Waarom skryf ek nie in Engels nie? wil ’n meisie ’n tyd gelede tydens ’n vraag-en-antwoordsessie by ’n skool weet.
Want ek het in die Karoo grootgeword, verduidelik
ek. En my pa sê daar gebruik jy Engels net vir selfverdediging.
Dis egter nie die volle waarheid nie. Die taalreëls
wat ons destyds in Ma’am Augustyn (tannie Issie as jy haar op straat raakloop)
se Engelsklas geleer het, het nie nodig gehad om ’n tree terug te staan vir
enige iemand nie, het ek later op universiteit ontdek, toe ek saam met ’n hele
klomp moedertaalsprekers in die Engels I-klas beland het. Aan die einde van my
eerste jaar is ek as beste Engelsstudent in die klas aangewys, maar ek het die
vak gelos omdat een van die ou professore se gedurige geflirt met die meisies
(en sy laatkommery!) my eindeloos geïrriteer het.
’n Tyd gelede het ek egter besluit om my verroeste
kennis van die Rooitaal af te stof en ’n klompie grillerige kinderstories in
Engels te begin skryf. Heel gepas, eintlik, want my eerste behoorlike
kennismaking met die taal was in die dik Stephen King-boeke wat ek op laerskool
swoegtend deurgeworstel het.
Aan die begin was dit ontsaglik moeilik, maar
algaande het die ritmes en klanke van die taal weer in plek begin val, en kon
die stories hul loop neem.
Die resultaat is die bundel “Chattering Teeth and
other scary stories” wat nou op Amazon beskikbaar is: http://www.amazon.com/Chattering-Teeth-other-stories-ebook/dp/B00CK7F380/ref=sr_1_1?ie=UTF8&qid=1367212258&sr=8-1&keywords=%22chattering+teeth%22+jacobs
Hoe geslaagd my eksperiment gaan wees, sal die tyd moet leer. Ek wou dit om
twee redes doen: Eerstens om te kyk of die Rooitaal, in my hande, vir meer as
selfverdediging gebruik kan word. En tweedens om meer oor die e-boekmark te
leer, waarvan ek veels te min weet en waaroor ek heimlik nog nie naastenby
entoesiasties genoeg is nie.
Sedert die boek gisteraand aanlyn beskikbaar geword
het, is daar darem al een kopie verkoop. So, iewers in die wêreld het iemand ’n
paar dollar opgedok en is ’n kind tans besig om op sy/haar Kindle my grilstories te
lees, in my beste Karoo-Engels.
No comments:
Post a Comment