Wednesday, August 31, 2016

VYF VRAE AAN THERESA VAN BAALEN

1. Kortliks, wie is Sanri Steyn, oor wie jy nou reeds ses boeke geskryf het?
Sanri Steyn is ’n twaalfjarige meisie wat daarvan droom om eendag ’n joernalis te wees. Maar sy wil nie sommer enige joernalis wees nie. Sy wil die beste, beroemdste joernalis óóit wees ... Superjoernalis Sanri Steyn.

2. Is daar enige ooreenkomste tussen jou en Sanri?
Toe ek twaalf was, was ek baie soos Sanri. Ek was nuuskierig, ek het altyd ’n slim antwoord gehad vir alles (wat my gereeld in die moeilikheid laat beland het, want onderwysers en ander grootmense hou nie daarvan as kinders terugpraat nie). Ek wou egter nooit ’n joernalis word nie, maar ’n skrywer, en nes Sanri het ek daarvan gedroom dat my naam op almal se lippe sal wees ... Superskrywer Theresa van Baalen. Vandag is ek steeds nuuskierig, maar ek het geleer om (partykeer) stil te bly en nie altyd terug te praat nie.

3. Wat is van die lekkerste terugvoering wat jy tot dusver oor die reeks gekry het?
Ná die eerste twee Sanri-stories verskyn het, het Sanri ’n e-pos van ’n dogtertjie ontvang wat gevra het Sanri moet nog van haar opwindende speurverhale vir LAPA stuur. Dit was vir my heerlik om te kry, want dis juis wat ek met Sanri probeer bereik het: om die “outydse” tipe speurverhaal (wat my gunsteling-leesstof was as kind) op ’n vars manier te benader en dit só te skryf dat vandag se kinders plesier daaruit sal put. Ek het ook vroeër vanjaar, tydens besoek aan ’n paar skole, besef dat die seuns Sanri net soveel geniet soos die meisies. Ek het lank gewonder of seuns aanklank sou vind by ’n vroulike hoofkarakter, en dalk is dit die feit dat Sanri en Markus ’n span is, of dalk, in die lig van die opwinding en aksie, maak die geslag van die karakters nie vir die lesers saak nie, maar iets omtrent Sanri werk vir almal.

4. Wat is die uitdagings wanneer jy 'n hele reeks boeke oor karakters soos Sanri en Markus skryf?
Dit vat nogal kophou om te verseker Sanri en Markus se persoonlikhede skemer deur in elke boek en dat ek nie hulle karaktereienskappe met mekaar verwar nie. Ek moet ook rekord hou van klein details sodat ek myself nie in verdere stories verspreek nie, byvoorbeeld straatname, die dinge waarvoor Markus allergies is (magrietjies laat hom nies, maar laventel nie), hulle juffrou en sommige klasmaats se name, die feit dat Raaiselfontein se Kerkstraat geen kerk het nie, ensovoorts. As kind het ek dit verpes as ’n reeksskrywer nie sy feite (wat hy self geskep het) kon regkry nie! Daarby is dit beslis ’n uitdaging om elke keer met ’n vars nuwe idee vir ’n storie vorendag te kom en dit só te skryf dat dit inpas by die reeks. Maar gelukkig is die moontlikhede eindeloos.

5. Wat is vir jou die lekkerste deel van die skryfproses? En die slegste?

Vir my is die lekkerste deel van die skryfproses om te sien hoe ’n storie ontvou. Ek is die heel eerste leser van die stories wat ek skryf, en dit gebeur min dat ek werklik aan die begin van ’n storie weet wat in die middel gaan gebeur. Ek weet gewoonlik waar ek die storie wil begin en hoe ek dit wil eindig, maar die gedeelte tussen die begin en die einde is dikwels vir my net so ’n groot verrassing soos vir die lesers. Die slegste deel van die skryfproses is om die storie te laat gaan as dit uiteindelik kant en klaar is, en die uitgewer is tevrede. Ek treur gewoonlik ’n hele paar dae en sukkel om my gedagtes by ’n nuwe storie te bepaal, en verrig allerhande fisiese take om my aandag af te lei. Dan, ná ek al die magrietjiebosse gesnoei het, die huis van bo tot onder blinkskoon gemaak het en die motor gestofsuig het, is ek gewoonlik gereed om ’n nuwe storie aan te pak. Dis wanneer die lekkerte van voor af begin.



* Die twee nuutste Sanri Steyn-boeke, Die monsters van Middernagstraat en Die nag van die weerwolwe, is nou in boekwinkels beskikbaar - of bestel dit direk by LAPA Uitgewers: (012) 401 0700 of lapa@lapa.co.za

Thursday, August 25, 2016

VYF VRAE AAN MARITA VAN DER VYVER

Fotograaf: Francois Pistorius
 1. Jy het al soveel boeke die lig laat sien, jou boeke word gereeld vertaal en oorsee uitgegee. Maak die verskyning van 'n nuwe boek jou steeds opgewonde?
Daar is nie soveel boeke vertaal en oorsee uitgegee soos ek graag sou wou hê nie, hoor. In elk geval nie genoeg om my hier oorsee aan die lewe te hou nie. Maar elke keer as ek dit in die openbaar sê, dink mense ek is maar net vals beskeie, so ek het opgehou om dit te sê. Ja, die oomblik wanneer ek ’n nuwe boek die eerste keer in my hande hou en die bladsye ruik en die papier onder my vingers voel, is die één oomblik wanneer al die sukkel en swaarskry van skryf steeds vir my die moeite werd voel.

2. Kan jy onthou wat die eerste vonk was wat tot die skryf van Al wat ek weet gelei het?
’n Insident in my motor toe ’n onbeskofte Franse fietsryer my heeltemal onnodig uitgeskel het, en my liewe, saggeaarde man my nie “verdedig” het nie. Toe begin ek wonder oor stilbly en wegkyk, en wanneer mens moet praat en wanneer mens moet stilbly, en wat sou gebeur het as ek so ontsteld was dat ek ’n ongeluk gemaak het ... Daardie insident het gelei tot die ongelukstoneel in Al wat ek weet, waarin Gabriel se ma dood is. Vreemd hoe verbeelding werk, nè.

3. Gabriel is regtig ’n onvergeetlike karakter. As jy saam met drie karakters uit enige van jou boeke middagete kon gaan eet, wie sou dit wees? 
Gabriel, beslis, omdat ek hom beter wil leer ken. En Hanna Hoekom se babasussie, Ariel, wat teen dié tyd 'n tiener met rooi hare sal wees (Swemlesse vir 'n meermin) omdat ek dink sy en Gabriel sal van mekaar hou. En dan moet ek seker ook ’n “grootmens” nooi om vir my geselskap te hou as die tieners verveeld raak met my. Ek dink ek sal vir Mart Vermaak uit Die dinge van 'n kind kies – omdat sy, soos ek, nooit vergeet het hoe dit voel om ’n tiener te wees nie.  

4. Hoe het jy dit reggekry om jou so oortuigend in die wêreld van performance poetry in te grawe? Was dit 'n uitdaging om die gedigte/lirieke te skryf? 
Ek het baie navorsing op internet gedoen en met performance poets gepraat en letterlik ure lank YouTube-videos gekyk – wat heeltemal te lekker was om soos “navorsing” te voel – maar ek het ook deur die jare drie tienerseuns in die huis gehad. Veral die jongste, Hugo, het onophoudelik rap en hiphop geluister, wat my moontlik meer verdraagsaam teenoor hierdie soort geraas gemaak het as baie ander “grootmense”. Die rympies het gevoel soos ’n terugkeer na my tienerjare toe ek ’n universiteitsbeurs met my gedigte gewen het. In D.J. Opperman se poësie-laboratorium op Stellenbosch het ek soveel ontsag vir digters ontwikkel dat ek heeltemal ophou dig het. Dis omtrent die enigste genre wat ek nog nie aangedurf het in my gepubliseerde werk nie. Daarom was dit vir my héérlik om op so ’n beskeie manier weer met woorde en rym te speel in hierdie boek. 

5. Watter deel van die skryfproses geniet jy die meeste? En wat is vir jou die slegste deel daarvan?  

Die begin, wanneer ek die karakters en die storielyn uitdink en die moontlikhede nog eindeloos is, is vir my altyd opwindend. Daarna voel dit met elke paragraaf wat ek skryf asof ek hekke agter my toemaak; die paadjie word al hoe nouer en steiler, omdraai word al hoe moeiliker. Die aakligste deel is as al die hekke toe is, die paadjie is gekies, die storie is geskryf en nou moet dit geredigeer word. Dit voel altyd vir my soos om my antwoorde in ’n skooleksamen weer ’n keer deur te lees terwyl ek eintlik buite wil gaan speel.

Thursday, August 18, 2016

VYF VRAE AAN FANIE VILJOEN



1. Kaptein Verdwyn is die nuutste in ’n hele rits boeke wat reeds uit jou pen verskyn het. Maak die verskyning van ’n nuwe boek jou steeds opgewonde?
Ja, dis altyd lekker om ’n nuwe boekbaba in die hande te hou. Wat lesers nie weet nie, is dat alles wat ’n mens skryf nie altyd boeke word nie, daarom is elke boek ’n groot genade.

2. Kan jy onthou wat die vonk/inspirasie was waaruit die storie ontstaan het?
Om onsigbaar te wees het my nog altyd gefassineer. Ek het selfs iewers nog ’n koerantuitknipsel wat verduidelik hoe die weermag daarmee eksperimenteer. Ek het die idee gebruik en dit saamgevoeg met selfoon-apps wat kinders vandag ken. 

3. Noem drie dinge wat jy sou doen as jy ’n dag lank onsigbaar kon word.
Ek sal in mense se huise gaan “spook” speel, inglip by die fliek en skoolboelies se ore frommel.

4. Hoe verloop jou dag? Het jy ’n vaste skryfroetine?
Ek lees soggens die koerant aanlyn, drink koffie en begin dan skryf. Facebook bied afleiding. Namiddag sal ek dalk aan ander skryfwerk aandag gee, soos die skryf van artikels vir die Hoezit!-webblad, e-pos antwoord of admin doen. Ek probeer ook om meer gereeld te skilder. Teen laatmiddag gaan ek gym toe. Ek is teen tienuur al in die bed met ’n boek.

5. Wat is die heel beste skryfraad wat jy ooit gekry het?
Gaan sit net op jou boude en begin skryf.

Besoek gerus Fanie se webtuiste: www.fanieviljoen.co.za

Tuesday, February 9, 2016

5 redes waarom kinders versot is op reeksboeke


Byna twee jaar gelede het ek e-pos gekry van ’n ma wat vertel het hoe haar tienjarige seun, wat altyd ’n trae leser was, begin het om die Professor Fungus-boeke te verslind. Twee weke gelede kry ek weer e-pos van dieselfde ma, wat vertel haar seun is intussen met ’n vorm van disleksie gediagnoseer, maar hy is steeds ’n groot Professor Fungus-aanhanger en het onlangs spesiale vermelding in die klas gekry omdat hy so goed lees.
            In die verlede is daar dikwels neergesien op reeksboeke. Dit is beskou as nie “literêr” genoeg nie en daar is selfs beweer dit maak van kinders lui lesers. Deesdae besef baie ouers, onderwysers en bibliotekaresses gelukkig dat ’n lekker boekereeks dikwels die perfekte manier is om ’n huiwerige leser se leeslus te prikkel.
            Maar waarom hou kinders so baie daarvan om ’n reeks boeke te lees waarin dieselfde karakters verskyn?

1. Die karakters voel soos ou vriende. Eintlik is dit geen verrassing nie. Waarom kyk jy graag na jou gunsteling-TV-reeks? Heel moontlik omdat jy daarvan hou om te sien wat die karakters, met wie jy nou al goed vertroud is, in elke episode aanvang. Wanneer ’n leser byvoorbeeld ’n nuwe Zackie Mostert-boek optel, weet hy reeds wie hy tussen die blaaie gaan teëkom – die ondeunde Zackie en sy beste pel, Vincent, die klaerige mevrou Langenhoven van langsaan met haar nare kat, en Anton die skoolboelie wat sy bes probeer om Zackie se lewe te versuur.

2. Jy kan voorspel of jy van die storie gaan hou. Om ’n boek te kies waarvan jy hou, is nie altyd so maklik nie. Is jy al ooit deur ’n mooi voorblad of ’n oulike titel verlei om ’n boek te koop of uit te neem wat later blyk glad nie in jou smaak te val nie? Jong lesers het dieselfde probleem. Reeksboeke maak die keuse vir hulle makliker. As jy ’n Stalmaats-boek of ’n Nova-boek (Fanie Viljoen) of ’n Thomas@-boek (Carina Diedericks) gelees en daarvan gehou het, hoef jy waarskynlik nie te wonder of die res van die reeks in jou smaak gaan val nie.

3. Herhaling is pret. Onthou jy Saartjie se weerbarstige krul? Of Galpil van Trompie-faam wat almal “Ou Perd” genoem het? Of Liewe Heksie se groottoon wat so in die grond geboor het as sy verleë was? Deel van die lekkerte van ’n reeks boeke is om bekende sêgoed of frases of gewoontetjies telkens raak te loop. By Einstein se snor! (Soos professor Fungus sal sê.)

4. Reeksboeke het versamelwaarde. Ek was van kleins af ’n ywerige versamelaar – ek het in verskillende stadiums enige iets van seëls tot Pokémon-skyfies versamel. My reeksboeke het ’n ereplek op my boekrak. Al die Twilights en Harry Potters en Thomas@-boeke op my rak staan mooi langs mekaar, in volgorde – soos dit enige goeie versamelaarsitem betaam. As ek ’n reeks begin aankoop, háát ek dit as die omslagontwerp mettertyd verander of as ek ’n uitgawe kry wat anders lyk as die res – want tipies versamelaar wil ek hê al my boeke moet bymekaar pas.

5. Dit laat jou naels kou. Die navraag wat ek die meeste via my webtuiste en Facebook kry, is: Wanneer verskyn die volgende Stalmaats-boeke? Daar het nou reeds sestien boeke in die reeks verskyn. Elke boek kan afsonderlik gelees word, maar die stories volg ook logies op mekaar, met storielyne waarop algaande voortgebou word. Die aankondiging van die nuwe boeke se titels en die bekendmaking van die omslae op Stalmaats se Facebook-groep word deesdae met groot entoesiasme afgewag. Ek kry selfs boodskappe waarin lesers my probeer oorreed om solank te verklap wat volgende gaan gebeur! (Hou nog net ’n bietjie uit – nommer 17 en 18 verskyn later vanjaar!)


So, daar het jy dit – vyf goeie redes om jou kind aan reeksboeke bekend te stel. En moenie kla as jy binnekort boekwinkel toe moet ry om die res van die reeks aan te skaf nie ...

Thursday, August 6, 2015

Waarom ek nie vir jou ’n rympie kan (of gaan) e-pos nie


Dis eisteddfod-seisoen.
Ek weet elke jaar wanneer dit kunswedstryd-tyd is, want skielik begin die e-posse instroom.
’n Paar desperate ma’s, pa’s, onderwysers of drama-onnies wil dikwels weet of ek nie asseblief voorstelle vir gepaste prosastukke of gedigte het nie. Ek weet hoe ’n tameletjie dit is om geskikte materiaal in die hande te kry – iets wat hopelik die beoordelaars gaan beïndruk, maar wat darem ook vir ’n kind pret gaan wees om voor te dra – daarom probeer ek altyd my bes om ’n paar voorstelle te maak, hoewel ek nie regtig ’n kenner is en weet presies wat van die deelnemers vereis word nie.
Skynbaar word van my rympies gereeld by eidsteddfods voorgedra, want daar is ook altyd ’n paar ma’s of pa’s wat vra of ek nie asseblief bereid is om spesiaal vir hul spruite ’n rympie te skryf wat nog nie elders verskyn het nie. Hoewel ek besef so ’n uitnodiging is ’n groot kompliment en dit regtig waardeer, wys ek hierdie soort versoeke egter ook altyd van die hand. My program is deesdae so vol dat ek ongelukkig nie tyd het om tussendeur die sperdatums sulke rympies-op-versoek te skryf nie.
Die derde soort e-pos wat ek kry, is van ouers wat wil weet of ek asseblief gou “daardie rympie oor die monstermeisie” of “die ene oor die boetie wat ’n alien is” vir hulle per e-pos sal aanstuur. Die bladsy wat die juffrou vir Boetie of Sussie afgerol het, het die afgelope vakansie voete gekry, die hond het dit opgeëet of dit het per abuis onder ’n weghol-stootskraper beland.
Nou hier begin ek lelik op my tande kners.
Verstaan my mooi, dis vir my ’n wonderlike gedagte om te dink kinders dra my skryfwerk by eisteddfods voor, doen hope moeite daarmee, en geniet dit hopelik. Maar as jy vir my ’n e-pos stuur om te vra ek moet vir jou ’n rympie uit een van my boeke aanstuur, is dit, bewustelik of onbewustelik, ’n hengse klap in my gesig, en in my uitgewer s’n.
Kom ek verduidelik waarom.
As ’n kind (of sy/haar drama-afrigter) een van my rympies kies om voor te dra, beteken dit hopelik die rympie verskaf hom/haar plesier en dat dit ’n prettige ervaring is. Dis vir my net soveel pret om dit te skryf.
Daardie paar versreëls kom egter ’n lang pad.
Om rympies te skryf verg tyd. Baie tyd. Teen die tyd dat ’n bundel rympies hopelik publiseerbaar is, beteken dit ek het dae, weke, maande daaraan bestee om met al die idees vorendag te kom, en elke woord sorgvuldig te kies; dit beteken ek het elke versreël oor en oor hardop gelees om seker te maak dit gaan maklik op die tong en op die oor val wanneer jou kind dit moet voordra. Ek het verskriklik, verskriklik baie respek vir kinders, en wanneer ek vir hulle skryf, probeer ek dit so goed doen as wat ek kan.
En dis maar net die eerste stap in die proses.
Daarna gaan die manuskrip na my uitgewer.
Om ’n dokument met rympies in ’n mooi boek soos Wurms met tamatiesous, My boetie dink hy’s Batman of Op die punt van my tong te omskep, verg baie geld en tyd van ’n uitgewery.
Kortliks: ’n Keurder moet aangestel word om die rympies te lees, te besluit of dit die moeite werd is om te publiseer, en om voorstelle oor die nodige skaafwerk te maak. ’n Illustreerder moet betaal word om die rympies te illustreer. Dit kos duisende rand en nóg baie, baie ure se werk. Wanneer die illustrasies afgehandel is, doen ’n uitlegkunstenaar die bladuitleg en omslagontwerp. Daarna takel ’n redigeerder die teks, om te sorg dat taalgoggas en tikfoute uitgeskakel word. Wanneer die bladproewe behoorlik nagegaan is, kan die boek drukker toe gaan. ’n Drukoplaag kos die uitgewery nog ’n hele paar duisend rand. Daarna moet bemarking en verspreiding gedoen word. Nog duisende rande. En dan eers kan die boek verkoop word.
Skrywers hou nie juis daarvan om oor geldsake te praat nie, maar kom ons doen gou so rofweg die somme: As jy R76 vir my rympiebundel Kougom in my hare op Takealot.com betaal, beteken dit die uitgewery het reeds tussen 30% en 40% afslag op die verkoopprys toegestaan. Op die geld wat die uitgewery ontvang, verdien die skrywer sowat 12% outeursgeld. Wiskunde was nog nooit my sterk punt nie, maar dit beteken ek ontvang so tussen R5 en R6 vir daardie boek wat jy gekoop het. Die spesifieke boek bevat 49 rympies, wat beteken ek verdien ongeveer 10c tot 12c per rympie wanneer jy my boek koop.
En dan vra mense steeds waarom daar so min Afrikaanse kinderrympieboeke gepubliseer word.
Ek gaan jou die jeremiade spaar van ek-het-ook-’n-gesin-wat-versorg-moet-word-en-rekeninge-wat-betaal-moet-word. Maar daardie R76 wat die boek jou uit die sak gaan jaag, is die enigste manier hoe ek kan aanhou om rympies te skryf. Dit is ook die enigste manier hoe my uitgewer kan aanhou om rympieboeke te publiseer. 
Nou vra ek jou mooi: As jou kind ’n rympie kies om by die eisteddfod voor te dra, oorweeg dit GROOT asseblief om eerder die boek te koop as om dit bloot te laat afrol. En begryp asseblief waarom ek regtig, regtig nie vir jou ’n kopie van die rympie per e-pos kan aanstuur nie. Dit beteken ek oortree self die kopieregwaarskuwing voorin my eie boek. As jy dringend die rympie nodig het, koop die boek in e-formaat – jy kan dit binne sekondes aflaai nadat jy daarvoor betaal het.
En wanneer jy trots glimlag oor daardie A++-simbool of goue sertifikaat, hou ’n oomblik van stilte en dink aan die versiemaker wat tussen 10c en 12c met daardie rympie verdien het. Dis nou te sê as die juffrou dit nie sommer afgerol het nie ...


Jaco Jacobs se nuutste rympieboek is 'n bundel tongknopers, "Op die punt van my tong". Hier is 'n voorsmakie.






Tuesday, February 17, 2015

My 5 vrotste storie-idees ooit


"The Kiss of the Muse" - Paul Cézanne
Soms kry jy ’n storie-idee wat jou hoendervel-opgewonde maak. ’n Idee wat jou storie-antennes verbete laat vibreer. Wat jou dadelik ore in die nek die naaste stuk papier laat gryp sodat jy doodseker kan maak hierdie briljante storievonkie word nie iewers in die grys groewe van jou brein geblus nie.
            In my geval is ’n belowende idee dikwels iets baie laf en uitbundig.
            Byvoorbeeld: Sê nou daar’s hierdie outjie wie se ouma die beroemdste Afrikaanse rocker in die land is – maar hy is glad nie beïndruk daarmee nie?
            Of: Wat as die hangkas in jou nuwe slaapkamer in werklikheid die geheime ingang na ’n kasteel is waar ’n hele spul monsters bly – van ’n grillerige groen hand tot ’n knorrige weerwolf genaamd Flaffie en ’n Elvis-nabootsende vampier? Maar eintlik is al hierdie monsters heel vriendelik – en hulle het gereeld jou hulp nodig ...
            Of: Jy sit een middag in die tuin ná ’n besonder moeilike dag by die skool – en uit die bloute val daar ’n man in ’n superhero-pak uit die lug en land reg op julle hondehok. Hy val so hard op sy kop dat hy nie kan onthou wat sy naam is, waar hy vandaan kom of waarheen hy op pad was nie. Trouens, hy kan nie eens onthou hoe om te vlieg nie. Hoe leer jy ’n superhero om weer te vlieg?
            Of: Sê nou jou beste pel dare jou om ’n hele week lank nie jou tande te borsel nie?
            Dis ’n paar van my storie-idees wat oplaas in boekvorm beland het. Jy kan gaan lees wat die idees opgelewer het in My ouma is ’n rock-ster, die Kas vol Monsters-reeks, Superheroes vlieg net saans en Koebaai, gorilla. Oor elkeen van hierdie idees was ek mateloos opgewonde. Opgewonde genoeg om ure van my lewe daaraan te bestee om stories van hulle te maak.
            Maar die Muse het ’n aweregse humorsin. (My baie beskaafde manier om te sê soms is die Muse ’n spiteful helsem.) Partykeer fluister sy die grootste klomp suiwer, onverdunde snert in jou oor. En dikwels het jy nie dadelik die insig om te besef die idee wat jy tans so verwoed op ’n flentertjie papier neerpen, is in werklikheid ’n spul suiwer, onverdunde snert nie.
Hier is vyf van die simpelste storie-idees waarmee ek al gestoei het. Party het my ’n hele paar weke besig gehou – en soms selfs ver genoeg gevorder om my arme uitgewer hoofbrekens te besorg – voordat ek besef het dit stink.

1. ’n Laerskoolseun vlug vir boelies, val van sy fiets af en kap sy kop baie hard. Toe hy wakker word, is hy in ’n vreemde land waar ’n pratende hoender hom probeer oortuig hy is die legendariese Draakslagter wat gekom het om die koninkryk van ’n vreesaanjaende RAAI NET WAT te red. Die manuskrip se naam was Die Draakslagter wat chicken was. Lekker titel. Crap storie.

2. ’n Alfabetboek met rympies oor groente en vrugte. (My uitgewer het gelukkig hierdie uiters opwindende idee heel diplomaties van die tafel gevee nog voor ek by “B vir broccoli” kom uitkom.)

3. ’n Ystervark-seuntjie vra vir sy ystervark-mamma wat “liefde” beteken. Hulle gaan op ’n ontdekkingstog deur die veld om maniere te kry om te verduidelik wat liefde beteken. Ek is doodskaam om te sê die eerste (en enigste) weergawe van die manuskrip bevat die sin: (E)k dink liefde lyk en ruik en proe soos ’n spierwit gousblom. My enigste verontskuldiging is die feit dat ek regtig nog baie nat agter die ore was toe ek dit geskryf het. (En dit het ook nie gehelp dat ek destyds pas gelees het hoeveel eksemplare van Guess how much I love you wêreldwyd verkoop is nie. Dit wys jou net, as jy agter geld aan begin skryf, smaak liefde later vir jou soos ’n gousblom.)

4. Vertaal en herskryf Pinocchio vir ’n nuwe generasie Afrikaanse lesertjies! Fantasties! Briljant! Kom ons spring dadelik weg! *Kry oorspronklike teks in die hande en raak aan die slaap van verveling nog voor jy by die deel kom waar Gepetto die houtpop begin maak.* #ProjekGestaak

5. ’n Boek met die titel Moenie hierdie boek eet nie. Fantasties! Briljant! Kom ons spring dadelik weg! *Sien op Google daar’s reeds ’n boek getiteld Don’t eat this book.* #ProjekGestaak

Nou ja, soos hulle in Engels sê: Some you win, some you lose. En solank die Muse aanhou om idees in jou oor te fluister, moet jy haar maar vergewe vir die kere wat sy jou ’n poets of twee bak.