Monday, January 30, 2017
ONTTREKKINGSIMPTOME
Van
als wat ek al ooit in my lewe geskryf het, geniet ek kinderrympies waarskynlik
die meeste. Dis kort en kragtig, en dit verg tonne energie en kreatiwiteit.
Ek dink nie ek het al ooit so hard aan ’n projek
gewerk soos aan Moenie hierdie boek eet
nie! ’n Rympie vir elke dag van die jaar nie. Dit het bloedsweet gekos om
366 rympies te skryf (ja, daar is een vir 'n skrikkeljaar ook), maar dit was
ook hope pret. En noudat die boek op die rakke is (VOEG VROLIKE ADVERTENSIEKLINGEL HIER IN!), ly ek so ’n bietjie aan
onttrekkingsimptome.
Sedert die manuskrip weg is na my uitgewer toe, het
ek nog nie weer veel nuwe rympies geskryf nie. Maar ek het besluit om die
volgende paar dae sommer vir die pret so drie ongepubliseerde rympies hier op
my blog te plaas.
So, deel gerus die rympies met jou vriende of
kinders, share dit op Facebook,
gebruik dit vir eisteddfods (als met die nodige erkenning aan die rympiemaker/kopiereghouer,
asseblief!) – en laat weet gerus wat jy daarvan dink!
Thursday, November 10, 2016
DINOSOURUSSE KAN NIE LEES NIE - FOTOBEWYS
Emma (2) se klomp wilde, woeste speelgoed-dinosourusse verslind graag boeke. Ongelukkig beteken dit nie hulle kan lees nie.
Tuesday, November 1, 2016
MOENIE HIERDIE BOEK EET NIE!
Ek
is al van kleins af mal oor rympies. Tot vandag toe onthou ek nog die rympies
waarmee my oupas en oumas ons kleintyd vermaak het.
My onnutsige oupa aan my pa se kant, wie se name ek
dra, het graag vir ons rympies vol onhebbelike woorde geleer, wat ons dan in
lekker moeilikheid laat beland het as ons dit later ewe niksvermoedend vir Ma en Pa
voorgedra het.
My ouma aan my ma se kant is tot vandag toe ’n
skatkis van ou kleuterrympies, en sy het dit kleintyd altyd graag met ons
gedeel.
Dit
is dalk een van die redes waarom ek ’n paar jaar gelede begin kinderrympies
skryf het. Ek is versot op die ritme en rym en lawwigheid wat uit ’n lekker
kindervers borrel.
Oor die jare het ek ’n paar bundels die lig laat
sien: Wurms met tamatiesous,
Oempakadoempa, ’n Brulpadda in my tas, My boetie dink hy’s Batman,
Holderstebolder, Kougom in my hare en Op
die punt van my tong.
Dit is deesdae vir my ’n reuse-lekkerte om vir
my eie kinders rympies voor te lees - en te hoor hoe dit hulle inspireer om op hul beurt self te begin rympies opmaak! ’n Paar jaar gelede het ek gewonder: Sou
dit moontlik wees om ’n boek te skryf met ’n rympie vir elke dag van die jaar?
Dit
sal ’n enorme uitdaging wees, dit het ek uit die staanspoor besef. Nie net
omdat dit sou beteken ek moet met 365 splinternuwe rympies (en een vir ’n
skrikkeljaar) vorendag kom nie, maar ook omdat so ’n boek nogal dik sou wees –
en duur om te publiseer.
Ek het ’n jaar of wat met die idee rondgeloop voordat
ek dit gewaag het om die voorstel aan my uitgewer te opper. Tot my verbasing
was sy dadelik opgewonde oor die idee.
En
so het die groot werk begin.
Hoe
op dees aarde skryf ’n mens 366 kinderrympies?
Een
geluk was dat ek met hierdie uitdaging weggetrek het op ’n tydstip toe ek weer
ernstig begin draf het. So, ek het dit elke oggend deel van my drafroetine
gemaak: Gaan draf tien of vyftien kilometer en probeer met ten minste drie of
vier idees vir nuwe rympies by die huis aankom.
Die
paar maande waarin ek aan daardie rympies gewerk het, was van die lekkerste en
kreatiefste skryftye wat ek ooit beleef het. (En as bonus het ek heelwat fikser
geword!) Op my drafroete rondom Naval Hill hier in Bloemfontein het ek
oorgenoeg tyd gehad om met lawwe idees rond te speel ...
- Wat gebeur met woorde wat niemand meer ken nie (hoort hulle nog in die woordeboek of is daar iewers ’n aftreeoord vir woorde)?
- Hoekom is daar so min rympies oor erdvarke?
- Wat sal gebeur as daar ’n haai in die skool se swembad beland – of as een van jou klasmaats op ’n dag op ’n grassnyer skool toe ry?
- Hoe vang mens ’n haas?
- Wat beteken die woord “boemtjakketjak”?
- Kan jy ’n rympie lees terwyl jy op jou kop staan?
- Wat sal gebeur as jou oupa ’n troetelkrokodil aanskaf?
- Hoekom dra bere nie klere nie?
- Wat kruip alles in jou oom se wilde, woeste baard (en in jou naeltjie!) weg?
- Wat sal gebeur as ’n sebra weier om die sebraoorgang te gebruik?
Daar
was limerieke, haikoes, tongknopers, ’n touspringrympie, vormgedigte. Rympies
oor Kersfees, Paasfees, die seisoene, skrikkeldag, Valentynsdag (en, les bes, erdvarke!).
Ek weet nie of ek al ooit tevore so lank of hard aan
’n projek gewerk het nie. Die eindresultaat was ’n manuskrip wat ’n hele dikke
lêer volgelê het.
My
uitgewer het een van my gunsteling-illustreerders, Zinelda McDonald, oorreed om
die illustrasies te doen – iets wat op sig self ’n enorme taak moes wees.
En die
eindresultaat het pas verskyn: ’n stewige, kraakvars hardebandboek van 312 bladsye met die
allermooiste omslag en illustrasies waarop ek eindeloos trots is.
Die titel is Moenie
hierdie boek eet nie! ’n Rympie vir elke dag van die jaar.
En ek beplan om
volgende jaar dag vir dag weer saam met my kinders die pret te herleef wat ek
met die skryf van hierdie rympieboek gehad het.
Thursday, September 15, 2016
VYF VRAE AAN CHRIS VENTER
1. Hoe het jy in die wêreld van kinderboekillustrasies beland? Is dit iets waarin jy al van kleins af belang gestel het?
Ek het destyds grafiese
ontwerp by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie studeer. Tydens
hierdie era in my lewe het ek vinnig agtergekom dat ek eerder gemaak is vir die
wêreld van illustrasie as dié van grafiese ontwerp. In my tweede jaar het
bekroonde illustreerder Piet Grobler die rol van illustrasielektor ingeneem. Ek
het baie vinnig besef wie hy is en hoe belangrik sy invloed as ’n mentor sou
wees en deur hom het ek meer en meer begin leer oor die
kinderboekillustrasie-industrie.
My goeie
vriend en mede-illustreerder Dale Blankenaar het saam met my geswot . Ons is
albei grootliks beïnvloed deur Piet in hierdie tye voordat ons enige iets
geweet het van die industrie. Hoe meer ons geleer het, hoe meer het ons albei
besef dat dit vir ons bedoel is. Ná die studies het ek van my portfoliowerke
begin uitstuur na opvoedkundige uitgewers sowel as uitgewers soos LAPA en NB
Uitgewers. Almal besluit toe om my ’n kans te gee en ’n paar projekte later het
ek ’n naam in die industrie begin ontwikkel. Ek sal vir ewig baie dankbaar wees
teenoor al die mense wat my ’n kans gegee het.
2. Vertel kortliks hoe jou kreatiewe proses verloop vandat jy ’n teks ontvang totdat die illustrasies voltooi is.
Dis gewoonlik anders met
elke projek omdat elke uitgewer hulle teks op ’n ander manier aan my deurgee.
Sommige uitgewers, soos opvoedkundige uitgewers, is baie meer spesifiek met wat
hulle wil hê. Ander gee my baie meer vryheid om kreatief te wees. Ek verkies
natuurlik die laaste opsie as ek moes kies.
Gewoonlik
wanneer ek ’n teks kry, sal ek dit deurlees en begin dink aan ’n styl en medium
wat die teks die beste sal pas. Ek sal ’n bietjie nadink daaroor. Ek is nogal
lief daarvoor om by koffiewinkels te gaan sit en idees uit te teken. Dit help
baie om uit die werkspasie te kom as ek nodig het om te dink oor dinge. My
werkspasie is vir my ’n plek van aksie.
So, sodra ek ’n
plan van aksie het, tree ek in my studio in en sit dit om in aksie. Soms sal ek
direk op die rekenaar werk met my Wacom-tablet (digitale tekenbord). Ander kere
hou ek van tradisionele mediums ingescan en gemeng met digitale kuns.
Elke teks is
anders en die navorsing wat ek doen, verskil dikwels afhangende van die tipe
teks. Ná die navorsings fase begin ek deur eers baie rowwe lyne te teken om
uitleg aan te dui. Dan speel ek bietjie rond met kleure en tegnieke. Ek hou
daarvan om eers die hoofkarakters te ontwikkel en dan die res van die wêreld
rondom hulle op te bou. Ek werk dan aan alles totdat ek ’n finale produk het en
wanneer dit klaar is, stuur ek klein jpeg samples aan die redakteur per e-pos
en wag dan om te hoor of enige korreksies nodig is.
Sodra als
goedgekeur is, stuur ek die groter prente deur Wetransfer of Dropbox aan die
redakteur.
3. Jy het pas ’n fantastiese nuwe leesreeks van Wendy Maartens geïllustreer, met hervertellings van die klassieke Jakkals-en-Wolf-stories. Was dit ’n lekker projek?
Dit was een van die
lekkerste projekte wat ek nog ooit gedoen het. Ek het as kind begin as ’n
realistiese kunstenaar, maar deur Piet Grobler se invloed het ek al hoe meer
begin wegbreek van daardie soort werkswyse omdat ek my eie unieke manier van
merkmaak wou ontdek. Vandat ek sewe jaar terug begin illustreer het, was elke
projek vir my eintlik oefening of eksperimentering met style, tegnieke en
medium.
Met Jakkals en
Wolf voel dit of ek uiteindelik ’n vorm van totale gemak met my eie persoonlike
merkmaak gevind het. Dis iets wat ek graag vorentoe wil neem in nuwe projekte
as ek kan. Nie elke projek is reg vir hierdie tipe merkmaaktegniek nie. Ek wag
eintlik vir die regte projekte om as platforms te dien vir hierdie tegniek van
my.
Die stories was
lekker laf en ek wou graag ’n nuwe kleurvolle en moderne stempel daarop plaas.
Een van my gunstelingdinge was om vir Jakkals ’n bewegende “jellie”-lyf te gee
met rubberarms. Sy arms en bene in my prente werk nie anatomies korrek nie. Ek
wou hom graag buigsaam en geanimeerd maak op ’n komieklike manier. Ek het gevind
dat dit baie goed werk met sy agterbakse persoonlikheid. Hy kan homself in
enige situasie in- en uitwurm met sy woorde, so sy liggaam raak soos ’n visuele
uitbeelding van sy karakter. Ek dink sy bewegende arms en stoute uitdrukkings
herinner my ’n bietjie aan ’n skelm slang.
Die papperige
Jakkals kontrasteer weer met die sterk Wolf wat ’n bietjie meer stewig lyk.
Jakkals is beslis my gunsteling van die twee, maar al my simpatie lê by die
arme Wolf wat die heeltyd vir Jakkals se streke val. Die stories het my baie
laat lag en dit was heerlik om daaraan te werk. Ek het my bes probeer om my eie
genot oor te dra aan die kinders deur my illustrasies.
Ek is baie
dankbaar aan Wendy Maartens, dat sy haar teks so lekker geskryf het. Ek is ook
baie dankbaar dat Miemie du Plessis, kinderboekuitgewer van LAPA UItgewers, die
teks aan my gestuur het en my vertrou het daarmee. Daar is ses boekies in die
reeks en ek het vir elkeen ’n ander soort gevoel probeer gee. Daar is
byvoorbeeld een storie waar Jakkals en Wolf die heeltyd langs ’n rivier is,
terwyl die volgende boeke op ’n berg of op ’n plaas of in die nag of in ’n woudarea
afspeel. So dit het my baie gehelp om vir elkeen sy eie gevoel te gee. Ek glo
ook die kinders gaan al ses van hierdie stories baie geniet omdat hulle so
anders is.
4. Wat is die grootste uitdagings vir ’n kinderboekillustreerder wat in ons mark wil werk?
Daar is baie uitdagings.
Daar is ’n soort innerlike trots wat gehandhaaf moet word om daardie vlammetjie
van passie aan die brand te hou. Elke illustreerder het daardie vlammetjie in
hulle. Soveel dinge in die wêreld voel of dit die vlammetjie wil doodblaas. Ons
moet byvoorbeeld dikwels luister na ander mense se idees eerder as wat ons ons
eie mag gebruik op ons eie maniere. Sulke dinge laat ons soms uitbrand omdat
ons eintlik wesens is van innerlike uitdrukking, nes die skrywers met wie ons
werk.
Baie mense wil
ons met kleingeld of met blootstelling vir maande se werk betaal. Blootstelling
is baie gaaf, maar ek kan uit ondervinding sê dat dit nie kos op die tafel sit
nie. Vir my om illustrasiewerk te doen is dieselfde as vir enige ander mens wat
’n beroep het en wat betaal word vir ’n diens.
Ons is visuele
skrywers wat nie altyd erkenning kry nie. Die media in ons land wil ons nie
altyd raaksien nie. In ons eie land kry ons nie genoeg die kans om genoem te
word in tydskrifte, op televisie of in koerante nie. Baie van ons voel maar
gefrustreerd en op ons eie, en ek weet van talle ongelooflik talentvolle
illustreerders wat eerder oorsee wil ontvlug om groener weivelde te soek. Dis
eintlik baie hartseer.
Ons is dikwels
wesens wat deur emosie bestuur word. Ons leer hoe om daardie emosies te heg aan
die emosies van die skrywers deur ons prente te bou op die skrywers se woorde.
Aan die begin van enige jong illustreerder se werkslewe kan daardie emosies en
trots teen hulle tel, maar met genoeg oefening kan dit gebalanseer word en
onder beheer gesit word. Ek voel enigiets kan mooi uitwerk as dit die kans
gegee word om volwassenheid te bereik. So, hierdeur wil ek eintlik vir die
werkgewers vriendelik vra om die jong talent in ons land te help in hul
onervarendheid om daardie volwassenheid te bereik. Daar is nie veel leerskole
in ons land vir hierdie spesifieke bedryf nie. Almal moet dit leer op hul eie
reis.
Vir die jong
illustreerder wat nou eers begin, wil ek graag die volgende sê: Staan sterk,
sluk jou trots en leer eers hoe om met respek te praat en hoe om sperdatums te
haal. Bou ’n goeie reputasie en lewer gehaltewerk. Wees goedgesind teenoor die
mense wat vir jou werk gee. As jy kan hou by hierdie dinge, sal jy raakgesien
word. Werk ook in jou eie tyd aan jou eie produkte en projekte. Dit gaan
daardie vlammetjie wakker hou. Ek belowe dit.
5. Watter drie illustreerders se werk bewonder jy (en waarom)?
Dis amper onmoontlik om
net drie mense te kies, so ek sluit sommer ’n vierde kandidaat in net om myself
beter te laat voel oor hierdie vraag!
Jon Klassen is soms ’n
illustreerder en soms ’n skrywer daarby. Sy werk het 'n tipe eenvoud wat so
goed en slim speel met die teks dat die prente en die teks een onskeibare
produk word. Ek hou van hoe sy boeke my kan laat lag. Dit is nie net vir
kinders nie, maar vir volwassenes ook.
Shaun Tan:
Ek hou van Shaun Tan oor
sy absoluut ongelooflike verbeelding en gebruik van medium. Ek kan ure lank
wegraak in die wêrelde wat hy skep. Hy het die vermoë om met beelde te praat
sonder om enige woorde te gebruik, en daardeur kan hy enigiemand op ’n reis
deur ’n wonderland vat.
Quentin Blake:
Ek is baie lief vir Blake
se los, abstrakte lyne en sy meesterlike gebruik van waterverf. Dit is iets wat
my eie werkswyse baie help wegbreek het van realisme af.
Liz Climo:
Liz is een van my gunsteling-cartoon-illustreerders. Haar eenvoudige
styl en grappies is iets wat my so baie laat lag. Ek hou veral daarvan omdat
dit vir my ’n mengsel van kinderboek en strokiesprente is. Dit leen so bietjie
uit albei genres uit en raak ’n produk op sy eie. Ek wou nog altyd my eie strokiesprente
maak soos dit. Ek hou daarvan om mense te laat lag met prentjies. Liz se oulike
en onskuldige humor is my gunsteling-tipe humor. Dit het nie nodig om op
enigiemand se tone te trap nie. Tuesday, September 6, 2016
VYF VRAE AAN JAN VERMEULEN
1. Jy was lank stil nadat jou veelbekroonde jeugroman Geraamtes dra nie klere nie in 2000 verskyn het – en toe kom jy laas jaar asof uit die bloute en wen LAPA se jeugromankompetisie met Asem. Waarom die lang skryfstilte?
In die tyd het ek nie ophou skryf nie. Ek het gereeld
probeerslae vir jeugromanwedstryde en selfs vir die Groot Romanwedstryd
ingestuur. Maar telkens die “jammer ons het nie goeie nuus vir jou nie”-briefie
van die uitgewers gekry. In dieselfde tyd het ’n klomp omwentelinge in my lewe
bygedra tot ’n skrywersbyl wat stomp geraak het. Maar die liefde het weer
alles nuut geslyp. Kom ons glo die volgende boek sal nie ook vyftien jaar vat
om op die rakke te staan nie.
2. Asem takel moeilike kwessies soos mishandeling en dwelmmisbruik kaalvuis. Was dit vir jou moeilik om hieroor te skryf?
In Asem skryf ek nie oor persoonlike
aan-die-eie-lyf-ervaringe nie. In daardie sin was dit nie moeilik om daaroor te
skryf nie. Ek het nooit soos my ouer broers met ’n beddegoed-belt pak gekry
nie. Ek het dit net dikwels aanskou. My pa was my genadig, want ek was die baba
in die huis en seker te klein vir die belt. Buitendien was die oorkoepelende
atmosfeer in ons huis sorgsaam en liefdevol, selfs toe my kwaai pa nog geleef
het. Maar nie alle “babas” in ons families en samelewing is so gelukkig nie. En
om daaroor te skryf is nie altyd maklik nie.3. Het jy die boek spesifiek vir die jeugromanwedstryd geskryf, of het jy reeds aan die idee gewerk toe jy van die kompetisie te hore kom?
Asem was basies klaar geskryf (met ’n ander naam). Maar toe
my dogter my van LAPA se wedstryd vertel, begin die groot geskaaf. Nuwe
navorsing. Karakters wat meer groei. Nuwe kinkels. Nuwe intriges. Nuwe motiewe.
Lanklaas het ek so hard in ’n kort tyd gewerk om ’n boek genoeg woema te gee om
dit vir ’n jeugromanwedstryd te kan inskryf.
4. Wat was vir jou die moeilikste deel van die skryfproses met Asem?
Soos met Asem, is die skryfproses self vir my altyd ’n groot
lekkerte, navorsing en herskryf ingesluit. Dit is die spanningsvolle wag vanaf
die oomblik wanneer ek die manuskrip oor die Poskantoor se toonbank stoot tot
die klaar-boek in my hand rus (indien wel) wat erg is.
5. Wat is die beste skryfraad wat jy ooit gekry het?
Gee nooit jou onvoltooide werk of ’n manuskrip wat afgekeur
is sommer vir enige een om te lees nie. Enige negatiewe kritiek of selfs
goedbedoelde opmerkings kan op daardie stadium verwar of vals hoop gee. Loop
maar die alleenpad van skryf en herskryf (soms met die raad van keurders en
kenners). Mens haal tog nie ’n ongebore baba uit die baarmoeder, wys hom vir
vriende en familie en sit hom weer terug dat hy verder kan groei nie. Ná die
suksesvolle geboorte kan almal die nuweling na hartelus geniet of uitmekaar
beoordeel. Dit het Johann Jordaan my veertig jaar gelede geleer toe ek vroeg in
die hoërskool sy korrespondensieskryfkursus, Kortpad na Knap Kortverhale,
gedoen het.
Subscribe to:
Posts (Atom)










