyd glimlaggende Christa wat jy by boekgeleenthede en partykeer sommer in die Mall raakgeloop het vir ’n vinnige gesels.

Christa wat gereeld op Facebook pittige kommentaar gelewer het, en vinnig was om te laat weet sy mis my status updates as ek op ’n Maandagoggend te stil na haar sin was.

Christa wat dit kon regkry om van Facebook-vriende régte vriende te maak.

Christa wie se inspirerende stories vir baie mense, veral tieners, ontsettend baie beteken het – die afgelope Desember, kort voor Kersfees, was een van die meisies wat voor Dischem geskenke toegedraai het om geld in te samel vir Kansa, besig om die nuutste Chilli-lipstiek te lees, en terwyl sy Elize se geskenk toegedraai het, het ek skaamteloos name dropping gedoen en gespog dat ek vir Christa Jonker-Jordaan ken.

Christa wat meer aanhalings geken het as enige iemand anders wat ek ken.

Christa wat die aand met ons troue, toe die gaste begin huis toe gaan, nog buite op die gras met my en my strooijonker, Pieter, gesit en gesels het.

Christa wat gelééf het vir haar gesin en wat verlede Woensdag op pad na George was om haar dogter se verjaardag te vier en by te wees met haar derde kleindogter se geboorte.

            Ai, Christa, ek kan skaars glo dis al meer as ’n week gelede dat ons daardie oproep gekry het. Ons het daardie einste oggend nog oor jou gepraat toe ons daar naby jul huis verbygery het; gesê hoe opgewonde jy moet wees; gewonder of julle al daar is. Ons wou jou en Gerrit nog ’n slag vir ete nooi. Ek dink ons het in ’n stadium belowe om nog ons troufoto’s en ons Mauritius-foto’s te kom wys.           

Van al die kaartjies wat ons verlede jaar met ons troue gekry het, was jou en Gerrit s’n die een wat ons seker die meeste laat glimlag het. Net verlede week nog, vertel Elize, was sy besig om sout in ons aandete te gooi en sy het gedink aan daardie sakkie sout in julle kaartjie, en die boodskap in jou handskrif: Hiermee saam julle eerste bietjie sout! Dit is nou die eerste van die baie wat julle saam moet opeet!

Mag jou woorde mense, en veral vir Gerrit en die res van jou gesin, nog vir baie jare bybly, troos en laat glimlag.

Tuesday, May 17, 2011

Word 'n boek op sy baadjie getakseer?





Ek sien nou die dag iemand maak die opmerking dat swak boeke soms goed verkoop omdat hulle in ’n mooi omslag “verpak” word. Dis sekerlik nie ’n heeltemal ongeldige punt nie – ek het self al ’n keer of wat ’n boek gekoop op grond van ’n mooi omslag, net om later te ontdek die inhoud is nie te waffers nie. Ek dink (hoop?) egter so ’n stelling onderskat ook in ’n mate lesers se intelligensie. Die omslagontwerp is darem net een van die elemente wat ’n leser ’n boek laat optel.

            Een van die opwindendste stappe in die boekmaakproses is vir my die dag wanneer jy die eerste keer die omslagontwerp ontvang. Ek kan ure lank na die voorblad van ’n nuwe boek staar. Met die publikasie van Virus het ek die omslagontwerp al maande voor die tyd ontvang, en ek was so beïndruk dat ek dit vir myself op fotopapier by die plaaslike Kodak Express laat druk het, net sodat ek daarna kan staar elke keer as ek van my rekenaar af opkyk.

            Die finale sê oor die omslagontwerp en illustrasies berus nie by jou as skrywer nie, maar by die uitgewery (wat immers daarvoor moet betaal). En dit is nie noodwendig ’n slegte ding nie – uitgewers weet immers veel meer van wat die mark vereis. Afgesien van een of twee uitsonderings, was ek nog altyd baie ingenome met die voorblaaie van my eie boeke. Van my gunstelinge is 13 Spookstories se blink omslag, die Zackie Mostert-boeke se lekker lewendige voorblaaie, die Kas vol Monsters-boeke met Chris Venter se treffende illustrasies, en die baadjie wat Suurlemoen! sedert sy tweede druk aanhet.

            Net soos modes verouder, kan ’n boekomslag ook sy jare begin wys. ’n Hele paar van my boeke het al mettertyd nuwe omslae gekry. In sommige gevalle is die omslag en/of illustrasies nie noodwendig verander omdat dit “oud” begin lyk het nie, maar omdat dit by ’n reeks moet inpas. Tande, byvoorbeeld, het sedert dit in 2002 verskyn het, reeds drie verskillende voorblaaie gehad. Tans word ’n hele rits van my boeke met nuwe voorblaaie en illustrasies herdruk: Borrels en My ouma is ’n rock-ster het reeds nuwe omslae en illustrasies, en nuwe uitgawes van Pasop vir die feetjies, Bertie Blikbrein en Wurms met tamatiesous is ook op pad.

Dit voel of ’n boek sommer nuwe lewe kry as hy ’n nuwe jas aantrek. Ek sien selfs die Harry Potter-boeke het nou ’n nuwe omslagontwerp – myns insiens weliswaar nie ’n verbetering op die oues nie. En die swart Twilight-boeke was onlangs in ’n beperkte uitgawe met wit voorblaaie te koop – nes daardie spesiale uitgawes van PSP’s, Xboxes en Blackberrys wat ’n mens deesdae kan aanskaf.

            ’n Goeie boekomslag is meer as net ’n mooi prentjie met die boek se titel en die skrywer se naam daarop geplak. As jy regtig in boekomslagontwerp belang stel, besoek hierdie great webtuiste: http://bookcoverarchive.com/

Friday, May 6, 2011

Musiek vir jou muse



Die Twilight-skrywer Stephenie Meyer se muse is ... Muse. Dié Engelse rockgroep word voorin byna al haar topverkoperboeke bedank vir hul “hulp” tydens die lang, eensame ure wat dit geverg het om haar vampierreeks te skryf.

            Ek is self mal daaroor om musiek te luister terwyl ek skryf – trouens, net vanoggend het ek donker-vroeg reeds met my oorfone op my ore gesit en kliphard na 30 Seconds to Mars se This is war geluister terwyl ek aan die nuwe Stalmaats-boek gewerk het.

En ek is self ’n Muse-aanhanger, hoewel ek nie kan getuig dat ek al ’n hele boek op die maat van hul musiek voltooi het nie. Ek verkies My Chemical Romance of Rammstein of 30 Seconds to Mars of Placebo wanneer ek skryf.

            Iemand het my op ’n dag gevra hoe ek metal of harde rock kan luister en terselfdertyd liefdesverhale en onskuldige perdestories skryf. Die antwoord is redelik eenvoudig – as ek musiek luister, word dit ’n soort “stilte” wat my help om te konsentreer op my skryfwerk. Dit is waarom ek nooit na ’n nuwe album luister terwyl ek werk nie – dit moet iets bekend wees. En die ironie is, hoe harder en rowwer die musiek, hoe beter werk dit vir my en hoe makliker konsentreer ek gewoonlik.

            Soms is daar wel iets aan die toonaard van ’n spesifieke liedjie (of ’n album) wat maak dat ek daarby vassteek terwyl ek skryf. Terwyl ek my zombieboek, Virus, geskryf het, het ek byvoorbeeld Velcra se liedjie Big Brother om een of ander rede oor en oor geluister. Ek is steeds nie seker hoekom nie, maar dit was asof daardie liedjie, spesifiek die bruggedeelte, perfek gepas het by wat ek besig was om te skryf.

            Skryf is ’n bietjie soos om ’n padwedloop te doen. Dis lank en uitputtend en jy kan maklik moedeloos raak. (Dalk is dit waarom ek nog nooit ’n marathon of ’n volwasse roman aangepak het nie.) Dit is waarom ek ook nie graag sonder my MP3-speler draf nie – ek zone out met die bekende liedjies in my ore en vergeet van die feit dat daar nog kilometers voorlê. Of baie bladsye ...