VYF VRAE AAN THERESA VAN BAALEN
Sanri Steyn is ’n
twaalfjarige meisie wat daarvan droom om eendag ’n joernalis te wees. Maar sy
wil nie sommer enige joernalis wees nie. Sy wil die beste, beroemdste joernalis
óóit wees ... Superjoernalis Sanri Steyn.
2. Is daar enige ooreenkomste tussen jou en
Sanri?
Toe ek twaalf was, was ek
baie soos Sanri. Ek was nuuskierig, ek het altyd ’n slim antwoord gehad vir
alles (wat my gereeld in die moeilikheid laat beland het, want onderwysers en
ander grootmense hou nie daarvan as kinders terugpraat nie). Ek wou egter nooit
’n joernalis word nie, maar ’n skrywer, en nes Sanri het ek daarvan gedroom dat
my naam op almal se lippe sal wees ... Superskrywer Theresa van Baalen. Vandag
is ek steeds nuuskierig, maar ek het geleer om (partykeer) stil te bly en nie
altyd terug te praat nie.
3. Wat is van die lekkerste terugvoering wat
jy tot dusver oor die reeks gekry het?
Ná die eerste twee
Sanri-stories verskyn het, het Sanri ’n e-pos van ’n dogtertjie ontvang wat
gevra het Sanri moet nog van haar opwindende speurverhale vir LAPA stuur. Dit
was vir my heerlik om te kry, want dis juis wat ek met Sanri probeer bereik
het: om die “outydse” tipe speurverhaal (wat my gunsteling-leesstof was as
kind) op ’n vars manier te benader en dit só te skryf dat vandag se kinders
plesier daaruit sal put. Ek het ook vroeër vanjaar, tydens besoek aan ’n paar
skole, besef dat die seuns Sanri net soveel geniet soos die meisies. Ek het
lank gewonder of seuns aanklank sou vind by ’n vroulike hoofkarakter, en dalk
is dit die feit dat Sanri en Markus ’n span is, of dalk, in die lig van die
opwinding en aksie, maak die geslag van die karakters nie vir die lesers saak
nie, maar iets omtrent Sanri werk vir almal.
4. Wat is die uitdagings wanneer jy 'n hele
reeks boeke oor karakters soos Sanri en Markus skryf?
Dit vat nogal kophou om
te verseker Sanri en Markus se persoonlikhede skemer deur in elke boek en dat
ek nie hulle karaktereienskappe met mekaar verwar nie. Ek moet ook rekord hou
van klein details sodat ek myself nie in verdere stories verspreek nie,
byvoorbeeld straatname, die dinge waarvoor Markus allergies is (magrietjies
laat hom nies, maar laventel nie), hulle juffrou en sommige klasmaats se name,
die feit dat Raaiselfontein se Kerkstraat geen kerk het nie, ensovoorts. As
kind het ek dit verpes as ’n reeksskrywer nie sy feite (wat hy self geskep het)
kon regkry nie! Daarby is dit beslis ’n uitdaging om elke keer met ’n vars nuwe
idee vir ’n storie vorendag te kom en dit só te skryf dat dit inpas by die reeks.
Maar gelukkig is die moontlikhede eindeloos.
5. Wat is vir jou die lekkerste deel van die
skryfproses? En die slegste?
Vir my is die lekkerste
deel van die skryfproses om te sien hoe ’n storie ontvou. Ek is die heel eerste
leser van die stories wat ek skryf, en dit gebeur min dat ek werklik aan die
begin van ’n storie weet wat in die middel gaan gebeur. Ek weet gewoonlik waar
ek die storie wil begin en hoe ek dit wil eindig, maar die gedeelte tussen die
begin en die einde is dikwels vir my net so ’n groot verrassing soos vir die
lesers. Die slegste deel van die skryfproses is om die storie te laat gaan as
dit uiteindelik kant en klaar is, en die uitgewer is tevrede. Ek treur
gewoonlik ’n hele paar dae en sukkel om my gedagtes by ’n nuwe storie te bepaal,
en verrig allerhande fisiese take om my aandag af te lei. Dan, ná ek al die
magrietjiebosse gesnoei het, die huis van bo tot onder blinkskoon gemaak het en
die motor gestofsuig het, is ek gewoonlik gereed om ’n nuwe storie aan te pak.
Dis wanneer die lekkerte van voor af begin.
* Die twee nuutste Sanri Steyn-boeke, Die monsters van Middernagstraat en Die nag van die weerwolwe, is nou in boekwinkels beskikbaar - of bestel dit direk by LAPA Uitgewers: (012) 401 0700 of lapa@lapa.co.za
Dit lyk na baie oulike boeke. Ek sal dit beslis vir my dogter gee (as ek klaar is daarmee!) Dit is wonderlik dat die kinders soveel wonderlike jeugverhaalskrywers vandag het. Dankie ook aan Jaco Jacobs vir jou oulike boeke!
ReplyDeleteBaie dankie, Mariette! Die Sanri-boeke lees regtig heerlik - jou dogter gaan dit geniet!
ReplyDelete