Suid-Afrikaanse kinders sukkel om te lees. Dit blyk duidelik
uit ontstellende koerantopskrifte en statistiek die afgelope paar jaar.
Die vermoë om te lees is een van
die heel belangrikste sleutels tot jou kind se prestasie op skool. Ongelukkig
is die realiteit dat baie skole deesdae beperkinge op tyd, personeel en
hulpbronne het – en die mediasentrum en leesperiodes is dikwels van die eerste
dinge wat in die slag bly. Ouers kan wondere verrig om die jongklomp lief te
maak vir lees, selfs lank voordat hulle die skoolbanke aandurf.
Probeer hierdie vyf wenke om jou
kind ’n boekevraat te maak.
1. Laat jou kind self
boeke kies
Nie alle volwassenes verkies dieselfde soort boeke nie – en
net so verskil kinders se leessmaak. Let op na watter soort boeke jou kleuter
geniet, en moenie kla as jy dieselfde storie oor en oor moet lees of ’n
aktiwiteitsboek honderde maal moet deurblaai nie. Jou kind is immers besig om
sy/haar leessmaak te ontwikkel. Gee kinders van kleins af die geleentheid om
self te kies watter boeke hulle as verjaardag- of Kersgeskenke wil ontvang deur
hulle byvoorbeeld saam te neem boekwinkel toe, ’n boekwinkel-geskenkbewys te
koop of hulle te vra om hul voorkeure in ’n bestelgids soos hierdie aan te dui.
2. Moenie ’n
boeksnob wees nie
Ouers kla soms as kinders in ’n sekere genre “vashaak”. As
jou kind op die oomblik grilstories, speurverhale of reeksboeke verslind, wees
dankbaar dat hy/sy lees en moet onder geen omstandighede neerhalend daarna
verwys nie. Baie kinders “ontgroei” ’n sekere genre en begin iets anders lees.
Ander bly hul lewe lank byvoorbeeld aanhangers van rillers. In albei gevalle
wen jy, want lees is die beste manier om jou kind se leesbegrip, konsentrasie
en taalvermoë te ontwikkel.
3. Word betrokke
Wys jy stel belang in die boeke wat jou kind lees. Lees self
die soort boeke waarvan jou kind of tiener hou – dit kan ’n lekker
gespreksonderwerp word en jy sal dalk verras wees om te sien hoeveel pret jy in
die proses het! Probeer uitvind van watter skrywers of illustreerders se werk
jou kind hou, en kry nog van hierdie gunstelinge se boeke in die hande.
4. Stel ’n voorbeeld
’n Kind wat grootword in ’n huis met ’n boekrak en waar Ma
of Pa dikwels lees (selfs al is dit koerante of tydskrifte), word van kleins af
vertroud met die idee dat boeke ’n aangename, ontspannende aktiwiteit kan wees.
5. Leer én speel
Ouers en onderwysers wys kinders dikwels daarop dat boeke
jou slim maak, jou kan help met jou skoolwerk en propvol kennis is. In die
proses kan jy egter onbedoeld ’n negatiewe konnotasie kweek. Kinders hou van
speel en pret hê, daarom is dit belangrik om hulle van ’n jong ouderdom te wys
dat boeke pret kan wees – anders gaan die Xbox, PlayStation en rekenaarspeletjies
wen. Boeke moenie net deel wees van die sleur van skool, huiswerk en take nie –
dit behoort ook lekker vermaak vir ledige ure te wees. Dit is waarom soveel
Afrikaanse kinderboeke deesdae fokus op humor, pret en avontuur. Kyk maar net
na die titels en temas van ’n paar van die boeke wat op winkelrakke en op
uitgewers se webtuistes beskikbaar is!
Lead by example. Dis een van die dinge wat ek altyd vir ouers sê. Goed geskryf, Jaco.
ReplyDeleteEn lees lees lees vir hulle van babatjietyd af, en hou so lank aan as wat jy kan.
ReplyDelete